Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is


Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink…

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.

Bron:  http://doomcharl.blogspot.com/

Om voor te gee is uitputtend!


Maar, om voor te gee is uitputtend. En dit is ook ’n leuen.

As ek myself met ander mense vergelyk en myself aan hulle standaarde meet, gaan ek altyd te kort skiet. Daar gaan altyd iemand wees wat ouliker en meer suksesvol is as ek. Ek is egter nie die somtotaal van my omstandighede, suksesse of mislukkings nie. Of die kar wat ek ry of die woonbuurt waarin ek bly nie. Ek word nie gedefinieer deur wat ander van my sê, die etikette wat hulle om my nek hang óf deur my gevoelens nie.

Dis baie meer waardevol om my identiteit in Christus te ontdek deur ’n studie te gaan maak van wat die Bybel oor my sê – en dit begin glo.

Ek is vir God so belangrik dat Hy sy Seun gegee het om vir my sonde te sterf, my vry te koop van die mag van sonde – sodat ek die ewige lewe kan hê. Wanneer ek Hom aanneem, gee Hy my sy Gees, wat soos strome lewende water uit my binneste sal vloei. Sy Gees leer my om te bid, lei my in die volle waarheid en vul my met krag en liefde en selfbeheersing. In Hom het ek alles wat nodig is om Sy wil te doen. Hy gee vir my wysheid en insig – selfs méér as wat geleerde mense het.

Wanneer ek weer in ’n geselskap is waar ek voel ek is nie goed genoeg nie, hoef ek God nie so ’n bietjie te help om my goed te laat lyk nie – ek kan met vertroue my plek in die samelewing inneem, want ek is ’n kind van die Koning van die konings.

“This “identity issue” is an important part of living the abundant life. Jesus was able to face the incredible demands of his mission because he knew exactly who he was. He knew that he mattered to God, and that gave him confidence to move purposefully in faith.”
— Rick Warren

bron: ekerk.org

Pak jou kaste reg

Eintlik is dit dieselfde in ons Geestelike lewens. Ek kan dink aan ‘n paar goed wat oud raak en plek opneem, waar ons denke vassteek en afgestomp word, of ons weier om nuut te dink, en ons hou vas aan ideologieë en konsepte en ons sê net eenvoudig: “Dis hoe my pa my geleer het en basta!” Maar ek het besef ons moet dalk ons Geestelike kaste ook so bietjie reg pak en dalk aanbeweeg. Jy sien, as jy ‘n kas reg pak, weet jy weer waar alles is, dinge word nuut ge-orden. ’n Paar ou goed word uitgegooi en daar is weer plek vir nuwe goed. Soms moet mens aanbeweeg in dinge waaraan jy vroeër vasgehou het, maar soms moet jy dalk weer terugkeer na wat werklik goed en waar en reg is.

Die kern van die Evangelie, die dinge wat gaan oor ons redding, sal altyd vas staan. Jesus se maagdelike geboorte, Sy kruisdood, Sy opstanding en Sy hemelvaart, ons redding deur geloof, staan altyd sentraal en vas. Maar ons Godsdiens beoefening is ‘n ander storie, want godsdiens kan nogal gevaarlik wees. En dis daardie kas wat ons dalk soms moet reg pak.

Rom.  12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Inderdaad ‘n hele mondvol! Jy sien, met tyd – dink ek – het die mens meer en meer van genade begin verstaan, die feit dat Jesus gesterf het vir ons sondes, juis omdat ons nie die vermoë het om om skoon te leef nie. Genade wat so onbeskryflik groot is, dat niks ons uit God se hand kan ruk nie, en dat die duiwel finaal oorwin en verslaan is. Dis natuurlik waar, 100% waar, maar dis nie al wat waar is nie. As ons hierdie kas van Rom. 12 bietjie uitpak en reg pak, sal ons agterkom dat genade nie God se wil vir ons vir ‘n skoon lewe oorskadu nie. In die eerste plek wil die Here steeds hê dat ons nie aan die sondige wêreld gelyk sal word nie, maar dat ons Hom sal toelaat om ons denke te vernuwe, sodat ons kan onderskei wat die wil van God is en dat ons sal doen wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  In ons jong dae het ons ‘n dominee daar in die Moot gehad wat net verdoemenis gepreek het, en in die proses het hy dikwels die kansel kaalhand probeer vermorsel. Dit het in vandag se tyd plek gemaak van ‘n kansel wat drup van die stroop van genade. Punt is, albei kante is reg. Genade is verniet, maar verseker nie “cheap” nie!

