Die klassifikasie van emosies


Hierdie groepering van emosies het tot gevolg dat mense onbewustelik probeer om die slegte emosies uit hulle lewe te dwing; en daar is selfs gelowiges wat suggereer dat iemand wat wel hierdie emosies beleef, in wese ’n slegte persoon is. Die gevolg hiervan is dat baie mense “strategies” maskers begin dra in sekere kontekste omdat hulle nie as ’n slegte persoon gestereotipeer wil word nie.

Die impak van die bogenoemde strategie kulmineer in apatiese mense omdat daar nie gekies kan word watter emosies ’n individu wil ervaar nie. Indien jy dus jou bes doen om uitsluitlik die slegte emosies te vermy, sal so persoon later ook nie meer die positiewe kan ervaar nie.

Hierdie is ’n geleentheid om anders na emosies te kyk:

A: Lees gerus die Bybel en dink na oor die verskillende emosies wat Jesus ervaar het — Blydskap, Hartseer, Woede… Jy mag ook hierdie emosies ervaar.

B: Kyk gerus weer na jou definisie van emosie. Daar is baie slim mense met interessante definisies van emosie. Die latynse verduideliking van die woord e-motere het te doen met beweging. ’n Emosie wil dus ’n persoon in beweging bring. Prakties gesproke is dit ’n goeie idee om wanneer jy bewus word van ’n emosie die vraag te vra oor waarheen die emosie jou wil beweeg.

C: Vervang gerus die groeperings van Reg/Goeie en Verkeerde/Slegte emosies met plesierige en onplesierige emosies.

D: Omarm jou emosies en smeek by Christus oor hoe Hy sy koninkryk deur jou emosies wil laat kom… Hoe en waarheen Hy jou in beweging wil bring.

Bron:  ekerk.org NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Hoop ons Lewensanker deur Adrio Konïg [resensie]


Maar wat sê die Bybel oor hoop? Prof König stel twee vrae: Staan daar nie dalk meer in die Bybel hieroor as wat ons aanvaar nie? Hoor ons regtig wat die Bybel vir ons sê? En: moet ons nie dalk ons geloofsoortuigings aanpas nie?

Soos in sy ander boeke, skryf prof König nie oor algemeenhede nie. Nee, hy vind direk aansluiting by die Bybel. En dit maak sy werk kosbaar vir gelowiges wat regtig belang stel om te hoor wat die Bybel sê.

So skryf hy oor hoop in die Ou Testament. Wat sê die profete van hoop? En Job? En Klaagliedere? En die Psalms? Die skrywer kom tot die gevolgtrekking: ons hoop op iets. God is die einde van ons hoop, maar ook die begin van ’n nuwe wêreld. Hoop is om volhardend te wag totdat God sy Woord in bewaarheid laat gaan.

Paulus se brief aan die Romeine maak baie van hoop, en Adrio ondersoek dit in besonderhede. Paulus gebruik Abraham en Sara wat beloftes van God ontvang en niks daarvan sien gebeur nie, maar aanhou hoop. In ’n belangrike sin word daardie beloftes eers ná hulle dood verwesenlik. Hoop veronderstel lyding, maar omdat God die bron van ons hoop is, gee ons nie moed op nie. Paulus beklemtoon: die grond vir ons hoop is die offer wat Christus aan die kruis gebring het.

Ons hoop is gerig op veel meer as wat die wêreld kan bied. Ons droom van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, ’n aarde waar die nuwe Jerusalem na ons neerdaal sodat God self tussen ons woon. ’n Wêreld waarin God al die trane van ons wange afdroog en siekte en dood nie meer bestaan nie. Waar sonde finaal hok geslaan is saam met al sy negatiewe gevolge.

Hoop staan in die hart van die Bybel en het te doen met ’n geduldige God van liefde.

Wie het nie hoop nodig in die wêreld waarin ons leef nie? Dié boek sal jou help om jou hoop in Bybelse terme te verbaliseer sodat dit op vaste grond gevestig is.

Bron:  ekerk.org NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Sekulere invloed en materialisme in die Kerk

Welvaart maak geloof oorbodig
Materialisme het ’n ander effek. ’n Land soos Suid-Korea het vir meer as 70 jaar lank herlewing en buitengewone kerkgroei beleef. Vir Christene was dit normaal om 5:00 in die oggend op te staan en by die kerk vir die kragtige werking van die Gees in hulle eie lewe, die kerk en die gemeenskap te gaan bid. In die vroeë tagtigerjare het Korea egter ’n tydperk van ekonomiese voorspoed betree. Dit het ’n onmiddellike uitwerking op die kerk gehad. Skielik was dit nie meer so ’nodig’ om vroeg op te staan om te gaan bid nie, want dit gaan mos nie regtig sleg nie. Daar was nie meer soveel geestelike druk en weerstand teen die Evangelie nie en Christene het meer geld gehad.
Geestelike sake soos mense se verlossing en om in die krag van die Heilige Gees te leef was nie meer so belangrik nie, want finansiële voorspoed het ’n gemaklike lewe moontlik gemaak en mense het God nie meer so nodig gehad nie. Die oomblik wanneer ons ‘genoeg’ het, verflou ons toewyding en ons afhanklikheid van God baie maklik.

God is nie meer nodig nie

Voorspoed bring mense tot waar God nie meer benodig word nie, want hulle glo vas dat hulle voorspoed deur hulle eie harde werk en vermoëns bepaal word. Wanneer God nie meer nodig is nie, neig mense maklik na ateïsme en agnostisisme. By welvaartsamelewings soos in Europa, Amerika en China, asook in Suid-Afrika, is daar ’n toename in ateïsme – welvaart maak geloof in God oorbodig. (Dit is egter belangrik om te verstaan dat dit nie die enigste redes vir ’n toename in ateïsme is nie.)

Voorspoedteologie die grootste gevaar
Voorspoed maak ook ’n ander ‘reus’ in ons wakker: gierigheid. Mense wat baie besit, wil meer hê. As gevolg van ons sondige natuur is dit ’n noodwendige gevolg van voorspoed. Mense word ook onvergenoegd. Voorspoed, gierigheid en onvergenoegdheid is op hulle beurt die bou-stene van ‘voorspoedteologie’.
Die prediking van voorspoedteologie is vandag die grootste gevaar vir die Kerk omdat dit op sukses en welvaart fokus. Daar is basies geen fokus op die redding en die sosiale nood van mense nie – dít is tog die kern van die Evangelie.
Indien ons voorspoedteologie ontleed, sien ons baie duidelik dat dit sy wortels in materialisme, sekularisme en humanisme het. Hierdie drie begrippe verklaar: Ons het God nie nodig nie: ons kan dit self doen.

Hoe bied jy weerstand teen sekularisme en humanisme?
• Bid vir ’n diep besef by mense oor die kortstondigheid van die lewe teenoor die Ewigheid; dat mense sal besin oor waar hulle die Ewigheid gaan deurbring
• Bid dat mense van hulle sonde bewus sal word en na ’n Verlosser sal soek
• Bid dat mense sal vra hoe hulle veilig kan wees en na ’n Beskermer sal soek
• Bid dat mense sal besef dat daar probleme is wat hulle nie self kan oplos nie en dat hulle na God sal soek
• Bid dat mense veral sal vra wat die doel van hulle lewens is, waarom hulle hier is en wat die sin van die lewe is
• Bid dat mense sal verstaan dat voorspoed en onafhanklikheid nie hulle diepste behoeftes aan ’n verhouding met God, intimiteit en die sin van die lewe kan bevredig nie

Vra ook die Here om jou spesifiek te wys waar voorspoedsdenke ’n vastrapplek in jou lewe gevind het, en bid dat God jou sal help om jou fokus onverskrokke op Hom terug te plaas.

BENNIE MOSTERT is die bestuurder van Jerigo-Mure-Gebedsnetwerk in Pretoria. Meer inligting: www.jwipn.com

Bron:juig.co.za NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Kan God ook huil?


God se liefde maak dat Hy Homself gee. Genade kos Hom net mooi alles. Nee, die Here het nie ’n kaartjie uit die hemel gestuur wat sê Hy dink aan ons nie. Inteendeel, Jesus het tussen ons kom loop om God se hart vir ons te wys. Hy het in ons plek doodgegaan en ons pyn op sy eie skouers gelaai. God se liefde laat Hom ly. Daarom, omdat Hy medelye met ons pyn en lyding het, kan Hy ons elke keer uithelp.

Bron:  ekerk.org NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Daar is slegs EEN GOD wat goed is.


