Besluit betyds

Die punt is, hierdie besluit moet jy laaaaank voor die tyd al neem – nog daar by die huis al. As stinkasem in jou gesig brul, is daar verseker nie tyd vir dink, of vir besluit nie. Dis te laat! Die besluit moet lank voor die tyd afgehandel word, en in jou kop in geprogrammeer wees.

 

Net so is dit in ons lewens. Ek en jy moet ons lewensbesluite maak lank voordat die moeilikheid kom. Geestelike paraatheid vir tye wanneer daar nie tyd is vir dink nie. Jy sien, ek en jy kan nie altyd voorspel wat op ons pad gaan kom nie, maar ons lewenswyse moet voorspelbaar wees en so ook ons optrede. En dit alles moet gebaseer wees op ons waardes. Die vraag is, het jy ‘n beleid oor elke moontlike ding wat dalk op jou pad mag kom? Is verskillende scenarios al deurgedink? Is ek en jy paraat genoeg om enige ding te hanteer?

Besluit betyds. Salomo het gesê:

Spreuke 6:24-35
24 My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van ‘n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei.
25 Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie.
26 Jy kan ‘n prostituut kry vir ‘n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos.
27 Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?
28 Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?
29 Net so min kan jy by ‘n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.
30 ‘n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil,
31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit.
32 Maar ‘n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe.
33 Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie.
34 Die woede van die vrou se man is ‘n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie;
35 hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.

Salomo leer sy seun, en waarsku hom teen ‘n klomp lewensgevare. Hy waarsku hom soos ‘n pa wat al die effek van verkeerde besluite gesien het. Eintlik sê hy: wees dit te wagte dat hierdie goed oor jou pad gaan kom … soos die uitdrukking sê “the cheque is in the mail”. Dinge gaan oor jou pad kom, maar neem nou al die besluit van hoe jy gaan optree. Hoe gaan jy staande bly as die leeu storm?

Hier is ‘n pragtige teks:

Spreuke 6:23
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe”

Sjoe, dis nogal diep. Dis seker die kruks van die hele ding: wees versigtig met wat in jou hart omgaan. Kyk maar as ‘n getroude man roekelose opmerkings oor vroue maak, en verkeerde gesprekke aanknoop, en onbetaamlike komplimente aan ander vrouens maak, dan hoor jy iewers dat hy gevou het, dat hy ontrou was. Kyk bietjie as iemand aanhoudend net oor geld praat. Geld, geld, geld … Dan is dit nie verbasend as hy homself verkeerdelik iewers aan iemand anders se geld gehelp het nie. As iemand aanhoudend rassisties, afbrekend praat kom hy dalk iewers in die moeilikheid daaroor. Want, jy sien, wat die hart van vol is loop die mond van oor. Wees versigtig met wat in jou hart omgaan …..

Kyk na nog ‘n skrifgedeelte:

Spreuke 4:10-14
10 Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou lewensjare baie maak.
11 Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop.
12 As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
13 Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe.
14 Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense.

Hoe neem ons dan ons lewensbesluite?

1. Ken die gevare van die lewe. Salomo spreek sekerlik elke moontlike ding aan … so, lees Spreuke. As ek en jy nie die gevare ken nie, sal ons blindelings in ‘n gat trap, en baie seer kry en seer maak.
2. Doen ‘n risiko analise. Moenie na plekke toe gaan waar die risiko’s groot is nie. Veral as alles in jou lewe nie 100% in plek is nie. As mens se finansies in die moeilikheid is, en jy werk met ander se geld, is die risiko’s baie groot wanneer die versoeking verbykom. As mens se huwelik so ‘n bietjie in ‘n drukgang is, bly jy ver weg van ander vrouens af, of van situasies waar jy verlei kan word. Dek die risiko’s af – bly weg!
3. Maak somme. Bereken die skade, en die potensiële skade. Een enkele stomme foutjie kan vir dekades skade maak.
4. Moet niks doen, of sê, wat nie totaal deursigtig is nie. Weet dat die Here alles sien.
5. Neem die besluite vandag … oor ander partye, geld, humeurigheid, transaksies, omkopery, eerlikheid, drank, ens. Hierdie goed wat alles kan vernietig. Besluit betyds, en maak jou besluit bekend, sodat ander jou tot verantwoording kan roep.