Kom ons pak die kaste verder reg. Weet jy wat gebeur nog in ons Geestelike kaste? Ons laat toe dat ander mense goed in ons kaste kom inpak. Soms heeltemal ongevraag, soms word ons gestoomroller, soms heeltemal oordonder, en dan juis met woorde soos: “Dit staan alles in die Bybel!” Hierdie mense kom hamer op skuldgevoelens en vrees, en pak jou kaste vol goed wat jy nie daarin wil hê nie en gooi in die proses goeie goed uit. Dit sit ondraaglike laste op mense, saai verwarring en bring skeuring en konflik tussen mense.

Daar is bv. ‘n beweging wat sê jy mag nie ‘n kruis in jou huis of in jou kerk hê nie, want die kruis is ‘n vloekhout. Toe sien ek ‘n video op YouTube van Neville Norden (vir wie ek baie respek het) met die naam “Die duiwel in jou huis” en hy slaan hierdie ideologie summier plat in die grond in. Jy sien, ek besluit self wie goed in my Geestelike kas kom pak, ek vra vir die Here vir leiding daaroor, ek lees wat die Woord sê (in konteks natuurlik!) voordat ek net op ‘n wa spring. En ja, ek luister verseker na mentors, en ek maak graag vir my goeie mentors bymekaar, maar dis mentors wat ‘n lang en intieme verhouding met God het, wat vol wysheid en insig is en wat ‘n groot verskil in die wêreld gemaak het. Hulle kan maar kom pak en krap in my kaste. Maar nie sommer enigiemand wat kwansuis ‘n “nuwe” openbaring het wat g’n ander mens nog ooit van gehoor het nie. Ek hoor jy mag deesdae ook nie meer ‘n hartjie in jou huis hê nie. Goeiste!

Soos wat ek ouer geword het, het die impak wat my ouers op my lewe gehad het net meer en meer en dieper op my lewe ingewerk. As jy self ‘n ouer is, verstaan jy ook jou ouers se motiewe beter en wat hulle waardestelsel en geloofswortels gevorm het, en ook hoe hulle hulle godsdiens beoefen het. Met tyd moes ek egter ook van daardie goed uit my Geestelike kas pak en my gedagtes daaroor heroorweeg, daaroor besin en nuut daaroor dink. Eers toe ek sonder skuldgevoelens daaroor kon dink, het ek vrede gekry en kon ek met nuwe oë na alles kyk en aanbeweeg. Verandering en vernuwende denke kon dus plaasvind sonder om van die basiese fondasie af weg te beweeg. En my kinders? Hulle is klaar nie meer in dieselfde boksie as ek nie en hulle dink ook weer nuut en vars, want hulle hou nie noodwendig van die manier wat my Geestelike kas gepak is nie.

Ek het besef dat dit wat ek in my Geestelike kas toelaat, nie dieselfde is as ander nie, en dan begin ek mense veroordeel, beoordeel en sommer verdoem in die proses. Ek moes nuut leer dink oor baie dinge, soos die doop, die skeppings verhaal, watter Bybel vertaling die regte een is, hoe die Sabbat onderhou moet word, kerkbywoning en ‘n rits ander goed.

Maar, die basis van my geloof in Jesus Christus staan vas en dis nie debatteerbaar nie. Kom ons pak bietjie ons Geestelike kaste weer ‘n slag reg en aanvaar dat almal nie hulle kaste op dieselfde manier pak nie. Solank daardie kas net van kruishout gemaak is. Dis DIE belangrikste!

Bron:  heuning.co.za

Siel-skildery


Of dink jy jou siel sal ’n eentonige toneel wees waaroor ander so half verveeld tuur omdat die paar hooplose murasies die verhaal van selfbejammering en moedeloosheid vertel? Wens jy dalk heimlik dat die skilder oornag elke stukkie van jou lewe met sy helder paletkleure kan oorverf?

