Musiekbediening

Informele Musiekbediening

LOFPRYS- EN AANBIDDING

NG Kerk Vishoek akkommodeer ‘n wye verskeidenheid van aanbidding style tydens ons eredienste.  Uit die aard van ons eie grootword, orientasie, ouderdom, geloofsvorming, en selfs net plein musikale voorkeure sal dit so wees.  Party van ons het groot geword met die singende dominee Jan de Wet, ander weer met die VCSV se Louis Brittz en C#, terwyl vandag se jonger generasie weer luister na Retief Burger en Onbeskaamd!  Selfs binne die informele musiekbedieningsgroepe (daar is tans drie groepe) verskil die styl en aanslag van mekaar.  Klassieke klavier en viool werk lekker vir die een groep, terwyl kitaar en tromme weer ‘n oor vind by die ander.  Die feit is, dat ons elkeen God aanbid op ‘n unieke en besonderse manier.  Die wonderlike daarvan is dat daar by NG Kerk Vishoek daarvoor ruimte geskep word en dat ons mekaar so ook akkommodeer.

Daar is nie ‘n “blue-print” vir die “korrekte” manier om God te loof en prys nie.  Die belangrikste vereiste is dat ons Hom aanbid in gees en waarheid (Johannes 4:24), in opregteid en eerlikheid.  Die fokus van ons lof is daarom, God en God alleen.  Ons lofprysing en aanbidding is nie daarop gerig om mense te vermaak, of om te “perform” nie.  Terselfdertyd vra ons van die gemeente, om nie net bloot toeskouers te wees nie, maar fasiliteer ons die gemeente om responsief deel te neem en elkeen sy of haar individuele offer van lof aan God te bring (Hebreërs 13:15).

Efesiërs 5:19

Terwyl julle saam psalms en lofsange en geestelike liedere sing. 

Sing en jubbel met julle hele hart tot eer van die Here.

 

EEN VAN ONS MUSIEK GROEPE

Marleen, Mandie, Alwyn, Leon en Liam

 

Ons het altyd nog musikante en sangers nodig.  Om by ‘n musiek groep aan te sluit, kontak ons musiekbedienings sameroeper – Andries Swanepoel by kerk@ngvishoek.co.za – of kom praat met een van die groepleiers na afloop van die diens.

 

Koor

Dona, nobis, pacem

(Gee ons vrede)

 

Riëtte Heslinga

 

Elke keer wanneer ons orrelis praat van ‘n “oorwurm” voel ek hoe ‘n grillerige gogga met knypers in my kop boor!  Maar dit ίs ‘n term in musiekteorie.  ‘n Oorwurm is  ‘n deuntjie wat in jou kop bly draai; dwarsdeur die dag en dwarsdeur die nag.  Dona…nobis…pacem.

 

“Sing vir jouself in die spieël” is ons orrelis se opdrag.  Geen ydelheid dááraan nie.  Die klanke moet mooi gevorm word.  

 

Die koor is in 2001 gestig met 15 begeesterde lede.  Teen 32 sterk sien ons kans vir “Die Halelluja” van Handel.  Ander uitdagende stukke wat ons aanpak is “Locus Iste” van Bruckner en “Ave Verum Corpus” van Mozart.  Ons sluit ‘n era saam met Johan af wanneer ons DV Sondag, 15 Mei, Vivaldi se “Gloria” gaan sing.

[supsystic-gallery id=’4′ position=’center’]

Elke jaar voer ons vier uiteenlopende liedere by die Kerssangdiens op.  Met ‘n gemeentekonsert spring ons uit ons kassies: “Oklahoma, OK!”

 

Huidiglik is daar 16 mense in die koor.  Min bedank nadat hulle die saamwees ervaar het maar helaas, die lewe gebeur.  Mense trek weg of verhuis na die Hemelse Vader.  So het ons met baie hartseer oom Jack, tannie Hannah, Gerrit en Jock vir altyd gegroet.

 

As jy nootvas is en jou stem met ander harmonieer; kom sluit by ons aan.  Ons het net een tenoor!

 

Dinsdagaande word daar nie net geoefen nie.  Ons gesels, vertel stories, maak grappies, wys foto’s en deel vrese en kommer.  Ons het Callie se dogter, Vasti, dwarsoor die Atlantiese Oseaan gebid.  Sy en haar avonturier vriend het die tog sonder enige ondersteuning in ‘n 6,9 meter roeiboot aangepak!

 

Vannag bêre jy die laaste note onder jou kopkussing:  “Let there be peace on earth and let it begin with me.”