A2J Uitreik: Loeriesfontein Deel 2 1-2 Julie 2014

 

Die middag se sport loop goed af. Baie van die vriendskappe word juis hier gebou rondom ‘n bal / springtou. Loeries se kinders moet soms ons gebrek aan “ball skills” oorsien, maar steeds lekker saam :-).

Die aand is tyd vir gesinsaand waar Evette en Eulogia die maatskaplike, maar ook die fisiese effekte van dwelms deel. Die idee is om gesinne wat probleme het raad te gee en ook die wat nie het, voor te berei om dinge beter aan te pak as dit oor hulle pad kom. Deel van die aand is om die gesinne te toets om te sien hoe goed hulle mekaar ken. Die jaar was daar reuse pryse – twee eetkamerstelle en ‘n lazy-boy.

Hierna is dit tyd om klere uit te deel vir die volwassenes. Skoene bly maar altyd moeilik met die mansskoene wat gewoonlik nie groter as ‘n nommer 6 hoef te wees nie. Ons kon wel vir die meeste ‘n paar stukkies klere of skoene gee.

Woensdag

Die volwassebediening is ‘n ander been van die uitreik. Deur die oggend word koffie gedrink, saam gekuier en saam gebid waar baie van die huise weduwees is wat alleen bly. In die middae besoek ons ook mense van deur tot deur om kospakkies uit te deel waar ons kan sien daar nood is. Sover kon ons van die beddegoed uitdeel en 50 sakkies kos aflewer. Die oorskiet sop van die Dinsdag (nadat ons te min gevat het die Maandag), kon ook ‘n paar huisgesinne help.

Die ouetehuisbediening is vanjaar verdeel tussen die ouetehuis net agter die koshuis asook ‘n winkeltjie waar ‘n “bejaardes klub” bymekaar kom. Marthie doen oefening met die mense en probeer ook help / hulle omstandighede beter maak waar ons kan. Die mediese span was ook hoogs in aanvraag, net om seker te maak “alles is nog reg”.

Die kinders kry vandag die geleentheid om klere te kry. Die een meisie wat regtig gebrek lei, was so opgewonde en het elke 5 minute gevra, “Gaan ons nou klere kry?”. Later die dag het sy en haar ma kom dankie sê. Van die A2J’ers kon vanaand ook sien hoe hul pajamas ‘n nuwe tuiste gevind het :-).

Woensdae het ons ‘n afmiddag met geen sport nie. Ons het wel ‘n uitstappie. Dié keer vinger trek, wat – nadat van die seuns letterlik teen mekaar geoefen het – ‘n geleentheid was om teiken te skiet met ‘n 308 en ‘n geweer uit die 2de wêrelde oorlog. “Aaah – vinger trek…!”

Die aand se “Loeries’ got Talent” loop goed af met van die oulikste gediggie voordragte tot rap en riel.

Laataand is dit terugvoer tyd sodat ons kan hoor wat ander die dag ervaar het en te hoor van stukkies waar God werk in ons en in Loeries se mense.

Van die A2J’ers

Ek het op die uitreik gekom met ‘n verwagting en glad nie geweet wat om te om te verwag nie. Dis verseker ‘n groot aanpassing om na mense uit te reik en my liefde wat ek van die Here ervaar te deel met my medemens.

By die kerkdiensaand wat A2J aangebied het, was dit vir my ‘n belewenis om te sien hoe jong tieners vir ouer mense bid.

Die eerste dag wat ons lesse aangebied het, het ons deur die huise geloop en die kindertjies geroep. Van die kleinste kindertjies het aangehardloop gekom en dit was so lekker om te sien hoe opgewonde hulle was om van ons Pappa te hoor.

Om die geskenkpakkies en die sop vir die kinders uit te deel, kon ek sien wat dit vir hulle baie beteken en het dit vir my net nog meer vreugde gegee.

By die geestelikeaand het ek weereens besef dat elke mens pyn het en dat God saam met ons is en ons help met alles. – Celine

Allerlei

“Ma, ek het dit vir jou gewen”, seun in trane aan sy ma nadat hulle die derde prys gewen het met die gesinsaand. Dit was ‘n lazy-boy / gemakstoel wat sy juis graag wou gehad het.

