Musiekbediening

 

Koor

Dona, nobis, pacem

(Gee ons vrede)

 

Riëtte Heslinga

 

Elke keer wanneer Johan praat van ‘n oorwurm voel ek hoe ‘n grillerige gogga met knypers in my kop boor!  Maar dit ίs ‘n term in musiekteorie.  ‘n Oorwurm is  ‘n deuntjie wat in jou kop bly draai; dwarsdeur die dag en dwarsdeur die nag.  Dona…nobis…pacem.

 

“Sing vir jouself in die spieël” is Johan se opdrag.  Geen ydelheid dááraan nie.  Die klanke moet mooi gevorm word.  

 

Die koor is in 2001 gestig met 15 begeesterde lede.  Teen 32 sterk sien ons kans vir “Die Halelluja” van Handel.  Ander uitdagende stukke wat ons aanpak is “Locus Iste” van Bruckner en “Ave Verum Corpus” van Mozart.  Ons sluit ‘n era saam met Johan af wanneer ons DV Sondag, 15 Mei, Vivaldi se “Gloria” gaan sing.

Elke jaar voer ons vier uiteenlopende liedere by die Kerssangdiens op.  Met ‘n gemeentekonsert spring ons uit ons kassies: “Oklahoma, OK!”

 

Huidiglik is daar 20 mense in die koor.  Min bedank nadat hulle die saamwees ervaar het maar helaas, die lewe gebeur.  Mense trek weg of verhuis na die Hemelse Vader.  So het ons met baie hartseer oom Jack, tannie Hannah, Gerrit en Jock vir altyd gegroet.

 

As jy nootvas is en jou stem met ander harmonieer; kom sluit by ons aan.  Ons het net een tenoor!

 

Maandagaande word daar nie net geoefen nie.  Ons gesels, vertel stories, maak grappies, wys foto’s en deel vrese en kommer.  Ons het Callie se dogter, Vasti, dwarsoor die Atlantiese Oseaan gebid.  Sy en haar avonturier vriend het die tog sonder enige ondersteuning in ‘n 6,9 meter roeiboot aangepak!

 

Vannag bêre jy die laaste note onder jou kopkussing:  “Let there be peace on earth and let it begin with me.”