Uitreik – 24 Junie 2013

 

Saam op die bus is weer van Valhallapark se mense wat soos lang verlore familie voel met die weersiens.

Laat middag kom ons veilig in Sutherland aan. Af dra en nes skrop!

 

Die aand kry elkeen sy top, serp en mus vir die uitreik.

 

Sondag

Dit is nie so koud soos verlede jaar nie, maar die sneeu wat steeds teen die koppe lê bly ‘n waarskuwing.

 

Die oggend woon ons die NG en VGK dienste by. ‘n Besliste “vereiste” vir die VGK kerkraad– jy moet kan sing J.

 

Die middag besoek ons die ouetehuis waar die kniekombersies wat met soveel liefde deur die gemeente gebrei is, uitgedeel is. Ons het elkeen persoonlik oorhandig en bietjie gesels. Die kinders het menige ou oog laat blink. Dit was rerig baie kosbaar en ek wens almal kon die vreugde wat die handewerk veroorsaak, beleef.

 

Die laatmiddag is ‘n lofprysingmiddag / aand saam met die VGK. Die VGK se band speel nie net musiek nie, hulle MAAK musiek uit hul hart uit. Ons het saam gebid, saam gesing (en nog ‘n bietjie saam gesing) en sommige het selfs saamgehuil.  “‘n Mens het nie woorde vir hulle omstandighede nie, jy kan hulle net aan Jesus op dra.”

Sondagaand het die span lesse voorberei; die tannies het kospakkies gepak en geskenke uitsorteer.  Dit het maar laat geraak, maar die moraal / gees (of was dit Gees?) was hoog, want daar was ‘n opgewondenheid in die lug.

Maandag

7 uur kom ons bymekaar vir Bybelstudie en beplanning vir die dag en na ontbyt verkas elkeen in sy eie rigting. Die Maintenance Manne verf en tokkel, die volwasse bediening deel kospakkies uit en die A2J span hou die sowat 330 kinders wat by die saal opgedaag het, besig. Die kleintjies hang aan oom Moses (aka Marc) en oom Goliat (aka ds Martin) se lippe.

 

Vanjaar is daar báie meer kinders. Gelukkig het ons meer as 300 x 2l bakke sop (ja, dis reg!) ontvang vir die uitreik, so elkeen kon kry.

 

Die middag is poppekas en sport, maar môre meer daaroor.

Deur die dag deel die volwasse span linne en kospakkies uit aan behoeftiges, maar meer nog deel ons Jesus se liefde, wat vir ons almal bestem is. So sit ons by ‘n oom en hy haal sy Bybel uit. Dis maar redelik klein gedruk en aangesien die oom redelik oud is vra ons toe of hy darem nog mooi kan sien, waarop hy reageer, “Ek sien net so nou en dan,” maar hy verseker ons daarvan dat hy gereeld met God in sy gedagtes praat, veral as hy alleen voel, wat ongelukkig redelik gereeld is..

 

Die aand is pizza kompetisie gehou en is afgesluit met ‘n geestelike aand.

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. Verhoudings – tussen die volwassenes en A2J en ook A2J onder mekaar. Vir die groepies wat saam met Sutherland se kinders werk.
  2. Bid dat ons in diepte sal groei in ons vertroue op die Here, sodat ons nie in eie krag nie, maar in Sy genade sal werk.  Vir Hom die eer.
  3. Vir wysheid vir die leierspan in die span en met die reëlings self.
  4. Vir gesondheid – daar is op die oomblik net ‘n paar kuggies.  Bid dat hulle gou gesond sal word en dat ons almal sterk en gesond sal bly vir die res van die week.
  5. Sover is ons werklik geseën met die weer, buiten vir die wind wat smiddae se sport moeilik maak. Bid dat die weer sal goed bly vir die tye wat ons buite moet werk.
  6. Vir elkeen op die uitreik: dat ons verhouding met die Here meer persoonlik sal word en sal aanhou groei.
  7. Dankie vir hoe die Here die kinders gebruik om ook mekaar te ondersteun en te dra, hetsy ‘n nuweling, iemand wat siek is of iemand wat net hartseer is.
  8. Vir môreaand se “Sutherland Talentaand” – dat dit vlot sal verloop.

Baie dankie vir julle wat ons hande omhoog hou deur die week met jul gebede en ondersteuning.

Groete,

Sutherland span,

Johann en Heidi

 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.