Die goeie nuus is dat ons wat kinders van God is, die volmaakte Skilder-van-Hoop aan ons kant het! Daarom maak dit nie saak hoe die skilderdoek van ons lewens gister en vandag lyk nie. Hy kán en wil dit in ’n vreugdetoneel verander. Hy wil elke deel van ons lewens elke dag met sy genade núút verf. Hy wil die hartseerprentjies in vreugdetonele omskep; die moedelose vlaktes in hoop; die dorre woestyndele van ons harte wil Hy met sy liefdesreën deurnat en aan die einde van ons lewe … wil Hy ’n multikleurige ewigheidsreënboog skilder. Al wat ek en jy moet doen, is om elke oggend die verfkwas van ons lewens vir God te gee.

Dit maak nie saak hoe jou sielsprentjie vandag lyk nie, jou Vader wil:

  • graag sy vrede soos sagte blou lug in jou hart verf;

  • sy vergifnis soos spierwit bol-wolke oor jou lewe vorm;

  • jou vrouwees met spatsels helder vreugde ophelder; en

  • lieflike skadukolle-van-rus in jou siel bring.


En dan — voordat Hy sy raam-van-genade om jou sit — wil Hy eers sý Naam onderaan aan jou lewe teken om daarmee te sê: Ek het jou gemaak. Jy is myne!

Vertrou God om jou wêreld in ’n kosbare kunswerk te omskep! En onthou, vertroue is, soos Richard Forster skryf, wanneer jy dit kan regkry om te sê: “Ek verstaan nie wat God doen nie, ek weet nie waar God is nie, maar ek weet dat Hy die beste vir my wil.“

Meesterskilder, dankie vir die prentjie van my lewe. Dankie vir elke onvergeetlike toneel- van- vreugde, elke vrede-vervullende oomblik en elke sonsopkoms-van-hoop. Neem my lewe, Heer en laat dit elke dag meer wees soos U vir my begeer.

Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM

Bron: ekerk

Die skatkamer van jou siel

Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei… Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Kolossense 2:7a, 10a

Ons praat dikwels oor ons sielservarings: Daardie onbeskryflike oomblikke wanneer iets spesiaals jou diepste wese roer, of wanneer jy ’n heerlike hartslekkerte beleef wat net té groot is om in woorde uit te druk. Maar, wat is dié siel en hoe kan jy jou siel verryk?

Jy is ’n geestelike wese met ’n uitsonderlik-spesiale siel wat binne-in jou kunstig-geskape liggaam leef. Daarom is jou denke, emosies, bewussyn en jou geestelike ervarings – soos jou uiterlike – uniek. En soos jou liggaam versorging, voedsel en oefening nodig het om gesond en sterk te bly, so het jou siel ook behoefte aan sorg en aandag.

Nou weet ons ook dat die wêreld wat deur ons mensdom geskep is, hoofsaaklik daarop ingestel is om ons liggaamlike en fisieke te versorg en te verbeter en ons materiële besittings te vermeerder. Min word gedoen om ons diepste wese te voed. Dís waarom ons so dikwels – ongeag ons aardse rykdom – brandarm van binne voel. Tóg moet ons onthou dat die versorging en koestering van ons diepste wese net ons eie verantwoordelikheid is. Jy sal slegs standhoudende en ware vervulling beleef as jy jou siel gereeld met toewyding vertroetel.

  • Plaas jouself daagliks onvoorwaardelik in die hande van jou lewende God. Jy sal vind dat sy verwelkomende en gerusstellende liefde jou siel met ’n diep gevoel van vreugde-vrede vul.

  • Vra God om jou vry te maak van wêreld-slawebande wat jou sielsvryheid steel. Bid dat jy die onderskeidingsvermoë sal hê om te weet wat wérklik belangrik is.

  • Soek die stem van jou Vader gereeld op. Die geraas en gewoel van die lewe versmoor dikwels jou siel. Skep gereeld asem in die simfonie van stilte.

  • Fokus op die onteenseglike leiding van die Heilige Gees. Gehoorsaam Hom en bid dat jy onverpoos binne sy wil sal leef.

Net die Gees van God kan vir ons ware sielevrede, sielerus en sielsvervulling gee. Besluit vandag om meer kwaliteittyd aan die skatkamer van jou siel te spandeer. Dis hemelse rykdom wat vir altyd hou.

Gees van lewe, vergewe my dat ek so dikwels my wese, my menswees … my siel verwaarloos. Help my om die stilte van ons saamwees te koester sodat ek die heerlike klanke van u stem sal hoor, u vrede in my hart sal voel en in u liefde my lewenslied sal sing.

Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM