A2J Uitreik: Sutherland 23-25 Junie 2012

Saterdag

‘n Saal vol klere, pryse, boumeteriaal, kos van die een skool, skoene van ‘n ander.  Musse, serpe, gebreide poppies.  Vanjaar is werklik ‘n gemeenskapsuitreik met soveel mense wat hulle harte oopgemaak het.  Danksy mense wat gehelp het met ‘n ekstra trokkie en sleepwaens is nie net alles in die saal nie, maar ook A2J op pad Sutherland toe.

Leiers en jeug van Valhallapark gemeente van Pretoria is vanjaar deel van A2J se span.  Nuwe gesigte en ook nog gawes en talente.

Sonder te veel probleme – ‘n motor se sleepwaentjie wat afgehaak het in Stellenbosch en die trokkie wat net-net oorgewig was – albei gou uitgesorteer – het ons vroegaand in Sutherland aangekom.  Afpak en inrig.

Die aand word afgesluit met elkeen wat sy uitreik top, serp en gebreide mus (baie smart en warm) ontvang.


Sondag

Dit is nog nie bibberkoud nie, maar ‘n motreëntjie begroet ons dag.  Beslis koud genoeg.  Van die meisies het deur die nag besluit, “Nee, wat – twee op een bed is beknop, maar beslis warmer.”

Die oggend woon ons die NG en VGK dienste by.  “Spirit Buddy” kom kuier in die gemeente en laat almal ‘n bietjie bene strek en onthou wat die evangelie is.

Middag se kant is ons ouetehuis besoek.  Twee van die kinders het spesiaal voor die tyd ‘n teksvers gesoek en ‘n gebed neergeskryf sodat hulle sal weet wat om te sê by die ooms en tannies.  Die een tannie vertel, “Toe ek jonk was, wou ek nie Die Bybel lees nie.  Nou dat ek oud is, wil ek, maar ek kan nie meer nie.”  Vir baie van die mense is ‘n besoek van die familie 2 keer ‘n jaar al besoeke wat hulle kry.

Die aand is ‘n lofprysingsaand saam met die VGK.  Die gemeente het gevoel dis nie net A2J wat kom om lof te bring nie, maar 4 sanggroepe het gehelp om dit ‘n gesamentlike lofprysingsaand is.  Daarna kon mense kom om met saam met A2J te bid.

“Hulle is so positief: hulle het so min en hulle probleme is so groot, maar hulle is steeds positief; het steeds hoop.  En ons kla oor huswerk doen.”


Maandag

Ons eerste lessies oggend.  Eers is al die kinders genooi om saam met die bus te ry na die saaltjie waar ons werk vir die week (by Sneeuvlokkie).  Met die reën was dit behoorlik ‘n modder storie.

Ongeveer 260 kinders het die oggend ingekleur en sop en broodjies gekry.  Van die kinders se ouers praat glad nie met hulle oor geloof en Christus nie.  Doen ons dit?

Die middag is poppekas en sport.  A2J het hulle goed van hul taak gekwyt.  ‘n Arme spanlid moes ongelukkig in die stof byt toe vuil spel hom mmm – tref!

Deur die dag is die volwasse span ook betrokke by die ouetehuis en is daar verder pakkies kos en musse / serpe afgelewer by huise.  Een huis het ons gesê ons sal terug kom as die ma nugter is.  Die seuntjie met FAS (fitale alkohol sindroom) hardloop na die tyd uit om te sê, “Gaan na daardie huis toe.

Hulle drink nie daar nie.”

‘n Ander huis is hulle op die oomblik net verseker vir kos elke 8ste dag, want daar is nie geld vir meer nie.

Die aand is pizza kompetisie gehou en is afgesluit met ‘n geestelike aand en getuienis.

Instandhoudingspan

Die instandhoudingspan het eers begin om die geyser reg te maak nadat die seuns se geyser gebars het die Sondagaand.  Volgende keer meer oor wat hulle doen.

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. Verhoudings – vir die onderlinge vriendskappe in A2J waar vriende soms seerder maak as vreemdelinge.  Vir die groepies wat saam met Sutherland se kinders werk.
  2. Dankie dat die twee gemeentes se spanne so goed bymekaar ingeskakel het en bymekaar leer.  Bid dat ons ook verder so sal groei.
  3. Vir wysheid vir die leierspan in die span en met die reëlings self.
  4. Vir gesondheid – ons het een slegte snyplek gehad en ‘n paar met ‘n hoes wat al van voor die uitreik af kom.  Bid dat almal gou sal herstel en ons gesond sal bly met die warm word van rondhardloop terwyl dit koud is.
  5. Vir goeie weer.  Die reën maak dat dit nie so koud is nie, maar dit is nie moontlik om buite te werk met die groepe nie.
  6. Vir A2J.  Dat hulle steeds die boodskap sal oordra.
  7. Dankie vir hoe die Here sy kinders en ons kinders in Sy hand hou terwyl hulle groot word en groei.  Vir genade.
  8. Dat God in ons en Sutherland se kinders ‘n ewige verskil sal maak.
  9. Vir môreaand se “Sutherland Talentaand” – dat dit vlot sal verloop.

Dankie vir julle gebede.

Groete,

Johann Gerber

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.