Hierdie hele proses het my laat nadink. Aan die verskil tussen klippe en bakstene. Natuurlik is die duidelikste verskil dat bakstene mensgemaak is, terwyl klippe deur die natuur gevorm word. Bakstene word deur mense gemaak, gewoonlik in ’n vorm gegiet sodat almal dieselfde lyk en dieselfde funksie verrig. Bakstene pas netjies op mekaar. Afgerond. Presies. Dieselfde grootte, kleur, vorm. Bakstene word deur ’n meganiese proses vervaardig in ’n relatiewe kort tyd. Dit word gevorm en gebak. Klippe word egter nie in ’n oond gebak nie, maar gevorm deur ’n noodsaaklike bestandeel — tyd. Geen klip is nog ooit in ’n kits gevorm nie.
Klippe is anders. Klippe pas nie presies op mekaar nie, want geen twee klippe is dieselfde gevorm nie. Part is grof en hoekig. Ander glad en gerond. Part groot, soos rotse. Ander klein soos spoelklippes. Die vorm en grootte hang af van die plek, omstandighede, tydsduur en klimaat waarin hul gevorm is.
As jy met bakstene bou, het jy sement nodig om die stene bymekaar te hou. Weens die feit dat die bakstene almal dieselfde lyk kan dit maklik omval as dit nie aanmekaar gegiet is nie. As jy met klippe bou gebruik jy ook sement, maar baie keer gebruik mense sommer modder. Die rowwe kante en vorm van die klippe kan juis tot gevolg hê dat dit stewig inmekaar pas. Die verskille in vorm kan juis die krag verseker.
Sommige mense verkies om met bakstene te bou weens al die voordele wat dit inhou in produksie, tyd en geld. Ander verkies klip… soms slegs vir estetiese redes, maar dikwels bloot omdat dit is wat die natuur aan hul verskaf. In ons samelewing maak bakstene meer sin. Dis vinnig. Dis effektief. Dit bou vinniger. Dis minder gespesialiseerd.
Maar dis ook nie uniek nie.
Dit is vir my onrusbarend hoe die samelewing al meer staatmaak om “eenersheid”. Jy moet inpas, nie uitpas nie. Orals is daar vooraf gemaakte vorms waarin jy moet pas, of wat jou wil vorm en hard bak om ’n funksie te verrig.
In ons gesinne het ons klippe in bakstene verander.
In ons skole het ons klippe in bakstene verander.
In ons kerke het ons klippe in bakstene verander.
In ons verhoudinge het ons klippe in bakstene verander.
In ons drome het ons klippe in bakstene verander…
Want, one het mos nie tyd nie. En ons verwag meer, en meer, en meer… van dieselfde.
Bron: juig.co.za NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.