Die Groeschels is ’n paartjie wat in Amerika ’n hele klomp gemeentes bestuur en invloed oor talle mense uitoefen. Craig het ook verskeie topverkoperboeke gepubliseer en bekend geword regoor die wêreld.
Die egpaar maak hulle harte oop en deel hulle persoonlike ervarings om die vyf belangrikste beginsels met hulle lesers te deel wat hulle meen al die verskil in hulle lewe gemaak het. Jy kan ook jou huwelik sterker maak deur hierop te konsentreer.
Eintlik is die beginsels so voor die hand liggend dat elkeen van ons dit kon uitdink. Die vraag is: het jy dit al in jou lewe begin toepas?
Die beginsels is: Stel God eerste, bo alle ander mense of besittings. Baklei regverdig. Maak altyd weer tyd vir pret. Bly rein deur getrou te bly. En moet nooit opgee nie.
En wat belangrik is: dit maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie, en hoeveel foute van weerskante gemaak is nie, vandag kan ’n nuwe dag word. ’n Nuwe kans en ’n nuwe begin. Van vandag af vorentoe kan jy genesing vind wat jou in staat sal stel om intiem met iemand saam te leef. Van vandag af kan jy waarlik vergewe soos jy vergewe is. En kan jy nader aan jou huweliksmaat beweeg as ooit tevore.
Dit is ’n boodskap van hoop, dat God jou toekoms kan verander indien jy Hom vra en Hom toelaat. En hierin lê die groot waarde van die Groeschels se raad: jy kán, in Christus. In Hom is jy meer as oorwinnaar.
Hier het jy ’n gawe boek wat enige getroude mens se lewe gaan aanspreek en verryk. Ideaal as ’n geskenk vir mense wat trou of hulle huweliksherdenking vier. Of vir jouself, indien jy kans sien om jou huwelik se geluk eksponensieel te vergroot!
Bron:ekerk.org