Hy sélf gaan jou vooruit

Milanie Vosloo

 

Die Here self het voor hulle uitgegaan. In die dag het Hy vir hulle die pad gewys met ‘n hoë wolk wat voor hulle uitgaan. In die nag was daar ‘n bol vuur in die lug wat vir hulle lig gegee het. Eksodus 13: 21 

 

Ons is almal bang vir die onbekende. Daarom is ons maar altyd versigtig vir enige verandering, draai ons maag as ons by ‘n nuwe werk moet begin, is ons onseker as ons iets moet doen wat ons nie voorheen gedoen het nie en voel ons maar gou onveilig wanneer ons ‘n onbekende roete moet volg. Gelukkig weet God dit. Hy ken die bang-onseker van ons harte en verstaan ons vrese vir die onbekende. Juis daarom belowe Hy op soveel plekke in sy Woord dat Hy sáám met ons op onherbergsame paaie sal loop. Soos Hy destyds die volk met ‘n wolk- en vuurkolom deur die woestyn gelei het, so gaan Hy jou elke dag vooruit. Bid vandag saam met die Psalmdigter, Dawid:

 

As ek begin bang word, besluit ek net daar om op U te vertrou. Ek prys God vir sy belofte dat Hy my sal help. Op Hom vertrou ek sonder om bang te wees… Ek weet dat God aan my kant is. Hy staan by my. Ek prys God omdat Hy belowe het dat Hy my sal help. Ek loof die Here. Hy hou sy woord. Ek vertrou op God; daarom is ek nie bang nie. Psalm 56:4,5a, 10b-12a

 

Gaan my vooruit, Here. Ek volg.

 

Net soos jy is – uitgegee deur CUM

Bron:ekerk.org