Lieflike voete!

Die feit dat Kores Babel verslaan het, is goeie nuus vir die Joodse ballinge want dit beteken dat hulle vrygelaat gaan word. Die Goeie Nuus vir vandag is dat Christus gekom het om ons van sonde en die dood te bevry. Paulus haal Jesaja 52:7 aan wanneer hy die rol van gelowiges om die evangelie te verkondig, wil beklemtoon. Hy skryf: Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie boodskap bring!”

(Romeine 10:13-15)

Ons as Christene is geroep om lieflike voete te hê ‑ om die evangelie dat ons verlos is, te verkondig. Dit is nie ‘n vreeslike romantiese werk nie, jy gaan heel waarskynlik ‘blase’ kry. Ons beskik egter oor goeie nuus en dit is ons verantwoordelikheid om dit met ander te deel.

Gebed: Here, ek dank U vir die Goeie Nuus. Ek bid dat U aan my lieflike voete sal skenk en hulle sal lei na plekke waar ek ‘n verskil kan maak. In u Naam.

Amen

Bron:  versndag.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.