Met die klere uitdeel, soek die een tannie op en af, maar kon niks kry nie. Sy is al op pad uit toe sit iemand anders skoene terug wat te klein is. Die regte grootte, die regte snit (vir winter). Presies reg bestem.

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. Dankie vir die besondere jongmense wat God besig is om te vorm. Vandag weer skroom hulle nie om in te spring in ‘n nuwe stituasie of sommer ‘n maat wat siek is se groep aan te neem vir die dag nie. Bid dat Hy die goeie werk “ent-uit sal volhou”.
  2. Vir die gesondheid van die span. Ons is steeds geseënd met net nog tweede seun wat vandag olik gevoel het. Na ‘n goeie dag rus was sy oë ook sommer helderder. Bid ook vir krag en ‘n goeie gesindheid waar die moegheid begin deurslaan.
  3. Die weer hou nog baie goed. Bid dat dit steeds so sal wees ons die meeste gebruik sal maak van elke geleentheid.
  4. Vir die “badkamerbediening”. Die storte werk so dat die meeste deur die aand kan stort, solank hulle kans gee dat die water weer warm word. Bid dat ons sal aanhou getuig in Loeriesfontein se mense se huise – en aanhou afhanklik wees van Hom, selfs vir ‘n warm bad.

Vir krag, moed, hoop en liefde vir die werk en geleenthede wat die laaste paar dae van die uitreik voorlê.





    Groete,

    Johann

    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

    A2J Uitreik: Loeriesfontein, Deel 3 3-4 Julie 2014

     

    Aandete was heerlike potjiekos, plaasbrood en tuisgemaakte konfyt wat deur die NGK se mense geskenk en gemaak is vir ons. Dis nie aldag dat jy ‘n dominee met ‘n voorskoot sien werk nie!

    Laataand is dit ‘n geestelike waar ons ook net besef dat ons alles ons gemors by God kan los en deur Sy Gees kan vrug dra.

    Vrydag is die laaste lessies. Deur die week raak die gesiggies moeër (A2J s’n), maar die opgewonderheid bly daar (Loeries se gesiggies). Die laaste dag gee ons kos vir ongeveer 250 kinders. Die behoefte aan kos lyk nie so erg soos wat ons al gesien het nie, maar daar is steeds kinders wat uit moeilike omstandigehede.

    Die instandhoudingspan is steeds besig teen ‘n woeste pas: die VGK se saal is oorgeverf nadat die barste gister oopgekap en gepleister is. Kassies is ingesit by die Sonneblom klub (ouetehuis) en hakke waaraan die kinders se klere kan hang by die kleuterskool. Die ouetehuis se dak is geseël, deure herstel en gemaak pas. By ‘n paar plekke het hulle ook diefwering opgesit.

    Vanaand het die meisies ‘n rustige aand terwyl die seuns ‘n DVD aand hou en ook sop uitdeel vir almal wat kom.

    Marc het ook vandag sy getuienis gedeel met die ouer kinders voordat ons vir hulle Gideon Bybels gegee het. Die mooiste mooi: twee seuns wat nie kan wag om die Bybel te lees nie. “Is dit nou weer vroeër of later in die Bybel” terwyl daar naarstiglik in die naslaan indeks rondgesoek word. En dan lees die twee stukke vir almal om hulle.

    Van A2J:

    Ek moet sê daar was BAIE klere. Ek wil dankie sê van A2J af vir almal wat klere geskenk het. Die A2J meisies het ook hulle eie “fashion show” gehad … dit was snaaks! Tannie Elogia het gepraat oor dwelms en wat gebeur as jy dwelms misbruik. Dit was scary. Loeries was geskok. Ek dink hulle het wakker geskrik na hulle die foto’s gesien het. “Ons is uiters dankbaar dat die Here julle vir ons gestuur het,” van een van die ooms. – Jono

    Om na Loeriesfontein te kom was vir ons as gesin iets waaroor ons mooi moes nadink. Ons was nie seker hoe en waar ons van diens kon wees nie, maar het dit opgedra in gebed aangesien ons gevoel het dat die Here ons geroep het.

