‘Keer terug na God se waardes

’n Mens sien nou dinge gebeur wat jy nie ’n geslag gelede sou gedink moontlik is nie, het Burger gesê.

Hulle moet sê: ‘Here, ek gaan nie my garsland vir die Filistyne gee nie. Ek gaan terug na my vrou toe’

Verdraagsaamheid en politieke korrektheid het die belangrikste woorde geword.

Burger het verwys na Openbaring 2, waarin gelowiges geprys word omdat hulle nie slegte mense kan verdra nie, en bygevoeg daar word vandag van mense verwag om aanhoudend tegemoetkomend en verdraagsaam te wees.

In ’n mate moet dit so wees, maar daar kom ook ’n punt waar ’n mens moet vasstaan en moet verdedig wat God vir jou gee.

Hy het gesê die land is besig om te beweeg in ’n rigting waarop konflik tussen die staat en die kerk, tussen die Grondwet en die Bybel, onvermydelik is.

Hy het egter nie daaroor uitgewei nie.

Hy het die byna 3 000 mans wat die konferensie bygewoon het onder meer gemaan teen hebsug, geldgierigheid en verbruikersdruk, wat mense laat wegdryf van God af.

Hy het gesê dit gaan sleg met huwelike.

In die huidige era is dit makliker om iets te vervang as om dit reg te maak. Mense doen dit met hul huwelike ook.

Hy het die mans na aanleiding van die voorbeeld van Eleasar, wat volgens 1 Kronieke 11 manalleen ’n garsland teen die Filistyne verdedig het, aangemoedig om hul garslande ook te verdedig.

“Hulle moet sê: ‘Here, ek gaan nie my garsland vir die Filistyne gee nie. Ek gaan terug na my vrou toe’.”

Burger het mense aangemoedig om vas te staan by hul beginsels. Hy het die hamergooier Chris Harmse, wat nie op Sondae aan kompetisies deelneem nie, en die krieketspeler Hashim Amla, wat nie bieradvertensies op sy klere dra nie, voorgehou as voorbeelde van mense wat by hul beginsels bly.

Honderde mans het vorentoe gegaan om hulle tot die stryd vir goddelike waardes te verbind.

Bron:  beeld.com

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.