Die doel

Ek weet nie wat die regte antwoorde is nie. Wat ek wel weet, is dat daar nie kitsantwoorde op sulke vrae is nie — ek bedoel daardie Google tipe wat binne 0,005 sekondes tien sakpas antwoorde op enige probleem op jou lewe se rekenaarskerm plaas nie.

 

Ek identifiseer graag met Spreuke 25:2 dat God se planne ten diepste onverstaanbaar is. Of met die woorde van Prediker 8:17 dat mens eers iets van God begryp as jy die lewe juis nie verstaan nie! Hierdie woorde is goeie nuus, want dit sê jy is nie geroep om alles in die lewe haarfyn uit te pluis nie. Anders gestel, om sin te maak van die lewe, is nie gelyk aan die rasionele verstaan van wat die “groot doel” met elke gebeurtenis is nie.

Hoor weer, die Prediker meen jy snap iets van God as jy in dieselfde asem besef die lewe is onverstaanbaar.

 

Om gelukkig te wees in hierdie holderstebolder wêreld van ons moet jy ten alle koste ‘n nuwe roetine aanleer volgens die Prediker. Jy moet leer om jou brood met vreugde te eet. Jy moet vreugde skep in dit wat jy elke dag doen (2:24-5).

Dan ontdek jy die goeie hand van God op verrassende maniere en op onverwagse plekke. Moenie jou kop moegmaak oor dinge wat te groot is vir jou verstand nie.

Betekenis lê in die omhelsing van eenvoud en in die skep van vreugde met die bietjie wat jy in jou hand het. Dan ontdek jy God se voetspore sommer hier op jou eie lewe se voorstoep (ekerk).

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.