Hy is van altyd af hier en sal altyd wees. Ons kan Hom nie volledig verstaan nie, Hy is meer as wat ons van Hom kan weet. Ons kan Hom nie sien nie, tog is Hy werklik vir ons wat Hom leer ken. Hy bly altyd dieselfde, ja, Hy verander nie. Hy kan enige iets doen. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Hy kan niks verkeerd of sleg doen nie. Hy is slegs goed, en sy goedheid kan nooit opraak en ken geen grense nie.

Ons as Jesus-mense het so baie wat ons uit ons eie ervaring van Hom kan vertel. Vir ons is Hy die enigste lewende ware God. En al noem ons Hom met tye Vader, ander kere Jesus, en ook soms Heilige Gees, is Hy vir ons een en dieselfde God – gaan vertel vir die mense ons aanbid nie drie verskillende gode nie.

Daar is so baie verwarring oor die verskillende godsdienste en te maklik word gesê ons aanbid tog almal dieselfde God, net op verskillende maniere. Gaan vertel vir die mense daar buite in die wye wêreld dat dit ‘n dwaling en ‘n groot fout is. Die ander gode van die ander godsdienste is nie dieselfde God as wat ons Jesus-mense aanbid nie. Een van die baie groot verskille tussen ons ware God en ander valse gode, is dat ons nooit meer in die moeilikheid by ons God kan wees nie – daarvoor het Hy Jesus as volmaakte “Hersteller” vir ons gegee.

Ons God word nooit weer kwaad of teleurgesteld met ons nie, ons God sal ons nooit weer hoef te straf nie, ons God se guns hoef ons nie te verdien nie – Hy is wie Hy is en ons is wie ons is.

Kom ons gaan vertel vir ander mense wie is ons God en hoe goed is Hy vir ons, kom ons doen dit omdat ons baie graag wil vertel wie Hy is!

Bron:  http://doomcharl.blogspot.com/ NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Resultate Van Wereldse Filosofie


3. Verwerping van absolute Waarheid: vervang deur menslike redenasie
4. Verwerping van Bybelse doktrine: vervang deur godsdienstige filosofie. Kardinale doktrine, soos die hel, die werk van Christus, sonde, en sondebelydenis word geïgnoreer
5. Verwerping van profesie: God se openbaring van die toekoms aan die mensdom
6. Verlies van onderskeiding: weet nie meer wat ‘reg’ of ‘verkeerd’ is nie, doen wat ook al ‘goed voel’ en moedig ander aan om dieselfde te doen
7. Pluralisme en sinkretisme: die aanvaarding van enigiets en alles wat ‘reg voel’ en verwerping van die Eerste Gebod: “Jy sal geen ander gode hê nie”
8. Evangelisasie en sending word ondermyn: Christene wat nie meer weet wat hulle glo nie, is huiwerig om hulle mening ‘op ander af te dwing’
9. Die sukses van ’n kerk word gemeet aan die aantal mense wat dit bywoon: in die oortuiging dat die koninkryk van God deur die mens se wysheid en tegnologie tot stand gebring word. Humanistiese metodes om kerkgroei te bevorder, vervang die meedeling van die Evangelie. Kerkgroei en om kerke te plant, is ’n prioriteit
10. Verwerping van die Evangelie: maatskaplike manipulasie en ‘goeie dade’ vervang die oproep tot berou en om in die regte verhouding met God te wees. Die plaasvervangingswerk van God word beskou as ’n verouderde begrip van ’n primitiewe samelewing
11. Verdraagsaamheid vervang Waarheid: of, soos Jesus dit gestel het: “Hulle is blinde leiers van blindes. As ’n blinde ’n blinde lei, val altwee in die sloot.” Matt 15:14
12. Ontvanklikheid vir spiritisme, mistisisme en Oosterse filosofie: mediterende geestelikheid, mantras, ervarings, en gevoelens, vervang geloof. Klem op emosionele, mistiese en geestelike ervarings maak mense ontvankliker vir die okkulte
13. Verwerping van die gevolge van sonde: “Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” Ef 5:6
14. Verwaandheid en hoogmoed: Ten spyte van die oortuiging dat daar geen absolute waarheid is nie, word enigeen wat postmoderne teologie teenstaan, as ’n vyand van die ‘waarheid’ beskou
15. Geestelike selfmoord: die ernstigste gevaar van almal. Verwerping van die Lewende Woord en Sy geskrewe Woord kan ernstige gevolge vir die beërwing van die ewigheid hê. Lees daaroor in Openbaring hoofstuk 20.