    Ek het ingeval by die mediese span wat siftingstoetse gedoen. Die oumense wat ons pasiënte geword het, het vinnig in ons harte ingekruip en het sommer ‘n páár keer teruggekom om hul bloeddruk te laat meet en te kuier. ‘n Geskenkie, ‘n drukkie en ‘n oor om na hulle stories te luister, was vir hulle so ‘n groot seën.

    Die belangrikste les wat ons hier geleer het, is dat mens nooit ‘n kind te vroeg kan blootstel aan ‘n lewe van diens nie:

    Migael (6) het land en sand gesels met ‘n ou oom in die ouetehuis. Sy vrou sê hy is doof en kan nie ‘n woord hoor wat sy sê nie, maar tog het hulle ‘n volwaardige gesprek gehad!

    Nina (5) was heeltyd aan my sy. Haar grootste vreugde was om haar babakombersies aan kindertjies uit te deel en om haar ou klere aan ‘n kleintjie te sien ‘n dag nadat dit uitgedeel is.

    Francois het ingeval by die onderhoudspan. Hulle was doodmoeg, maar het net nog en nog projekte aangepak. Hulle het elke dag met nuwe ywer hul dagtaak aangepak, sonder om ooit te kla.

    Maar die belangrikste hier in Loeries is wat ons ontvang het. Al het ons gekom om te gee, is ons ryker en nog nader as gesin.

    Ons is waarlik geseënd, om nie eens van die goeie voorbeeld van A2J te praat nie. Hulle het aan my kinders gewys hoe ‘n jongmens sy lewe moet inrig in diens van God.

    Geen mens kan uit eie krag so ‘n enorme taak vir Sy koninkryk aandurf nie. Alle eer aan God!  – Evette

    Allerlei:

    Wanneer is jy regtig moeg? Wanneer jy deur ‘n potjiekos aandete slaap en daarna so bly is jy het nog nie jou boeliebeef proviant geëet nie…. en nóg blyer om te hoor daar is oorskiet! 🙂

    ‘n Goeie geluid – die ge-“kwetter” van A2J’ers wat in die aand saam lesse voorberei, terwyl hulle besig is om verhoudinge met mekaar te bou, so tussen die lag, stories oorvertel en saam wees.

    Maandag het ‘n dogtertjie hare klere geruil sodat sy “anders” lyk om weer en weer en weer in die ry te kon staan vir sop. – Daar ís honger, fisies en emosioneel.

    Voorbidding

    1. Vir hulp om altyd die Here en Sy wil eerste te stel in wat ons doen. Ook wanneer ons huis toe gaan.
    2. Baie dankie vir die spesiale bande na die week saam.
    3. Vir die gesondheid van die span.  Drie was vandag in die bed en daar is ‘n hele paar seer kele.
    4. ‘n Groot dankie vir goeie weer.  Bid ook dat die voorspelde reën sal val, maar dat dit ook sal inpas wanneer dit moet droog wees en wanneer nat.
    5. Bid dat ons huis toe sal gaan en met ander oë rondom ons sal kyk. Bid dat die uitreik nie net ‘n “kop” ervaring is / was nie, maar ‘n hartservaring.
    6. Vir seën vir die laaste twee dae: die vroue tee en dat almal sy veilig sal tuis kom.


    Dankie vir julle gebede.

    Johann

    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

    A2J Uitreik: Loeriesfontein, Deel 4 5-6 Julie 2014

    Nadat Estelle ‘n kort boodskap oor die belangrike rol van die ma in ‘n huis gelewer het, is die dames met koffie, tee en koekies bedien. Daarna het die A2J meisies reggestaan om hande te masseer, naels te verf en grimering te doen. Elke vrou is ook huistoe met ‘n lieflike pakkie.

     

    Deur die week het ons opvoedkundige speelgoed vir die kleuterskool gegee. Die volgende dag loer ons in – en die onderwyseresse het klaar alles uitsorteer in die verskillende “speel hoekies”! Ons het geweet dat nog speelgoed net so goed ontvang sou word en het nog meer vir hulle gee.

    Die aand is dit tyd vir ons eie talentaand. Altyd pret!

    Sondag Vinnig op en groettyd by die NGK en VGK gemeentes. Een van die ouderlinge sê, “Ek vra myself, wat ‘gain’ A2J (met die week)? Om die grootste prys wat jy kan kry, te deel met ander – die ewige lewe.”