Besluit betyds. Dis nooit te laat om nuwe besluite te neem nie. Daar is ‘n klomp voordele om betyds te besluit:

1. Jy hoef nie bang te wees dat ‘n onverwagte situasie jou sal onderkry nie. As die leeu storm, vra jy: “watter leeu?” … en kou rustig verder aan jou chappie.
2. Dit maak dat ander op jou integriteit kan staatmaak. ‘n Man met integriteit en ‘n rotsvaste waardestelsel, sien jy op ‘n myl raak. Niks gebeur agter die deur nie, geen geraamtes in die kas nie.
3. Betyds besluit meen dat jy nooit in die moeilikheid sal kom nie.
4. Dit maak dat ons nooit hoef te wonder of iets sonde is nie. Jy hoef ook nie te wonder wat die Here sal dink van jou optrede nie. Die spreekwoord sê mos: as jy twyfel, moenie!
5. Betyds besluit vat onsekerheid oor mens se eie swakheid uit die pad uit. Jy sien, as alkohol ‘n probleem in jou ouerhuis was, is die risiko miskien hoër vir jou. Dus, besluit om dit liewer te los.
6. Betyds besluit beteken dat mens die Here toelaat om die pad saam met jou te stap. Want dan kan jy Hom vertrou om jou die krag te gee wat jy nodig het.
7. Dit bring vrede vir my en jou en almal. En versoekinge sal outomaties uit jou pad bly.
8. Leer ook jou kinders om betyds te besluit.

Ef 4:27 “Moenie die duiwel ‘n vatkans gee nie” – besluit betyds!

Bron:  heuning.co.za

Wie se skuld is dit?


Ons soek te maklik verskonings vir dinge wat verkeerd loop. Apartheid is nie ons skuld nie, dinge by die werk wat skeefloop is nie my skuld nie. Iemand anders is altyd die skuldige. Ons is nie bereid om die verantwoordelikheid vir iets wat verkeerd loop te aanvaar nie. Die blaam word heel maklik verskuif.

Dalk is dit tyd dat ons erken as ons verkeerd was. Moenie wegskram van die waarheid nie. Kyk die lewe in die oë en erken jou skuld. Moeilikheid word soveel vinniger opgelos as mens kan erken dat jy verkeerd was. Hoe vinniger daardie belydenis gedoen word, hoe vinniger kan daar oplossings gevind word vir dit wat verkeerd geloop het.

Onthou om sommer vandag op te hou om ander te blameer. Neem verantwoordelikheid vir jou optrede en besluite en moenie blaam verskuif na ander nie. Neem ’n besluit om te erken as jy verkeerd is en jammer te wees vir jou verkeerde optrede. Moenie huiwer om verskoning te vra nie. Voor God staan ons almal naak, want Hy weet alles van jou. Hy ken jou deur en deur en weet wat jy gedoen het. Hom kan jy nie flous nie. Bely eerstens voor God, want voor God staan jy alleen met jou sonde. Gaan dan na die betrokke mense om te sê dat jy verkeerd was. Wees totaal eerlik en moenie nog deeltjies wegsteek nie. Neem verantwoordelikheid vir dit wat jy verkeerd gedoen het.

Gebed

Here, ek staan skuldig voor U. Vergewe my. Gee vir my die woorde om eerlik voor mense te staan as ek verkeerd is.

Bron: ekerk.org

Een Kleur Van Waarheid


‘Wie is ons om te oordeel’ – die slagspreuk van ons tyd
Die titel van die fliek kondig reeds die waarheid aan – grys – die kleur van kompromie.  Dit laat my dink aan wat die Woord ons oor  louheid leer – iets wat God uitspuug.  Die verstommendste was die mense se aggressiewe kommentaar: “Wie is jy om my te oordeel?”
Enige gesprek oor reg en verkeerd, sonde of nie, hetsy die geselsie by die werk, tussen vriende, of op sosiale media, bevat die woorde: Wie is ons om te oordeel…Elke mens maak sy eie keuses…Jy kan nie vir my besluit wat reg en verkeerd is nie.

