Buitelug

Omgewingsorg

Genesis 2:15 “Die Here het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas”. So is dit ook elke Christen en Gemeente se verantwoordelikheid om toe te sien dat die Omgewing opgepas word.

Dit beteken onder andere dat ons dit sal skoon hou van alle vorme van rommel  wat dit kan ontsier en bederf. Vishoek Gemeente het die verantwoordelikheid aanvaar om die spoorlyn, vanaf Vishoek tot Sunny Cove Stasie, skoon te hou deur op ‘n gereelde basis die Rommel op te tel.

IMG_4627

Dit gebeur gewoonlik op ‘n Saterdag oggend tussen 09:00 en 11:00, soos vooraf gereël met Metro.

Daar daag gewoonlik tussen 6-10 lidmate op wat ‘n passie vir ‘n skoon omgewing het en nie omgee om hulle hande letterlik “vuil” te maak nie. Kom sluit gerus by ons aan.

IMG_4609

Groen Oudit

Aardverwarming is nie net meer ‘n gewilde cliché nie. Daar is al hoe meer bewyse dat dit ‘n harde feitlike, werklikheid is.

Die “Groen Oudit” konsep help lidmate om deur die implimentering van eenvoudige maatreëls en beginsels ‘n bydrae te lewer tot ‘n meer eko-vriendelike omgewing. Deur klein haalbare veranderinge in en om die huis aan te bring kan noemenswaardige besparings te weeg gebring word.

LED gloeilampies, tydskakelaars op waterverwarmingstelsels en sonverhitting ens. kan help om tot 50% besparing op kragverbruik te verkry. Ons begelei en help lidmate graag om so ‘n oudit by hulle huise te kom doen en om sekere beginsels vir besparing te implimenteer.

 

Natuurbewaring

Die N.G. Gemeente in Vishoek is aan die voet van die Elsiespiek geleë. Die feit dat die Tafelberg Nasionale Park nie genoeg fondse of bemanning het om alle staproetes in stand te hou nie, het tot gevolg gehad dat die instandhouding van staproetes op Elsiespiek agterweë gebly het. Daar was ‘n behoefte om hierdie staproetes weer op standaard te bring deur die dreineringslote oop te maak, oopsnoeiwerk te doen waar nodig, om onwettige paadjies en dubbelpaadjies toe te maak en daarna op ‘n gereelde basis roetine instandhoudingwerk te doen. Na gesprekke met beamptes van die Tafelberg Nasionale Park het die gemeente se Eko-bediening verantwoordelikheid vir die instandhouding van die ongeveer 8 km. staproetes op Elsiespiek aanvaar en word instandhouding tans op ’n gereelde basis gedoen.
Onderhandelinge rakende verantwoordelikheid vir die uitroei van indringerplante op ‘n gedeelte van Elsiespiek is deur die onlangse brande in die gebied in die wiele gery, maar sal mettertyd met beamptes van die Park uitgeklaar word.

 

Visvoete Stapklub

Vishoek gemeente is sekerlik in een van die wonderlikste gedeeltes van God se skepping geleë en word aan beide die noordelike  en suidelike kant deur die Tafelberg Nasionale Park begrens, met bergreekse ten noorde tot by Tafelberg en ten suide die Elsiespiek en die bergreeks wat verder suid tot by Kaappunt strek.   In die ooste word die gemeente begrens deur Valsbaai en aan die westekant deur Tafelbaai.   Voorwaar ‘n unieke gemeente met honderde kilometer staproetes wat van binne ons gemeente grense oor die hele suid-skiereiland strek.   Verseker ‘n voetslaanparadys en enige natuurliefhebber se droom.

Die liewe Vader het dit alles geskep vir sy kinders om te geniet en daarom het die stapklub in Desember 2008 tot stand gekom om al die stappers in staat te stel om die wonders van hierdie paradys te geniet.   Staproetes is egter nie net tot hierdie deel van die skepping beperk nie en die klub het reeds oor die afgelope sewe jaar meer as 100 staproetes met ‘n totale afstand van 2000 km. plus tot so ver as die Richtersveld agter die rug.   Voor elke staptog word in gebed gepleit om God se beskerming en na afloop van die staptog word opreg dankie gesê.   Tydens meerdaagse stappe word oggend- en aandgodsdiens gehou en ons het ook al by ‘n paar geleenthede die Nagmaal op ‘n staptog gevier.   In sy wonderlike goedheid het God getrou sy beskermde hand van liefde oor ons gehou en tydens al hierdie staptogte was daar, behalwe vir ‘n paar minder ernstige skrapies en seer spiere, geen ernstiger beserings nie.

Presiese statistiek van die afstand wat elke klublid gestap het word bygehou, terwyl fotos van elke staptog ook gesien kan word deur op die skakel hieronder te kliek.   Besonderhede rakende die betekenis van die embleem van die stapklub kan ook in die toeligting hieronder gesien word.   Lidmaatskap van die klub is nie net tot lidmate van die gemeente beperk nie en enigiemand is welkom om saam te stap, maar net daardie persone wat die waardes van die klub onderskryf word toegelaat om die embleem van die klub te dra.

 

Gaan Besoek gerus die Visvoete se eie webwerf by: http://visvoete.wixsite.com/visvoete vir fotos, tydskedules en nog meer.