Uit hierdie verwysings na die koninkryk kan ons seker wees dis nie ’n veraf skim of beloftes van ’n koninkryk wat eendag sal kom nie, maar een wat reeds hier en nou teenwoordig is, net soos in die hemel. God is tog teenwoordig in alle tye van die begin af tot in ewigheid.
Die koninkryk is onsigbaar maar teenwoordig
Hierdie koninkryk is nie van die wêreld nie maar het alles met hierdie wêreld te make. Dit behels die mag van God om oor alle dinge in die hemel en op aarde te heers en sy reddingsplan uit te voer. Dis ’n ryk waar die genade van God oor almal uitgestrek word en terselfdertyd ’n magtige koninkryk waar Christus heers oor die heelal.
Nie ’n aardse koninkryk nie
Die koninkryk is teenwoordig in die harte van elkeen wat Christus se heerskappy in sy lewe erken. Dit is nie ’n tweederangse koninkryk waar daar meegeding moet word met die koningshuise van hierdie aarde nie. Dis nie maar net nog ’n dinastie nie maar ’n koninkryk wat dwarsdeur die geskiedenis van die kerk teenwoordig was en strek tot die einde van tye. Die koninkryk van die hemel is die teenwoordigheid van God in Jesus nou en toekomend.
In hierdie koninkryk is daar geen sosiale orde en range nie. Prinse en prinsesse het dieselfde regte as gewone mense en die enigste wet wat geld, is dat jy moet liefhê. As iemand jou slaan moet jy die ander wang draai, en as iemand jou dwing om ’n kilometer saam met hom te stap, moet jy twee stap.
Nie ons soort koninkryk nie
Ongelukkig is dit nie die soort koning wat die wêreld wil hê nie. Ons leef in ’n materialistiese wêreld waar “image” koning kraai. Die grootste, blinkste, sterkste en rykste is ons maatstaf. Totdat jy besef die koninkryk bied ’n rykdom ver bo jou wildste drome. Jou taak as burger van hierdie koninkryk is om dit sigbaar te maak aan die wêreld deur gehoorsaamheid aan die Koning en deur die boodskap van verlossing te verkondig.
Gebed vir vandag
Here, ek is so verblind deur die vertoon van uiterlike rykdom dat u koninkryk vir my net ’n vae afskynsel van die werklikheid is. Maak u koninkryk ’n werklikheid in my hart.
Bron: versndag