    En dan die pad huis toe.

    Allerlei:

    ‘n Mens kan alles haarfyn beplan, maar die Here het soms ander planne vir ons.  Dit was ook die geval met die warm water. Die gemeenskap het vinnig ingespring en teen Sondagmiddag het Marinda van Zyl opgedaag met ‘n lys van mense waar ons kan gaan bad en stort.  Wat ons eers gesien het as ‘n probleem raak toe ‘n wonderlike geleentheid om uit te reik na die gemeenskap rondom ons.  Vir stort en terug gaan koshuis toe was daar geen sprake nie.  Die kinders en volwassenes is heerlik bederf met koffie, tee en koekies. Daar word nie twee keer gedink om sommer die sleutel by Spar te los vir wanneer die eienaars nie daar is nie. “Los net die ligte aan sodat dit lyk of daar lewe is as jul weer waai!” Tannie Jaans het sommer Saterdagaand mense kom oplaai om by haar te kom bad:” In die koue sal niemand wil stap nie!” Saterdagmiddag het Marinda en Callie van Zyl die “ouer” leiers en Hilton bederf met heerlike koffie en eetgoed.  Dit word toe ook sommer die venue vir die rugby. Die kinders was baie opgewonde om daar die wedstryd te kan kyk en is bederf met eetgoed.  Watter fantastiese oorwinning vir die Stormers, maar ons laat dit daar… Dit was die eerste keer dat die gemeenskap ook kon uitreik na ons en op so wyse is daar weer nuwe vriendskappe gevorm.  Ons het dit spottentderwys die badkamer-bediening begin noem, maar op ‘n meer ernstige noot is ons almal aangeraak oor die omgee en liefde wat die gemeenskap van Loeries aan ons bewys het. – Annette

    Ek het vir 2 dae by die mediese afdeling van die uitreik gewerk. Ek was baie opgewonde om saam met tannie Riki en tannie Evette die gemeenskap se bloeddruk en suiker te toets. Ek wil medies gaan studeer, so hierdie ervaring was baie leersaam. Tannie Evette het my gehelp en presies vir my gewys hoe om alles te doen. Tannie Riki het interessante inligting vertel oor verskillende infeksies, hoe om ‘n diabeet te identifiseer en my sommer net opgewonde gemaak. Baie dankie aan tannie Riki en tannie Evette. Dit was ‘n belewenis. – Marizelle

    Ek kom nie regtig in die kerk nie. Julle het my weer hoop gegee. Julle het my kom wys dat die Here leef. – Iemand wat ons uitgehelp het die week.

    Dankie, juffrou, dat jy ons van die Liewe Jesus geleer het. – Uit die oggend groepies uit.

    Ons warm water probleem is teen Vrydagmiddag opgelos. Na ‘n paar kinkels al vroeër die week uitsorteer is, het ons “per ongeluk” net die seuns se geyser aangesit in die dak. … Godly intervention through human error…Ons sal nie weet nie, behalwe om te weet dat Hy in beheer is. 🙂

    Voorbidding

    Bid saam met ons –

    1. Dankie aan die Here dat ons Sy instrumente kon wees – van die span wat kon gaan, tot elke persoon wat ons gestuur, versterk en in gebed ondersteun het.
    2. Dankie vir die gesondheid van die span en bid dat die laaste knieserigheid gou deel van die verlede sal wees.
    3. Bid dat ons, leiers en kinders, sal aanhou om in vertroue op en afhanklikheid van die Here ons beroepe en skoolwerk aan te pak. Om aan te hou uit reik na die mense om ons, vriende en vreemdelinge.
    4. Bid dat die noue verhouding met God waarin ons geleef het hierdie week (en elkeen wat hier lees ook), ons elke dag sal wees.
    5. Vir die VGK en NGK gemeentes wat ‘n passie het om mense te help, maar wonder waar om te begin / wat om te doen. Bid vir wysheid en leiding vir volhoubare bedieninge.

    Dankie vir julle gebede.

    “Dankie Jesus, Amen, Dankie Jesus, Amen, Dankie Jesus, Amen.

