Ek kry gelukkig die kans om met van die inwoners te gesels en hulle verhale aan te hoor. So tussendeur neem ek foto’s en die aand besef ek eers wat het ek vasgevang op my kamera. Ek het mense vasgevang wat ʼn normale lewe binne die terrein waar hulle in afsondering woon lei. Mense wat lag, huil en drome droom. Gesinne met kinders, alhoewel ma en pa dalk al ʼn paar amputasies agter die rug het.
Toe ons bid neem ek ʼn foto van ʼn vrou se hande wat baie respekvol bymekaar gehou word. Nie al die vingers en litte is meer daar nie en die ander is maar knopperig. Dit verhoed nie dat sy dit saamvat in die gebedshouding nie.
Toe ons ry was ek diep onder die indruk van dit wat hierdie mense ervaar en waaroor hulle droom. Gesondheid is hoog op die prioriteitslys, maar ek ervaar iets anders. Ek ervaar mense wat gesond geword het in hulle verhouding met Jesus Christus. Geestelik is hulle gesond en gemaklik met waar hulle is. Tevrede in Christus, tevrede dat Sy genade elke dag genoeg is en sal wees.
En as jy dalk vandag genesing verlang, mag jy dit vind in jou verhouding met Christus Jesus en mag Sy genade vir jou genoeg wees, elke dag, sonder ophou. Jou siekte mag dalk nie weggaan nie, maar jy mag geestelik gesond word.
Gebed: Dankie Here Jesus dat u elke dag daar is vir my. Dankie dat ek genesing in en deur u mag ondervind.
Amen.
Bron: versndag.co.za