Sonder motors wat breek en kollegas wat ons in die rug steek, sonder hartseer, probleme en gekompliseerde verhoudings. Ons wil graag sorgvry leef en ons lewe en vriendskappe geniet sonder vol programme — ons lewe moet sinvol wees en betekenis hê. Tog werk dit nie altyd so nie. Daar is oomblikke in ons lewens wat ons by onsself dink: “Dit is nie hoe ek dit beplan het nie; dis nie wat ek verwag het nie”. Dit is wanneer jy die nuus kry dat die werk waarin jy so goed gedoen het, jou gaan afbetaal, die onverwagte nuus dat jou mediese uitslae dui op kwaadaardigheid, dat jou man ’n buite egtelike verhouding het. Die lewe verloop nie altyd soos ons daarvoor hoop of wat ons verwag nie. Wat ons hiermee doen gaan bepaal of ons vasval in onvergifnis en bitterheid en of ons in Sy arms gaan val en deel in Sy vrede.
Hierdie vrede is nie net die lekker gevoel wat mens kry wanneer jy gekuier het saam met vriende of net ontspanne voel nie. Of as jou dag sonder frustrasies was en jy buite sit terwyl die son sak en jy voel ontspanne en rustig nie. Nee hierdie vrede is ’n innerlike tevredenheid en rustigheid, ongeag jou omstandighede. Dit is die teenwoordigheid van vreugde te midde van swaarkry, beproewings en probleme. Goddelike vrede is die vermoë om kalmte te handhaaf te midde daarvan. Vrede beteken nie die afwesigheid van konflik nie, maar ’n bepaalde manier om mekaar te hanteer te midde van die konflik. Vrede is nie die afwesigheid van swaarkry nie, maar kalmte te midde daarvan.
’n Persoon wie se vrede in Christus is kan baie swaarkry en probleme hanteer en nog steeds innerlike vrede hê. Hierdie vrede is gebaseer daarop dat die Gees van God in hom woon, dat Sy teenwoordigheid en vrede volkome en voldoende is om enige storm te kan hanteer.
Hy kan vredevol aangaan te midde van probleme omdat sy vrede nie gebaseer is op lekker omstandighede nie. Hy kan rustig na nuwe werk soek in ’n wete dat God vir hom sorg en dat hy op Hom kan vertrou. Hy / sy kan soos Paulus en Silas liedere in die tronk sing en God se Naam groot maak.
Dan kan hy, omdat hy geanker is in Christus soos Horatio Spafford, God verheerlik te midde van ’n familie tragedie. Horatio, ’n welgestelde prokureur in Chicago, se 4 dogters is in 1873 dood nadat die passasierskip waarop hulle oppad na England was, gesink het. Sy vrou is bewusteloos uit die water gered. Hy skryf die aangrypende lied, “It Is Well with My Soul”, na hierdie ongelooflike hartseer.
“When peace, like a river, attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou has taught me to say,
It is well, it is well, with my soul.
Refrain: It is well, with my soul, It is well, it is well, with my soul.”
Bron: ekerk.org
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.