Die Woord soos dit ons pas
Het ons as Christene in ons eiewaan van menseregte, dalk die punt bereik dat nóg mense nóg God ons mag oordeel?  Lees ons God se Woord soos dit ons pas?  Is daar iets in ons diepste wese wat voel: Wie is die Heilige Gees om ons te oordeel?  Wat wil redeneer dat elke mens God se Woord tog lees en interpreteer soos hy wil, of hoe?
Die hartseer saak is dat as iemand op sonde in sy lewe gewys word, almal na God se Woord gryp wat sê dat nie eers Jesus die prostituut veroordeel het nie; dat die een sonder sonde die eerste klip moet gooi – ’n lekker wegkruipvers om in sonde aan te karring.  Miskien moet ons onthou dat Jesus die prostituut vergewe het sonder oordeel, maar dat Hy haar ook gemaan het om dit nie weer te doen nie.

Die engel van die lig
As ons nie toelaat dat God se Woord ons gees, ons denke, keuses en leefstyl aanspreek en verander nie, sal die satan altyd tot ons manier van dink en leef toegang hê. 2 Tim 2:26 praat van die strik waarin ons trap – vir die satan om dan met ons te maak soos hy wil.  Hy kom in die gedaante van ’n liefdesverhaal van die onskuldige meisie wat weggevoer word deur ’n man in beheer.
Die sterk intrige verblind ons vir al die boosheid van die BDSM (Bondage Discipline Sadomasochism) wat plek-plek plaasvind en die buitehuwelikse seks, om maar ’n paar te noem. As Christene moet ons so geoefen wees in die Waarheid dat die leuen homself ontbloot.
As ons egter bereid is om so ’n bietjie van die leuen te verdra ter wille van die mooi storielyn, beweeg ons op die terrein waar die strik lê en wag.

Die spreekwoordelike padda in die warm water
Dit verg nie ’n Einstein om te sien hoe die wêreld die grense van wat reg en verkeerd is kort-kort verskuif nie.  Ons word omring deur sagte pornografie en kom dit nie eers meer agter nie.
Homoseksuele verhoudinge word in elke tweede sepie en rolprent aangeblaas.  Buite-egtelike seks is die norm en saambly voordat ons trou, word nie meer veroordeel nie.  Is ons so gekondisioneer dat ons al in kookwater swem?

Sondige leefstyl geregverdig
Is die ligte vermaak van BDSM in die boek en fliek die begin van gewelddadige seks wat geregverdig word en eersdaags deur meer paartjies getoets gaan word in ’n soeke na iets nuuts vir die slaapkamer? Ons het reeds bekendes in ons land wat openlik in koerante en tydskrifte van hulle BDSM-leefstyl praat.

Een kleur van waarheid teenoor skakerings van sonde
My hart huil oor ons verslapte grense, ons louheid, ons selfregverdiging.  Bowenal huil my hart oor die gees van wellus wat ons kinders verteer – ’n gees waarvoor ons as volwassenes die deur oopmaak in die naam van avontuur en romanse.  Here, help ons!  Gee ons ’n gees van onderskeiding.  Gee vir ons die moed om U Woord te volg, ’n soeke na reinheid wat U Woord sal toelaat om ons te louter en te vorm, ons te weeg en ons te laat weet as ons te lou of te grys is.  As kind van die Here kies ek nie enige van die 50 skakerings van leuens, sedeloosheid of rebelsheid nie. Ek kies een kleur van Waarheid!