Bron:  juig.co.za NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Wanneer vertel ek?


Kom ons kyk net na drie kategorieë van gebeure in ons daaglikse lewens waar Jesus deel van wil wees:
1.       Eerstens is daar persoonlike omstandighede soos jou eie worsteling met wie jy werklik is en wat maak jy met jou lewe; of jou eie unieke verhouding met God; of jou intieme verhoudingslewe; of wat ook al jou as individu direk raak. Elkeen van ons het een of ander tyd behoefte om met iemand oor een of meer van hierdie persoonlike sake te praat – en Jesus sal altyd deel wil wees van so ‘n gesprek.

2.       Dan is daar omstandighede wat meer met ander mense in jou lewe te doen het: dink aan jou werk, skool of studies waar jy ander mense nodig het en met hulle oor die weg moet kom; dink aan jou gesin en familie wat ons almal op een of ander wyse raak; dink aan jou vriendekring en die invloed wat hulle op jou het. Almal van ons is altyd op een of ander wyse aan ander mense gekoppel – goed of sleg, en dit raak ons lewe, en dit bied geleentheid om Jesus daarvan deel te maak.

3.       Die ander groot lewensuitdaging wat ons almal in die gesig moet kyk, is die groter prentjie van ander mense of omstandighede wat ons lewens direk beïnvloed. Hier is die politiek, die ekonomie, die weerpatrone en ander globale invloede ter sprake. Ons teenwoordige Jesus wil ook daarin geken wees en deel wees van hoe ons hierdie sake beredeneer.
Jesus bepaal nie ons omstandighede nie, Hy veroorsaak nie die probleme wat ons moet hanteer nie, Hy neem ook nie altyd die probleme weg nie, maar Hy gee ons die geleentheid om met ander oor Hom te praat, wat die omstandighede ook al is.

Bron:  http://doomcharl.blogspot.com/ NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Hoekom is lekker soms so sleg?


Om elke dag gesonde oordeel aan die hand te lê en deurentyd te kies om eerder die régte (en moeiliker) besluite te neem, is ’n aanhoudende proses van slaag en mislukking. Van val en opstaan, van spyt en trots. Dis ’n pad wat ek en jy definitief nie alleen kan loop nie. Daarvoor is daar maar net te veel ongesonde en verkeerde aantreklikhede in die wêreld om ons.

Miskien moet ons ons langtermyn visie vir ons lewens, ons liggame, ons toekoms elke dag van voor af afstof. Weer onthou hoe ons wíl voel, hoe ons wíl lyk en met watter gemoed ons vanaand wil gaan slaap.


Kom ons wees elke oggend van voor af ingestel op die liefdevolle stem van die Gees in ons. Die Gees wat weet wat die kort- en langtermyn gevolge van ons besluite is.


Ek wil U volg met alles wat ek doen, Heilige Gees.
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

Moenie net jou hart weggee nie


By God kry ons nuwe gedagtes en nuwe denke, mits ons meer as net ons harte vir Hom gee. Te veel gelowiges gee slegs hulle harte Hom, maar hou hulle koppe vir hulleself. Hulle denke bly steeds onder privaatbestuur. Dit is ’n fout. Nuwe koppe word dringend gevra, anders gaan ons lewenslank doen wat ons tans doen.

Terloops, mens noem dit stagnasie! Romeine 12:2 roep ons op tot aanhoudende, oor en oor weggee van ons denke aan God. Dan eers sal ons God se goeie en volmaakte wil ken. Dan sal ons leer om God-verheerlikende gedagtes te dink.

Bron:  ekerk.org NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

A2J Uitreik: Loeriesfontein, Deel 4 5-6 Julie 2014

Nadat Estelle ‘n kort boodskap oor die belangrike rol van die ma in ‘n huis gelewer het, is die dames met koffie, tee en koekies bedien. Daarna het die A2J meisies reggestaan om hande te masseer, naels te verf en grimering te doen. Elke vrou is ook huistoe met ‘n lieflike pakkie.

 

Deur die week het ons opvoedkundige speelgoed vir die kleuterskool gegee. Die volgende dag loer ons in – en die onderwyseresse het klaar alles uitsorteer in die verskillende “speel hoekies”! Ons het geweet dat nog speelgoed net so goed ontvang sou word en het nog meer vir hulle gee.