    Halleluja, Amen”

    Johann

    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

    A2J Uitreik: Loeriesfontein Deel 1 28-30 Junie 2014

    By die koshuis aangekom is dit afpak, kamers kry en die minder goeie nuus – daar is nie warm water nie. Loeriesfontein het streng waterbeperkinge en ons het probeer om al die watertenks reg te kry voor ons kom, maar dit was nog nie heeltemal reg nie.

    Die aand kry elkeen sy uitreik top, ‘n serp (vir die koue aande) en ook ‘n pet wat geskenk is. – Handig vir die paar warm dae wat ons sover gehad het.

    Sondag

    Die oggend is die span na die VGK en die NGK se dienste toe. By die VGK het die band behoorlik gespeel met o.a. ‘n een snaar baskitaar wat self gemaak is!

    By die NGK het dit eers vreemd gelyk omdat die kerk so leeg is, maar ons is genooi vir tee en hier het ‘n ander uitreik begin: Loeriesfontein het hulle huise (en storte) vir ons oopgemaak. ‘n Vrou het ‘n lys name gereël wie ons kon bel om te gaan stort, terwyl die hotel en die “pub” ook toegang gegee het vir storte. Elke stort het hand aan hand gegaan met ‘n kuier koffie :-).

    * In die paar dae reik die gemeente uit op ‘n besondere, persoonlike manier na ons terwyl ons weer kan kuier en getuig waarom ons gekom het en wat elke dag gebeur. Hulle wil net weet waarmee hulle nog kan help.

    Die middag is dit tyd vir ouetehuis. Hier is twee ooms wat vanjaar 100 word en ‘n hele paar mense ouer as 90. Die meeste se gesondheid is egter nog uitstekend. Van A2J (en ekself) vind dit maar vreemd om met die ouer mense te begin gesels. En dan die verrassing dat jy dit geniet, dat mense sê hulle bid vir jou – soos jy nou vir hulle gebid het – en jy weet ons dien dieselfde Here. En ook hoe klein die wêreld is: twee van die tannies se kleinkinders bly in Vishoek of trek binnekort soontoe.

    Die aand is ‘n Lofprysingsaand in die VGK se saal waar elkeen ‘n kans kry om weer stil te raak voor die kruis en ook saam met iemand te bid. Verlede week is ‘n kleintjie oorlede aan verstikking en die oupa kom vra dat ons bid vir die gesin en die hartseer. Dwelmmisbruik en tienerswangerskappe krap hier ook gesinne deurmekaar met baie hartseer waarvoor ons gebid het.

    * ‘n Stukkie (persoonlike) goeie nuus: in 2007 was Jeffrey in my groepie, so ek het gewonder of hy nog hier is en hoe dit gaan (hy was die stout een 🙂 ). – Hy het kom “hallo” sê, vir “lang Jaco” gesoek wat saam hier was en vertel hoe opgewonde die mense is dat Vishoek hier is. En hy glimlag net!

    Maandag

    Die eerste “lessies” dag vir die week skop af en A2J nooi kinders by hulle huise om saam te kom speel en in te kleur. A2J word 2-2 ingedeel en bied dan die lessies aan vir 10-25 kinders in hul groepie. Liedjies word gesing – van die “monkey” om die lyfies warm te kry in die oggend tot “One-way – Jesus!”.

    Elke kind by die lessies kry deur die week ‘n geskenkpakkie uit die geskenke wat aan ons gegee is. Elke dag is daar ook sop en broodjies. Vir die eerste dag het ongeveer 290 kinders sop gekry. Die laaste 50 het Nick-nacks en koeldrank saam met die broodjie gekry toe die sop op is. So 340 kinders vir die oggend.

    Ondertussen het Rohuan, Riki en Evette ‘n bloeddruk en suiker toetskliniek gehou by die VGK saal. Dit is hierdie week elke oggend en 37 mense het die eerste dag gekom. ‘n Stukkie luister en gesels is natuurlik noodsaaklik om die bloeddruk laer te kry.

    Die middag is poppekas, “Poof” en “Paff” – ons eie ruimtemannetjies  wat kom kuier en ook sport. Hoola hoop, touspring, rugby, krikiet, netbal – alles word met groot entoesiasme gespeel. Op ‘n stadium het die klein mannetjies rugby besluit om vir lange Stefan te tackle dat hy bloei. – Vandag sal ons eerder sokker speel met hulle :-).

