Bitterheid

En toe doen sy wat so baie mense wat bitterheid koester, vandag ook doen – hulle smoor ander mense se opregte bedoelings en entoesiame met bitter opmerkings soos dié van Naomi: “Hierop het Naomi vir hulle gesê: ‘Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak.(v20)
 

Hierdie reaksie op verlies is so tipies mens. Wanneer dinge verkeerd loop in ons lewens is ons gou om die skuld op God of mense te pak, maar ons soek selde die oorsaak by onsself of in die keuses wat ons maak. Die gevolg? Bitterheid. Natuurlik gebeur daar ook dinge met ons wat nie toe te skryf is aan ons optrede nie en waarvoor ons nie noodwendig ’n antwoord het nie, want ons woon in ’n gebroke wêreld. Ons kan egter besluit of ons in bitterheid gaan verval en of ons gaan glo dat
”…vir hulle wat God liefhet, alles te goede meewerk.” (Rom 8:28).
 

InNaomi se geval kry sy ’n skoondogter wat haar, haar God en haar land liewer het as wat sy eie haar gode, land en mense het. Rut gee ook vir haar later ’n kleinkind (Obed), die oupa van Dawid – gesalfde koning, uitmuntende soldaat, digter en man na God se hart.

Paulus waarsku teen bitterheid: “Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.”(Hebr 12:15).Naomi het sonder dat sy hierdie Skrifgedeelte geken het, dit op haar lewe van toepassing gemaak. Sy het ontslae geraak van haar onvergewensgesinde en verbitterde hart. Sy het gekies om vertroos te word, gesond te word en te vergeet.

As bitterheid jou vashou in ’n tronk met snytralies, vergewe die een wat jou kwaad aangedoen het en word ’n vry mens wat die wonderwerke wat God in jou lewe wil doen, kan omhels.

Gebed: Hemelse Vader ek kies vandag om te vergewe en om bevry te word van my selfkettings. Ek erken dat U selfs in hierdie bitter tyd van my lewe by my was, maar dat ek nie in staat was om U te herken nie. Dankie dat ek met U hulp vry gaan wees en vry gaan bly. Amen.

Bron:  versndag.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.