Noord van ons hart gebeur ’n wonderlike brein

Dit is ongeveer ’n driekwart vierkante meter groot as ons dit sou ooprol. Ons brein gebruik die ekwivalent van enigiets tussen 12 tot 23 watt se krag volgens navorsers. Tot soveel as 20% van ons liggaam se energie word trouens hier verbruik. Een geleerde bereken dat indien ’n rekenaar dieselfde aantal verwerkings moes doen wat ons brein daagliks doen, dan sou dit 40 miljoen keer meer energie hiervoor benodig. Pierce Howard, ’n bekende brein–navorser, bereken die brein beskik oor ’n kapasiteit van 2.8 × 1020, oftewel, die vermoë om tien miljoen boeke van sowat ’n duisend bladsye elk aktief te stoor.

Hoe wonderbaarlik het God ons nie geskep nie! Ons vertel graag dat ons God se handewerk orals in die skepping raaksien. Dit is ook reg so. Maar ons sien te min kere raak hoe aangrypend God ons elkeen aanmekaar geweef het, soos wat Psalm 139 sê. Ons brein is ’n unieke kunswerk sonder weerga. Ons moet dit gedurig tot God se eer gebruik. In Paulus se woorde in Kolossense 3:2 moet ons ons gedagtes aanhoudend rig op die dinge daarbo, waar Christus is. Ook moet ons toelaat dat God ons denke vernuwe sodat ons sy wil kan ken, soos wat Romeine 12:2 van ons vra. Die goeie nuus, wat brein–navorsers eers die afgelope klompie jare agtergekom het is dat ons brein plasties is; dit kan aanhoudend groei en verander. Kom ons gryp dus hierdie kans van ’n leeftyd aan en laat ons kop vandag Godwaarts groei.

Bron:ekerk.org

Leave a Reply

Your email address will not be published.