    Die aand bied Riki ‘n noodhulpkursus aan vir die gesinne, sodat hulle weet wat om te doen wanneer dinge verkeerd loop tuis (soos met die verstikking). 74 mense kon die aand bywoon en buiten vir ‘n hele paar vrae aan die einde, vra hulle ook vir die aanbieding notas sodat hulle dit weer kan deurgaan.

    By die koshuis reël ons badkamer bediening vir die meisies en volwassenis. – Die seuns kon die middag warm storte kry.

    Later die aand getuig Gabie van haar eie lewe en “When life doesn’t make sense”. Hoe God die stukkende stukkies in haar lewe aanmekaar sit deur sy Woord en sy Gees en hoe ons deur ons eie hartseer te deel, juis geleentheid skep vir ander mense om ook hulle hartseer te deel.

    Los stukkies

    Watse tipe kuiergaste is julle wat net stort en dan gaan sonder ‘n koppie koffie? – Callie, Loeriesfontein

    ‘n Mens kon die muise in die plafon hoor toe ons bid. – terugvoer, VGK diens.

    “Haal af jou hoed.” – die kleintjie wat bid vir die sop aan Ds. Martin voor hy begin.

    Vanaand is gesinsaand en ons wil met die gesinne ook gesels oor dwelms wat al hoe meer ‘n probleem raak.

    Volgende keer nog oor die outehuis bediening en ook die instandhoudingspan wat woes besig is.

    Voorbidding

    Bid saam met ons –

    1. ‘n Oop gemoed – baie van A2J het ‘n paar uitreike agter die rug en dit is maklik om te doen wat jy “weet” om te doen i.p.v. wat God wil hê ons moet doen.
    2. Dankie vir gesondheid – buiten vir een wat ‘n maaggogga gehad het die eerste twee dae en ‘n bietjie moegheid, is ons werklik geseën met gesondheid.
    3. Dankie vir die goeie samewerking van A2J onder mekaar. Bid ook dat hulle ‘n goeie verhouding met Loeries se kinders sal hê.
    4. Dankie vir die warm weer. Blykbaar is kouer weer om die draai. Bid dat ons sal vertrou en weet dat God sal voorsien, ook in die weer.
    5. Vir elkeen op die uitreik: dat ons verhouding met die Here meer persoonlik sal word en sal aanhou groei.
    6. Vir die “Badkamer” bediening / uitreik. Dat dit geseënd sal wees en ons God en die mense hier op ‘n nuwe manier sal leer ken. Soos iemand noem, daar is ‘n rede hoekom ons nie warm water het nie.
    7. Woensdagaand se Talentaand en Vrydagaand se DVD aand. Dat dit goed sal verloop.

    Dankie vir julle gebede, al kom die nuus van ons kant of ook stadig deur. Dit is verbleidend dat God ons in Sy hande hou soos julle ons ook in julle gebede hou.

    Groete,

    Johann

    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

    Uitreik – 25-26 Junie 2013

     


    Die middag se sport moes afgestel word oor die weer en die kinders het weer die ouetehuis besoek, waar sommige gruwelik bederf is en selfs roomys ontvang het. Ons het ook koekies vir die minderbevoorregte inwoners van die ouetehuis geneem, waar een omie opgemerk her “dit kom reguit uit die hemel uit”. Suzie het die oudste oom ontmoet: ‘n op-en-wakker 107!


     

    Die volwassebediening het voortgegaan om die kospakkies en linne uit ted eel deur middle van huisbesoek. Uit een van die huise het ‘n vrou gekom en gevra dat daar vir haar moeder gebid word. Sy het nie warm komberse of kospakkies gesoek nie, maar gebed. Die tannie Els is 66 jaar oud en ‘n parrapleeg. Haar dogter se geloof en liefde vir haar moeder het Corné-hulle diep geraak en hulle het ‘n wyle daar vertoef en klaar gerëel vir middele om dit vir haar net ‘n bietjie gemakliker te maak.

     

    Winston, ‘n bedlêende seun vir wie ons verlede jaar ontmoet het, het ook 18 geword. Die dames het hom besoek met nuwe beddegoed en ‘n geskenk.

