Tema 1: “Besluite bepaal jou storie


In die lewe moet ons gedurig besluite neem. Soms gaan ’n klomp deure vir ons oop en dan moet ons besluit watter deur ons gaan kies. Al die deure is nie noodwendig reg nie – daar is partykeer net een regte deur! Dit maak die besluit baie moeilik. Hoe weet ek wat om te besluit wanneer daar ’n klomp deure vir my oopgaan? Hoe weet ek of ek die regte besluit geneem het met die deur wat ek gekies het? En, hoe beïnvloed my besluit my storie?

LEES: RUT 1:1-5
Ons sien dat Elimelek besluit om saam met sy familie uit die beloofde land (die land wat die Here aan sy mense gegee het) weg te trek na ’n heidense land, as gevolg van hongersnood. Maar daar in die heidense land Moab beleef hulle familie net teëspoed. Eers sterf Elimelek. Daarna trou sy twee seuns met heidense (Moabitiese) meisies. Maar die twee seuns sterf ook. Naomi bly alleen agter in ’n land met kos, maar ’n land wat nie in die Here glo nie.