As Christenskap maklik was

Ek wens soms ek kan so ‘n “before” and “after” prentjie van myself teken, waar die “before” totaal onherkenbaar is van die “after”. Jy ken mos die advertensies van die velroompies of die gewigsverliespilletjies – jy kan nie glo dis dieselfde mens nie!
 

Is Christenskap vir jou altyd maklik, of stoei jy ook so bietjie soos ek? En weet jy wat die ergste is? Ek het geen rede om so te sukkel nie, want bykans alles in my lewe is net gladde waters, “plain sailing” soos hulle sê.
 

As Christenskap maklik was, sou ek roekeloos geglo het. Nie dat ek NIE glo nie, inteendeel, maar dan sou ek nie soms geestelike dinge in twyfel getrek het nie. Ek sou (verskoon my as dit dalk verkeerd klink…) alles vir soetkoek opgeëet het. Ek sou dalk elke ding wat ‘n ander Christen glo, net so vir myself gevat en ook geglo het. Maar nou is ek ‘n kritiese gelowige.

As Christenskap maklik was, sou ek nooit getwyfel het nie. Ek twyfel verseker nie aan die bestaan van God nie, en ek twyfel hoegenaamd nie in die Bybel nie, maar daar is baie dinge waaroor ek soms wonder, wat nie vir my sin maak nie – miskien omdat ek té hard probeer verstaan.
 

As Christenskap maklik was, sou ek my verbly in swaarkry. Die Here sê dan swaarkry kweek volharding en egtheid van geloof. Maar dis nie so maklik nie, anders sou ek mos kon sê: Here, skuif nog meer smart en moeilikheid oor op my skouers. Dit sou eintlik so gevoel van genoegdoening gee, want dit sou beteken dat die Here meer op my fokus en meer aandag aan my gee.

As  Christenskap maklik was, sou ek nooit bekommerd wees nie. “Goeie” Christene sê dis sonde om jou te bekommer, want dit beteken jy twyfel dat God die beste weet. Ons weet tog immers dat Hy geen las sal toelaat wat te groot is vir my om te dra nie, Hy sal mos alles ten goede laat meewerk… maar tog is ek dikwels bekommerd, en wens ek Christenskap was net maklik.

As Christenskap maklik was, sou ek alles gelate kon aanvaar. Ek sou nie nodig gehad het om oor geestelike sake te wonder en te tob nie. Ek sou kon sê: laat Gods water oor Gods akker loop, alles sal net weer regkom, sommer vanself; alles is deel van ‘n groter plan, alles is in God se beheer, die Here weet wat Hy doen. Maar ek sukkel daarmee, dis nie vir my maklik nie.

As Christenskap maklik was, sou ek nooit teleurgesteld gewees het nie. Het jy al iemand aan die dood afgestaan? Ten spyte daarvan dat jy lank gebid het, profesieë oor daardie persoon uitgespreek is en skrifgedeeltes die genesing bevestig het, het die persoon tog gesterf. Het jy al die teleurstelling ervaar van afdanking by jou werk, van ‘n huweliksmaat wat uitgestap het, van ‘n kind wat in dwelms verval het, van ‘n siekte wat jou onverwags tref? Dis in sulke tye dat Christenskap moeilik word.
 

As Christenskap maklik was, sou ek onvoorwaardelik kon liefhê. Dis maklik om vir my vriende en familie lief te wees. Ek ken die opdragte van die Bybel goed, maar tog is ek nie lief vir Mugabe nie, en vir baie van ons eie leiers ook nie. Ook nie vir die gewapende rowers wat ons ‘n paar jaar gelede in ons huis aangeval het nie. As ek hierdie mense in ‘n weegskaal moes sit met liefhê aan die een kant en haat aan die ander kant, weet ek na watter kant die skaal sou gaan.
 

As Christenskap maklik was sou ek nie so gesukkel het met sonde, met verkeerde gedagtes, verkeerde besluite, verkeerde woorde nie…..
 

Ek kan vandag sê Christenskap is nie vir my maklik nie. Maar, wil ek dit regtig anders hê? Ek dink nie so nie, want dit is juis in tye van worsteling dat ek God se soewereiniteit leer aanvaar het. Dis is sulke tye dat ek besef het dat God bokant my begrip is. Dis in sulke tye dat ek besef het God reageer nie op my gesukkel deur weg te raak en Homself te onttrek nie. Dis in sulke tye dat ek besef God is wie Hy sê Hy is, en doen wat Hy sê Hy sal doen, dat Hy absoluut betroubaar en standvastig is. Waar mense ontydig afgesterf het, het die Here vertroosting gebring. Waar bekommernis my wou oorweldig, het die donker wolk weer gelig en het dit waaroor ek bekommer het, dikwels nie eers gebeur nie. In tye van twyfel, het die lig weer vir my aangegaan en God het Homself op ‘n wonderbaarlike manier kom openbaar. Die wonderlikste van alles is dat die Heilige Gees harder in my werk, meer van my besit neem in die tye wanneer ek dit nodig het.
 

Christenskap is nie maklik nie, maar dis beslis vervullend. Dis die beste wat ek het; ek wil niks meer hê nie. Môre gaan ek dalk weer twyfel en bekommer, maar oormôre gaan ek weer terug kyk en sê: wow!

Intussen hou ek vas:

PSALMS 13:6
Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

PSALMS 119:31
Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe ‘n teleurstelling word nie.

SPREUKE 3:1
My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf

SPREUKE 4:13
Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe.

SPREUKE 6:20
My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie.

ROMEINE 12:9
Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.

2 TESSALONISENSE 2:15
Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.

1 TIMOTEUS 1:19
Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.

DIE OPENBARING 3:11
Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

Bron:  heuning.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Leave a Reply

Your email address will not be published.