     

    Die aand het ons talenkonsert gehou in die gemeenskapsaal.Die A2J –span bied dit aan en tree ook op as beoordeellaars. Hulle was briljant.  Daar was so 12 items, maar die ene wat my bybly was die item waar 9 17-jarige seuns ‘n liedjie gesing het wat een van hulle gedurende die week geskryf het en opgedra het aan ‘n vriend wat verlede Sondag sy eie lewe geneem het. Dit was hartroerend.  Meeste van die seuns woon ook dan bedags die lesse by wat deur A2J en tannie Petro van Pretoria aangebied word.

     

    Woensdag

    Woensdag was net so koud en ons het rerig gedink dit gaan sneeu.  Die hele dag gaan maar oor die uitdeel van die klere, wat ‘n groot voorreg is en baie vreugde verskaf. Dit verg nogals organisasie om al die klere uit te pak en seker te maak dit word redelik regverdig verdeel.  Oral in die dorp het mens die kinders sien stap met hul hopies klere onder die arm en groot glimlagte op die gesigte.

     

    Woensdagaand was daar ‘n gesinsaand by die kerk waartydens ons eie Ds. Martin die woord gebring het en daarna was dit die volwassenes se beurt om klere te kry. Baie harte is baie bly gemaak en baie lyfies het verseker warmer gaan slap as gevolg van al die skenkings wat ons namens die Vishoekers kon uitdeel.

     

    Van die A2J’ers

    Wat vir my uitgestaan het is hoe opgewonde die kinders was om totale vreemdelinge te ontmoet en hoe gou hulle jou vas gryp as jy vir hulle ‘n bietjie liefde en vriendelikheid wys.  Ook hoe almal by A2J soos ‘n groot familie is. – Danial

    Die is ‘n wonderlike geleentheid om saam met A2J na Sutherland te gaan. Dit is baie koud en dit is so mooi om te sien dat die kinders van binne af warm word as jy hulle van die Here vertel. – Elmarie

    Ek het met groot verwagting die Vrydagoggend opgestaan en glad nie geweet wat om te verwag nie. Opgewonde, maar baie gespanne. Wat vir my rerig lekker was, was die aand van praise and worship. Ek het in my lewe nog nooit die Heilige Gees so ervaar en so aan dinge gedink soos ek nou doen nie.  Ek is so bevoorreg en baie bly ek het gekom. Die kerke hier is entoesiasties oor alles.  Hulle loof en prys die Here met hulle hele hart en siel.  Hier kan ‘n mens die Here voorsien en hulle gee om oor mekaar en hulle naastes! Die kinders hier is net so oulik. Hulle soek net liefde. As ‘n mens hulle hand vas hou is dit asof hulle nie wil los nie.  Die lekkerste – jy kan hulle liefde gee. – Stephanie

    Almal van die kleintjies wat vanoggend in my groepie sop gekry het, is daar weg met ‘n, “Dankie, tannie”. – Riana

    Hope klere vir oud en jonk. Daar is voorsien deur die gemeenskap van Vishoek, Constantia en Tokai tot in Valhalla. Drukkies van dankbaarheid is uitgedeel en A2J’ers het hulle goed van hul taak gekwyt om die volwassenes soos koninklikes te laat voel. Ons kon weereens jonk en oud help met ‘n paar nuwe items in hul klerekas en is opreg dankbaar vir elkeen se bydrae hieraan. – Annette

     

    Allerlei

    Die instandhoudingspan het ‘n ou wat pik slaan in skinny jeans laat cool lyk…!

    Oom Moses vra die kleintjies (3-6 jaar) met Jona se verhaal, “Wie het vir God kwaad gemaak?”. Gou is die handjie op “Ekke!”

    Mickey, ons fotograaf, het self ook ‘n verrassingsdrukkie gekry van een van die kleintjies wat kom dankie sê vir die klere.

    Voorbidding

    Bid saam met ons –

    1. Dat ons sal luister en doen wat God se wil is in ons verhoudinge: leiers en jeug, jeug en groepies, ons en Christus.
    2. Vir die gesondheid van die span.  Die koue weer en stof in die lug sorg vir ‘n verkoues of seer keel wat pla. Ook vir krag en ‘n goeie gesindheid waar die moegheid beslis begin deurslaan.
    3. Vir koue en warm weer op die regte tyd.  Ons kon die hele dag deur werk sonder probleme met reën, maar die koue kan moeilik wees.
    4. Dankie vir hoe die Heilige Gees A2J toerus om die werk te doen wat hulle doen met die kinders en volwassenes. Om eerlik te wees is ons opleiding ‘n druppel in die emmer; dit is alleen deur Sy leiding.
    5. Vir moed, hoop en liefde vir die werk en geleenthede wat die laaste paar dae van die uitreik voorlê.

