As mamma–by–die–huis kon ek ’n uur lank stiltetyd hou nadat man en ouer kinders weg is werk en skool toe. ’n Baie besige sakeman het weer ’n staande afspraak in sy dagboek gehad: FS HS — Father, Son and Holy Spirit. In Londen het menige jongmens al soggens die uur in die moltrein op pad werk toe gebruik om heerlik in sy/haar sak–Bybeltjie te soek vir die dag se geestelike kos.
Dit ís belangrik om heeldag lank in ’n gebedstemming te wees, om sommer so tussen my gewone aktiwiteite deur te kan bid, maar daar gebeur iets heeltemal anders wanneer ek stil word op ’n stil plek en luister totdat ek die Here met my hoor praat deur die Bybel en deur die indrukke wat die Heilige Gees in my hart kom lê.
Dis baie sinvol om ’n leesplan vir my persoonlike Bybelstudie te hê. Daar is van my vriende wat studies gemaak het van verskillende Bybelse karakters, of ’n tema soos bv. vergifnis. Brink en ek gebruik graag die Eenjaarbybel omdat dit ’n mens help om die hele Bybel deur te lees — óf Ou Testament een jaar en Nuwe Testament die volgende jaar, of sommer albei gelyk. En is dit nie ’n heerlikheid as ’n mens die tyd het om bietjie ’n verklarende Bybel of kommentaar/kommentare nader te sleep nie! Die belangrikste is om met ’n soekende, leerbare hart te lees en die Here te vertrou om vir my antwoorde te gee op die dinge waarmee ek probleme het.
En wanneer dit by gebed kom, het ek waardevolle lesse al moes leer:
1. Vra vir die Here om vir jou te leer. Ek het bv. eenkeer vir Hom gevra om my te wys wie om aan te spreek wanneer ek bid: die Vader of Jesus. En Hy het my gewys dat ek asof ek Jesus se hand vashou na die Vader toe gaan. Maar ek mag tot Jesus ook bid. Dit maak nie saak nie — Hulle is Een.
2. Onthou jy hoef Hom nie te beïndruk nie (jy kan ook nie — Hy ken jou mos in elk geval deur en deur). Dit maak nie saak of jy oor jou woorde struikel, en of jy soms nie lus voel om te bid nie. Sê vir Hom sommer reguit — Hy verstaan.
3. Romeine 8:26–27 leer dat jy selfs sonder woorde kan bid.
4. Dit help my dikwels om my gebed soos ’n brief te skryf of sommer net puntsgewys n.a.v. ’n versie wat ek lees.
5. Dit help ook soms om hardop te bid.
6. Onthou net, Hy sien in elk geval jou hart en weet al wat jou behoefte is voordat jy vra. Hy verstaan jou hart nog beter as wat jy dit self verstaan.
Bron:ekerk.org