Kan te veel geld jou huwelik vernietig?

 

1 Timoteus 6:9-10 leer ons wat die waarheid rondom te véél geld of ’n begeerte na rykdom is: “Mense wat begeer om ryk te wees, val in die versoeking en strik van die satan. Daarby kom daar allerhande onverstandige begeertes wat hulle benadeel en hulle uiteindelik vernietig en in die dooie hel laat stort. Die liefde vir geld lei tot alle soorte slegte dinge. Party mense het geld hulle mikpunt gemaak en daardeur hulle vertroue op die Here verloor en die een smart na die ander oor hulle eie lewe gebring.”

Die leuen oor ons inkomste

So baie huwelike en kinders se harte bloei omdat Pappa heeldag net werk, werk, werk. En nee, daar is niks daarmee fout om as man aan jou gesin se behoeftes te wil voorsien nie, maar dalk moet ons besef dat God ons nie ten kóste van ons huwelike en gesinne finansieel mildelik sal seën nie.

Wanneer ’n man massas geld maak, maar sy vrou en kinders sien hom byna nooit, moet ons dalk vra of dit nie Mammon is wat hom vet voer en in Egipte hou nie – die plek van skuld, slawerny en afvalligheid nie. God se hartsbegeerte is dat ons huwelik en gesin héél en eensgesind sal wees, nie dat ons baie geld sal hê nie.

Geld wat status bring

Omdat aansien en erkenning soos ’n dwelm is wat jou laat goed voel, is daar ongelukkig nie ’n versadigingspunt nie. Jy smag altyd na meer en raak ingestel op dít wat ander het en jy ook wil hê.

Op die ou end koop ons dinge wat ons nie nodig het nie, met geld wat ons nie het nie, om mense te beïndruk wat nie regtig saak maak nie. As ons in hierdie net vasgevang is, moet ons besef dat geld nie vrede of blywende waarde kan bring nie.

Ons vrede word juis gesteel omdat ons langer ure en meer moet werk om ons uitgawes te dek – wat lei tot stres, frustrasie en te min tyd vir mekaar in die huwelik!

Wat sou van ons eiewaarde staande bly as ons alles verloor?

Met hope geld en genoeg arrogansie is dit maklik om te dink dat jy dit goed sal hanteer, dat niks jou van stryk sal bring nie…tot jy op jou knieë staan met niks in die hand nie! Ons moet versigtig wees dat ons nie ons huwelik en kinders ter wille van geldmaak verloor nie, en nog meer daarop bedag wees om nie ons siel in die proses te verloor nie.

Geld en geloof

Die maklikste manier om finansieel staande te bly, is om die beginsels van God se Woord te gehoorsaam; beginsels van saai en maai, eerlikheid en geregtigheid rondom geld en die betaal van jou tiende. Onthou, skuld wat nóú aangegaan word, verseker miskien vir jou ’n onmiddellike inkomste of uitkoms, maar plaas jou toekoms onder stres. Aan die ander kant verseker saai en die betaal van jou tiende nie noodwendig nóú vir jou ’n uitkoms nie, maar wel op die dag wat jy dit nodigste het.

Tiendes en gawes

• Baie mense redeneer oor die beginsel van tiendes – ’n Ou Testamentiese beginsel of iets wat saam met die koms van Jesus weggeval het. Moenie dat intellek of dogma God se finansiële seën in jou lewe weerhou nie. Vra die Heilige Gees om jou te oortuig. Glo my, Hy sal!

• Jy kan tiendes betaal en in oorvloed saai, maar as jy oneerlik is oor jou belasting, sal God jou nie finansieel seën nie. Jy sal ook nie finansieel vry word as jy mense ontduik vir wie jy geld skuld nie, of selfs net te veel kleingeld aanvaar sonder om die winkel-eienaar daarop te wys nie

• Jy kan kies om net te saai wanneer dit nie aan jou sak gaan vat nie en dus ’n gewone seën daarvoor ontvang. Om egter te saai omdat God dit op jou hart druk terwyl jy weet dat dit jou finansieel in ’n verknorsing kan plaas, sal ’n dubbele seën vir jou bring. Wees daarom sensitief vir die stem van die Heilige Gees. As God jou lei om te saai, sal Hy jou nie in die proses in die verknorsing laat nie

• As jy vir jou maat oor geld jok en dinge van hom/haar weerhou, kan God daardie leuens, ongehoorsaamheid en die volhar-ding daarin nie seën nie

• As jy jou maat met geld manipuleer of beheer, of minderwaardig hanteer, sal jou huwelik leeg loop as gevolg van jou oorvol beursie.

Soek allereers die koninkryk van God, en Hy sal jou die begeertes van jou hart gee. Met ons hart op die regte plek, seën Hy ons huwelik en ons inkomste!

Bron:juig.co.za