A2J Uitreik: Loeriesfontein Deel 1 28-30 Junie 2014

By die koshuis aangekom is dit afpak, kamers kry en die minder goeie nuus – daar is nie warm water nie. Loeriesfontein het streng waterbeperkinge en ons het probeer om al die watertenks reg te kry voor ons kom, maar dit was nog nie heeltemal reg nie.

Die aand kry elkeen sy uitreik top, ‘n serp (vir die koue aande) en ook ‘n pet wat geskenk is. – Handig vir die paar warm dae wat ons sover gehad het.

Sondag

Die oggend is die span na die VGK en die NGK se dienste toe. By die VGK het die band behoorlik gespeel met o.a. ‘n een snaar baskitaar wat self gemaak is!

By die NGK het dit eers vreemd gelyk omdat die kerk so leeg is, maar ons is genooi vir tee en hier het ‘n ander uitreik begin: Loeriesfontein het hulle huise (en storte) vir ons oopgemaak. ‘n Vrou het ‘n lys name gereël wie ons kon bel om te gaan stort, terwyl die hotel en die “pub” ook toegang gegee het vir storte. Elke stort het hand aan hand gegaan met ‘n kuier koffie :-).

* In die paar dae reik die gemeente uit op ‘n besondere, persoonlike manier na ons terwyl ons weer kan kuier en getuig waarom ons gekom het en wat elke dag gebeur. Hulle wil net weet waarmee hulle nog kan help.

Die middag is dit tyd vir ouetehuis. Hier is twee ooms wat vanjaar 100 word en ‘n hele paar mense ouer as 90. Die meeste se gesondheid is egter nog uitstekend. Van A2J (en ekself) vind dit maar vreemd om met die ouer mense te begin gesels. En dan die verrassing dat jy dit geniet, dat mense sê hulle bid vir jou – soos jy nou vir hulle gebid het – en jy weet ons dien dieselfde Here. En ook hoe klein die wêreld is: twee van die tannies se kleinkinders bly in Vishoek of trek binnekort soontoe.

Die aand is ‘n Lofprysingsaand in die VGK se saal waar elkeen ‘n kans kry om weer stil te raak voor die kruis en ook saam met iemand te bid. Verlede week is ‘n kleintjie oorlede aan verstikking en die oupa kom vra dat ons bid vir die gesin en die hartseer. Dwelmmisbruik en tienerswangerskappe krap hier ook gesinne deurmekaar met baie hartseer waarvoor ons gebid het.

* ‘n Stukkie (persoonlike) goeie nuus: in 2007 was Jeffrey in my groepie, so ek het gewonder of hy nog hier is en hoe dit gaan (hy was die stout een 🙂 ). – Hy het kom “hallo” sê, vir “lang Jaco” gesoek wat saam hier was en vertel hoe opgewonde die mense is dat Vishoek hier is. En hy glimlag net!

Maandag

Die eerste “lessies” dag vir die week skop af en A2J nooi kinders by hulle huise om saam te kom speel en in te kleur. A2J word 2-2 ingedeel en bied dan die lessies aan vir 10-25 kinders in hul groepie. Liedjies word gesing – van die “monkey” om die lyfies warm te kry in die oggend tot “One-way – Jesus!”.

Elke kind by die lessies kry deur die week ‘n geskenkpakkie uit die geskenke wat aan ons gegee is. Elke dag is daar ook sop en broodjies. Vir die eerste dag het ongeveer 290 kinders sop gekry. Die laaste 50 het Nick-nacks en koeldrank saam met die broodjie gekry toe die sop op is. So 340 kinders vir die oggend.

Ondertussen het Rohuan, Riki en Evette ‘n bloeddruk en suiker toetskliniek gehou by die VGK saal. Dit is hierdie week elke oggend en 37 mense het die eerste dag gekom. ‘n Stukkie luister en gesels is natuurlik noodsaaklik om die bloeddruk laer te kry.

Die middag is poppekas, “Poof” en “Paff” – ons eie ruimtemannetjies  wat kom kuier en ook sport. Hoola hoop, touspring, rugby, krikiet, netbal – alles word met groot entoesiasme gespeel. Op ‘n stadium het die klein mannetjies rugby besluit om vir lange Stefan te tackle dat hy bloei. – Vandag sal ons eerder sokker speel met hulle :-).

Die aand bied Riki ‘n noodhulpkursus aan vir die gesinne, sodat hulle weet wat om te doen wanneer dinge verkeerd loop tuis (soos met die verstikking). 74 mense kon die aand bywoon en buiten vir ‘n hele paar vrae aan die einde, vra hulle ook vir die aanbieding notas sodat hulle dit weer kan deurgaan.

By die koshuis reël ons badkamer bediening vir die meisies en volwassenis. – Die seuns kon die middag warm storte kry.

Later die aand getuig Gabie van haar eie lewe en “When life doesn’t make sense”. Hoe God die stukkende stukkies in haar lewe aanmekaar sit deur sy Woord en sy Gees en hoe ons deur ons eie hartseer te deel, juis geleentheid skep vir ander mense om ook hulle hartseer te deel.

Los stukkies

Watse tipe kuiergaste is julle wat net stort en dan gaan sonder ‘n koppie koffie? – Callie, Loeriesfontein

‘n Mens kon die muise in die plafon hoor toe ons bid. – terugvoer, VGK diens.

“Haal af jou hoed.” – die kleintjie wat bid vir die sop aan Ds. Martin voor hy begin.

Vanaand is gesinsaand en ons wil met die gesinne ook gesels oor dwelms wat al hoe meer ‘n probleem raak.

Volgende keer nog oor die outehuis bediening en ook die instandhoudingspan wat woes besig is.

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. ‘n Oop gemoed – baie van A2J het ‘n paar uitreike agter die rug en dit is maklik om te doen wat jy “weet” om te doen i.p.v. wat God wil hê ons moet doen.
  2. Dankie vir gesondheid – buiten vir een wat ‘n maaggogga gehad het die eerste twee dae en ‘n bietjie moegheid, is ons werklik geseën met gesondheid.
  3. Dankie vir die goeie samewerking van A2J onder mekaar. Bid ook dat hulle ‘n goeie verhouding met Loeries se kinders sal hê.
  4. Dankie vir die warm weer. Blykbaar is kouer weer om die draai. Bid dat ons sal vertrou en weet dat God sal voorsien, ook in die weer.
  5. Vir elkeen op die uitreik: dat ons verhouding met die Here meer persoonlik sal word en sal aanhou groei.
  6. Vir die “Badkamer” bediening / uitreik. Dat dit geseënd sal wees en ons God en die mense hier op ‘n nuwe manier sal leer ken. Soos iemand noem, daar is ‘n rede hoekom ons nie warm water het nie.
  7. Woensdagaand se Talentaand en Vrydagaand se DVD aand. Dat dit goed sal verloop.

Dankie vir julle gebede, al kom die nuus van ons kant of ook stadig deur. Dit is verbleidend dat God ons in Sy hande hou soos julle ons ook in julle gebede hou.

Groete,

Johann

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.