GRETHA WIID
is ’n verhoudingskenner, gasspreker en skrywer.  Volg haar op facebook of twitter

Bron:juig.co.za

Swak keuses wat jou naam skade doen


Jesus eet by ’n Fariseër se huis en ’n vrou met ’n reputasie daag ook daar op. Die mense van die dorp ken haar. Hulle bespreek haar lewe gereeld. Sy het swak keuses in haar lewe gemaak. As daar nou een dame is wat haar lewe opgemors het, is dit sy! Sy was Jesus se voete en dan maak sy dit met haar hare droog. Sy weet hoe sleg sy is. Sy besef deeglik hoe verkeerd sy lewe. Sy wat heeldag in die modder rondploeter, weet wie Jesus is, en met haar sondebesef, is Hy haar enigste hoop redding!

In ’n woordelose belydenis, ontvang sy hemelse vergifnis. Hierdie vergifnis hou aan tot in die ewigheid. Sy sal lewe in die koninkryk van die Hemele. Haar sondes is vergewe. Maak nie saak hoe sleg of hoe lelik haar sondes was nie, sy is vergewe. Sy is wit gewas in Jesus se bloedrooi bloed. Haar lewe het verander. Haar sondes is weg. Niemand kan meer iets oor haar sê nie. Die skindertonge van die dorp kan maar stilbly.

Hierdie vrou was bereid om die kans te waag na haar slegte keuses. Sy het presies geweet hoe verkeerd sy was en hoe sonde haar opgevreet het. Sy het egter geweet waar die hoop was. Sy het alle hoop op Jesus gevestig! Hy het haar fokuspunt geword. Jesus het haar belydenis beleef en haar vergewe.

Maak nie saak wat jy al gedoen, of nog gaan doen nie. Jesus sal jou vergewe. Jy moet met jou lewe voor Hom tot stilstand kom om hierdie hemelse vergifnis te ontvang. As jy dit kan doen, is Jesus se arms oop vir jou. Verander vandag daardie slegte keuse van jou waaroor almal saggies praat, in iets waaroor die hemele kan juig saam met jou. Ontvang vergifnis en proe God se genade in jou lewe.

Gebed

Here, ek staan woordeloos met my sonde voor U! Vergewe my asseblief!

Amen

Bron:ekerk.org

Uitbranding: die onaangespreekte kerk-siekte

 

DIE FEITE (aangehaal uit: JY KAN ’N VERSKIL MAAK: Stephan Joubert, CUM BOEKE, 2014):

Volgens ‘n artikel deur Paul Vitello in 2010 in The New York Times getiteld: “Taking a Break From the Lord’s Work” is uitbranding onder leraars tans aan die orde van die dag. Hy begin sy artikel met die woorde: “Members of the clergy now suffer from obesity, hypertension and depression at rates higher than most Americans. In the last decade, their use of antidepressants has risen, while their life expectancy has fallen. Many would change jobs if they could.”

Die Amerikaanse webblad PastorBurnout.com haal statistiek aan wat bevind 13% van aktiewe leraars is geskei; 33% leraars brand uit binne die eerste vyf jaar in die bediening en meen hulle bediening is ongesond vir hulle familieverhoudings; 40% van alle leraars, en 47% van hulle eggenotes ly aan uitbranding vanweë onrealistiese verwagtinge van hulle werk en oorlading; 50% leraars voel hulle is onbekwaam vir die eise van hulle werk; 56% leraars se vrouens sê hulle het geen goeie vriende nie; 57% leraars sou dadelik ‘n ander beroep beoefen indien hulle een kry; 75% beleef ernstige stres wat ly tot woede, angs, depressie en vervreemding.

DIE VRAAG:

Hoe is al hierdie dinge moontlik? Wel, dit gebeur omdat mense op soek is na “herders wat altyd vir en in die gemeente beskikbaar is en dien” soos wat ek onlangs in ‘n kerklike advertensie vir ‘n leraarspos raakgelees het. Mense soek leraars wat min of meer alles kan doen omdat hulle hiervoor betaal word. Hulle moet kan bid, preek, praat, troos, raas, bemoedig, vrede maak, probleme uitsorteer, sondaars bekeer, gelowiges opbou, huisbesoek doen, huwelike red, jongmense verstaan, oumense versorg, dooies begrawe, troues hou, vergaderings lei, kommissies bestuur… o ja, en dan moet hulle ook nog ure aan gebed en studie van die Woord wy.