Die aand is dit tyd vir ons eie talentaand. Altyd pret!

Sondag Vinnig op en groettyd by die NGK en VGK gemeentes. Een van die ouderlinge sê, “Ek vra myself, wat ‘gain’ A2J (met die week)? Om die grootste prys wat jy kan kry, te deel met ander – die ewige lewe.”

En dan die pad huis toe.

Allerlei:

‘n Mens kan alles haarfyn beplan, maar die Here het soms ander planne vir ons.  Dit was ook die geval met die warm water. Die gemeenskap het vinnig ingespring en teen Sondagmiddag het Marinda van Zyl opgedaag met ‘n lys van mense waar ons kan gaan bad en stort.  Wat ons eers gesien het as ‘n probleem raak toe ‘n wonderlike geleentheid om uit te reik na die gemeenskap rondom ons.  Vir stort en terug gaan koshuis toe was daar geen sprake nie.  Die kinders en volwassenes is heerlik bederf met koffie, tee en koekies. Daar word nie twee keer gedink om sommer die sleutel by Spar te los vir wanneer die eienaars nie daar is nie. “Los net die ligte aan sodat dit lyk of daar lewe is as jul weer waai!” Tannie Jaans het sommer Saterdagaand mense kom oplaai om by haar te kom bad:” In die koue sal niemand wil stap nie!” Saterdagmiddag het Marinda en Callie van Zyl die “ouer” leiers en Hilton bederf met heerlike koffie en eetgoed.  Dit word toe ook sommer die venue vir die rugby. Die kinders was baie opgewonde om daar die wedstryd te kan kyk en is bederf met eetgoed.  Watter fantastiese oorwinning vir die Stormers, maar ons laat dit daar… Dit was die eerste keer dat die gemeenskap ook kon uitreik na ons en op so wyse is daar weer nuwe vriendskappe gevorm.  Ons het dit spottentderwys die badkamer-bediening begin noem, maar op ‘n meer ernstige noot is ons almal aangeraak oor die omgee en liefde wat die gemeenskap van Loeries aan ons bewys het. – Annette

Ek het vir 2 dae by die mediese afdeling van die uitreik gewerk. Ek was baie opgewonde om saam met tannie Riki en tannie Evette die gemeenskap se bloeddruk en suiker te toets. Ek wil medies gaan studeer, so hierdie ervaring was baie leersaam. Tannie Evette het my gehelp en presies vir my gewys hoe om alles te doen. Tannie Riki het interessante inligting vertel oor verskillende infeksies, hoe om ‘n diabeet te identifiseer en my sommer net opgewonde gemaak. Baie dankie aan tannie Riki en tannie Evette. Dit was ‘n belewenis. – Marizelle

Ek kom nie regtig in die kerk nie. Julle het my weer hoop gegee. Julle het my kom wys dat die Here leef. – Iemand wat ons uitgehelp het die week.

Dankie, juffrou, dat jy ons van die Liewe Jesus geleer het. – Uit die oggend groepies uit.

Ons warm water probleem is teen Vrydagmiddag opgelos. Na ‘n paar kinkels al vroeër die week uitsorteer is, het ons “per ongeluk” net die seuns se geyser aangesit in die dak. … Godly intervention through human error…Ons sal nie weet nie, behalwe om te weet dat Hy in beheer is. 🙂

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. Dankie aan die Here dat ons Sy instrumente kon wees – van die span wat kon gaan, tot elke persoon wat ons gestuur, versterk en in gebed ondersteun het.
  2. Dankie vir die gesondheid van die span en bid dat die laaste knieserigheid gou deel van die verlede sal wees.
  3. Bid dat ons, leiers en kinders, sal aanhou om in vertroue op en afhanklikheid van die Here ons beroepe en skoolwerk aan te pak. Om aan te hou uit reik na die mense om ons, vriende en vreemdelinge.
  4. Bid dat die noue verhouding met God waarin ons geleef het hierdie week (en elkeen wat hier lees ook), ons elke dag sal wees.
  5. Vir die VGK en NGK gemeentes wat ‘n passie het om mense te help, maar wonder waar om te begin / wat om te doen. Bid vir wysheid en leiding vir volhoubare bedieninge.

Dankie vir julle gebede.

“Dankie Jesus, Amen, Dankie Jesus, Amen, Dankie Jesus, Amen.

Halleluja, Amen”

Johann

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.