KinderGeloof

Kyk gerus na ons YouTube kanaal en na hierdie week se video:

 

Ons naam, leuse en ons PASSIE!

Ons gemeente se kinderbediening, “KinderGeloof” se leuse is spesifiek gekies omdat ons passievol is oor ons bediening waar ons telkens weer herinner word aan hoe spesiaal die geloof van ‘n kind is. Kinders herinner ons aan die vrae wat ons mettertyd al vergeet het en hulle help ons om soms na die wêreld te kyk sonder die seer van ons verlede…

Ons besef dat ons as Kerk, die geloofsgemeenskap ook verantwoordelik is vir die vormingsproses van ons kinders se geloof sowel as die persoon! Hulle is immers deel van dieselfde geloofsgemeenskap en nét so deel van die liggaam van Christus soos ek en jy… Daarom dank ons die Here vir die groep mense wie met hierdie groot verantwoordelikheid na die toekoms van die Kerk omsien deur na ons kinders te luister.

Wie waar en wanneer?

Ons kinderbediening, KinderGeloof is vir al die kinders in ons gemeente! Of jy nou 3 jaar oud is en of jy al in Graad 6 is, is ons hier vir jou! Tydens die erediens sal die baie jong KinderGeloof maats (3-6 jaar) bymekaar kom by Kleuterkerk terwyl Gr. R-6 weer in ander klassies bymekaar kom… Die dominee sal vir julle tydens die diens ‘n kans gee om gou saam met almal na die klassie toe te gaan om seker te maak almal weet waar dit is!

Tans kom ons elke tweede week by die kerkgebou bymekaar en elke ander tweede week is ons aanlyn weens die Covid-19 pandemie. U kan gerus versoek om die gemeente se weeklikse Nuusbrief te ontvang waar KinderGeloof materiaal beskikbaar gestel word vir die weke wat ons aanlyn met die kinders werk. Die span sien uit om met jou kind ‘n pad te stap!

Vir die res van hierdie kwartaal sal ons volgens hierdie program werk:

  • 15 Augustus: in persoon
  • 22 Augustus: aanlyn
  • 29 Augustus: in persoon
  • 5 September: aanlyn
  • 12 September: in persoon
  • 19 September: aanlyn
  • 26 September: in persoon

 

Vir enige verdere navrae kan u gerus vir Rohan van Niekerk kontak by 082 925 9818 of by rohan@ngvishoek.co.za.