     

     

     

     

     

     

    Groete,

    Sutherland span,

    Johann en Heidi

     


    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.

    Uitreik Sutherland – 29 Junie-30 Junie 2013

     

    Saterdagmiddag begin die regpak en skoonmaak en word daar hard ge-oefen aan die aand se konsert, wat ‘n groot sukses was. Ons is vergas deur ‘n internasionale beoordeellaar, Gertjie Appelmoes (of was dit nou Appelkoos?) asook die beeldskone Sannie van Santon en oom Witbooi die derde. Die aand is afgesluit met terugvoer en daartydens almal kon opnoem wat vir hulle uitgestaan het van die week. Dankbaarheid vir dit wat ons het, is telkens genoem en Mariska het selfs voorgeneem om haar ertjies te eet. Tiaan, as een van die nuwelinge, noem hoe almal hom ingetrek het en hoe hy deel voel van die A2J familie. Vir sommige van ons het die eenvoudige dinge diep geraak, soos drukkies van die kinders en hul liefde. Die ouer (Sutherland) meisies noem dat as ons nie volgende jaar terugkom nie, dan sal hulle gaan waar ons ookal is.

     

    Dit was “‘n fenomenale Uitreik” (Martin) wat aangepak is met die Koningkryksperspektief, almal het gehelp waar hul ookal benodig was. Daarna het ons saam nagmaal gebruik en dit was werklik baie spesiaal.

     

    Sondag het ons maar met groot gesukkel opgestaan. Na stiltetyd is die inpak en skoonmaak voortgesit in alle ywer. Die saamwerk was, soos deurlopend deur die week, net fantasties. Martin het die erediens gelei en sy stem het net-net gehou. Baie het kom groet en hier en daar selfs ‘n geskenkie gebring, wat ongelooflik baie beteken.

     

    Die reis terug het goed verloop, behalwe vir Marc se ratkas …

     

    Die atmosfeer by die aankoms van die bus was een van gemengde gevoelens: vreugde om familie weer te sien, maar ook definitiewe hartseer oor die Pretorianers wat terug moet gaan en wat ‘n leemte gaan laat, aangesien hulle al so deel van die groep geword het.

     

    Vanoggend lees ek dat daar min ervarings is wat meer bevredigend is as om ‘n Godgegewe taak na die beste van jou vermoë te voltooi. Die week maal maar deur ‘n ou se gedagtes – so baie om te verwerk. Daar is egter geen “aftreeplan in die arbeidsveld van God nie” en ons moet bewus bly van waar God aan die werk is sodat ons daar kan aansluit en aanmeld vir ons volgende Godopgelegde takie. Maar miskien nie hierdie week al nie … Heidi

     

    Voorbidding

    Bid saam met ons –

    1. Dankie aan die Here wat ons kon gebruik om ander te help; hul omstandighede te verander. En so ons verander het.
    2. Dankie vir die gesondheid van die span en bid dat die laaste goggas gou deel van die verlede sal wees.
    3. Bid dat ons, leiers en kinders, sal aanhou om in vertroue op en afhanklikheid van die Here ons beroepe en skoolwerk aan te pak. Om aan te hou om uit te reik na die mense om ons, vriende en vreemdelinge.
    4. Vir Ds. Billy en sy vrou.  Vir opregtigheid in geloof en toewyding in leiding.  Ook vir wysheid.
    5. Vir die gemeente self – dat Christus sal voor loop in die gemeente.  Die Here voeg juis nuwe leiers / mense toe tot die gemeente om dit op te bou.

     

    ‘n Stukkie wat sê wat ons graag wil sê aan elkeen van die uitreikers, elkeen van julle:

    Fil. 1:3-6 “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. … omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.”

     

    Groete,

    Sutherland span,

    Johann en Heidi

     


    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.