Helaas maak onrealistiese verwagtings dat baie leraars in “geestelike skakelbeamptes” verander wat almal ter wille moet wees. Tog ken die Nuwe Testament nie “professionele geestelikes” wat alles vir almal moet wees nie. Die kerk is die lewende liggaam van Christus. Gelowiges vervul hier sekere funksies volgens die gawes wat die Here vir hulle elkeen gegee het. Geestelike leiers se rol is slegs om gelowiges toe te rus om hul plekke vol te staan vir die Here; nie om alles self te doen nie.

Kom ons staan elkeen ons plekkie in God se koninkryk en kerk vol. Dan verdwyn die rook van uitbranding soos mis voor die son!

Bron:  ekerk.org

Het jy ‘n plan?

Diegene wat wel planne het, voer dit selde deur. Iets meer is nodig as net om oor goeie planne te beskik. Ek praat van ’n verhouding met Iemand so groot dat jy bereid is om jou hele lewe eksklusief onder sy heerskappy te leef. Nog altyd het daardie klein groepie mense wat die regte soort impak maak agter Iemand aangeloop wat groter is as al hulle drome en ideale. Ek praat van Christus. Diegene wat Hom volg, het geleer om hulle eie planne in te ruil vir Syne. Sy plan om God se koninkryk orals op aarde te laat inbreek, het hulle daaglikse agenda geword.

Jesus se hartseer oor al die donkerte in die wêreld het ook hulle las geword. Sy opstand teen godsdienstige skynheiligheid het hulle eie ontevredenheid geword. Sy hoop vir nuwe gemeenskappe waar God se geregtigheid en liefde wen, het hulle lewenslange padkaart geword. Jesus het immers sy hart oorgeplant in diegene wat in sy Naam die wêreld anders leef, kyk, doen en praat. Sy hart klop in elkeen wat God se planne ken en doen.

Bron:  ekerk.org

Lewe God raak in die GEWONE LEWE


Wat het nie-Jesus-mense nodig om by ons te hoor van Jesus?
·         Jesus het lank gelede volledig betaal vir al ons sonde aan die kruis: dit beteken alle sonde is reeds vergewe!
·         Jesus is die ware God en Hy is die enigste God wat goed is en nooit meer iets teen ons hou nie!
·         Niemand het nodig om enige iets te doen, te gee of op te offer om ‘n Jesus-mens te wees nie – die lewe saam met Jesus is gratis en sonder enige voorskrifte en voorwaardes.
·         Jesus gee ons sy beste, naamlik die Heilige Gees, om ons volledig vol te maak met Homself en vry te maak om werklik te lewe.
·         Jesus-mense is 24/7@365dae in Jesus se teenwoordigheid, en daarom hoef jy nie bang te wees vir enige gevare of probleme nie – Hy is in, by, rondom, onder, bo, langs jou!
·         Jesus is vandag lewendig en kragtig en aktief deur sy Gees besig om jou meer te laat word wat jy reeds vir Hom is.
·         Jy is kosbaar, geliefd, gered, mooi en alles wat jy bedoel is om te wees in God se oë!

Is al hierdie waarhede te teoreties of te veel “kerklike taal”? Dan het dit dringend tyd geword dat ons baie duideliker vir die wêreld sonder Jesus, gaan vertel dat Hy vandag lewe. Gaan vertel hoe jy Hom daagliks raak lewe in klein en groot dinge wat in jou lewe gebeur. Hy is nie ‘n vreemde wese van ‘n ander planeet nie, Hy is planeet aarde se enigste Koning, Hy is steeds in beheer, en Hy wil deel wees van ons daaglikse doen en late op ‘n baie natuurlike en gemaklike wyse.

Ons het nodig om asem te haal om aan die lewe te bly – ware lewe is net so slegs moontlik met God se Gees in jou!

Bron:  http://doomcharl.blogspot.com/ NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.