Ongetwyfeld vind selfverliefdheid op doelbewuste en subtiele maniere uitdrukking op Facebook of Twitter. Facebook word veels te maklik ’n sosiale spieël waar selfies en ander selfverheerlikende fotos en stories bydra tot sekere mense se beeld-poets oefeninge. Twitter weer kan maklik ’n sosiale megafoon verander waar eie standpunte gedurig gepromoveer word. Hoe meer volgelinge sekere Twitter persona’s het, hoe groter word party mense se internet ego’s. Hulle gebruik selfs kunsmatige soek-enjins en allerlei trefwoorde om volgelinge te “werf.”
Waar laat hierdie selfie-sugtigheid op verskillende sosiale media platforms ons? Wel, dit is nie wys om die baba en die badwater saam uit te gooi nie. Ons skuld onsself en ander ’n beter digitale teenwoordigheid. Dit beteken onder andere:
Ons plaas nie slegs fotos of verhale oor al ons suksesse nie. Daar is ook wel ruimte hiervoor, maar ons wil nie net aan al ons uiterlike en meetbare prestasies geken word nie. Mense moet ons ook ken aan ons humor, vrae, worstelinge en alledaagse vreugdes.
Ons skep nie ’n digitale persona wat nie getrou is aan wie ons regtig is nie.
Ons skinder nie in ander se afwesigheid op Twitter of Facebook oor wat hulle elders in die lewe sou gesê of gedoen het nie.
Ons misbruik nie ander se Facebook of Twitter platforms deur ongenooid ons eie stories daar af te pak nie. As ons nie iets konstruktief of relevant kan bydra tot wat iemand gepost of getweet het nie, dan hoef ons dit nie te sê nie. As iemand iets konstruktief gesê of gedeel het, waardeer ons dit net (“Like” op Facebook en “Favorite” op Twitter). Dis meer as genoeg.
Ons hoef nie ’n opinie oor alles en te hê wat mense “post” of “tweet” nie.
Ons hoef nie elke slag ’n vroom preek af te steek of “diep geestelik” te probeer wees om ’n keurige getuie vir die Here te wees in digitale ruimtes nie.
Bron: ekerk.org NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.