Jou 24/7 Metgesel

Maar eers verduidelik Hy vir hulle die betekenis van sy dood en opstanding, want om die boodskap aan ander oor te vertel, moet hulle verstaan dat God se doel en plan deur Jesus gerealiseer is, maar dat Hy hierdie plan déúr hulle aan alle mense bekend wil maak. En daarvoor sou hulle bonatuurlik toegerus moet word.

Ek en jy kan nie die vrede waarmee Hy hulle gegroet het in hierdie stukkende en deurmekaar wêreld beleef as die Heilige Gees ons nie krag gee nie. Laat staan nog vir ander daarvan vertel! Net soos die dissipels vrees ons ook dikwels, twyfel ons aan sy woorde en beloftes, sukkel ons om in Hom te glo en verstaan en sien ons nie die voorhandliggende raak nie. Ons het daagliks nodig dat Hy ons oë oopmaak vir herkenning en vir die verstaan wie Hy werklik is.

Daarom is ons “bly totdat ons met krag aangedoen is” nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar ‘n voortdurende afhanklikheid van Hom om ons in elke omstandigheid met krag aan te doen. In praktyk beteken dit dat ek en jy in ‘n aktiewe, lewende verhouding met Hom moet staan en nie meer op ons eie (onvolmaakte) vermoëns en (gebrekkige) insigte sal staatmaak nie. Sy krag is immers van bo en ken geen perke nie.

Gebed: Vader,dankie dat ek nie alleen my lewe hoef te lei of alleen dinge hoef aan te pak nie, maar dat U die Heilige Gees gestuur het om my te bekragtig om tot U eer te leef en om ander op effektiewe manier van U te vertel. Weerhou my daarvan om enigiets in my eie krag te probeer doen.

Amen.

Bron:  versndag.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.