A2J Uitreik: Loeriesfontein Deel 2 1-2 Julie 2014

 

Die middag se sport loop goed af. Baie van die vriendskappe word juis hier gebou rondom ‘n bal / springtou. Loeries se kinders moet soms ons gebrek aan “ball skills” oorsien, maar steeds lekker saam :-).

Die aand is tyd vir gesinsaand waar Evette en Eulogia die maatskaplike, maar ook die fisiese effekte van dwelms deel. Die idee is om gesinne wat probleme het raad te gee en ook die wat nie het, voor te berei om dinge beter aan te pak as dit oor hulle pad kom. Deel van die aand is om die gesinne te toets om te sien hoe goed hulle mekaar ken. Die jaar was daar reuse pryse – twee eetkamerstelle en ‘n lazy-boy.

Hierna is dit tyd om klere uit te deel vir die volwassenes. Skoene bly maar altyd moeilik met die mansskoene wat gewoonlik nie groter as ‘n nommer 6 hoef te wees nie. Ons kon wel vir die meeste ‘n paar stukkies klere of skoene gee.

Woensdag

Die volwassebediening is ‘n ander been van die uitreik. Deur die oggend word koffie gedrink, saam gekuier en saam gebid waar baie van die huise weduwees is wat alleen bly. In die middae besoek ons ook mense van deur tot deur om kospakkies uit te deel waar ons kan sien daar nood is. Sover kon ons van die beddegoed uitdeel en 50 sakkies kos aflewer. Die oorskiet sop van die Dinsdag (nadat ons te min gevat het die Maandag), kon ook ‘n paar huisgesinne help.

Die ouetehuisbediening is vanjaar verdeel tussen die ouetehuis net agter die koshuis asook ‘n winkeltjie waar ‘n “bejaardes klub” bymekaar kom. Marthie doen oefening met die mense en probeer ook help / hulle omstandighede beter maak waar ons kan. Die mediese span was ook hoogs in aanvraag, net om seker te maak “alles is nog reg”.

Die kinders kry vandag die geleentheid om klere te kry. Die een meisie wat regtig gebrek lei, was so opgewonde en het elke 5 minute gevra, “Gaan ons nou klere kry?”. Later die dag het sy en haar ma kom dankie sê. Van die A2J’ers kon vanaand ook sien hoe hul pajamas ‘n nuwe tuiste gevind het :-).

Woensdae het ons ‘n afmiddag met geen sport nie. Ons het wel ‘n uitstappie. Dié keer vinger trek, wat – nadat van die seuns letterlik teen mekaar geoefen het – ‘n geleentheid was om teiken te skiet met ‘n 308 en ‘n geweer uit die 2de wêrelde oorlog. “Aaah – vinger trek…!”

Die aand se “Loeries’ got Talent” loop goed af met van die oulikste gediggie voordragte tot rap en riel.

Laataand is dit terugvoer tyd sodat ons kan hoor wat ander die dag ervaar het en te hoor van stukkies waar God werk in ons en in Loeries se mense.

Van die A2J’ers

Ek het op die uitreik gekom met ‘n verwagting en glad nie geweet wat om te om te verwag nie. Dis verseker ‘n groot aanpassing om na mense uit te reik en my liefde wat ek van die Here ervaar te deel met my medemens.

By die kerkdiensaand wat A2J aangebied het, was dit vir my ‘n belewenis om te sien hoe jong tieners vir ouer mense bid.

Die eerste dag wat ons lesse aangebied het, het ons deur die huise geloop en die kindertjies geroep. Van die kleinste kindertjies het aangehardloop gekom en dit was so lekker om te sien hoe opgewonde hulle was om van ons Pappa te hoor.

Om die geskenkpakkies en die sop vir die kinders uit te deel, kon ek sien wat dit vir hulle baie beteken en het dit vir my net nog meer vreugde gegee.

By die geestelikeaand het ek weereens besef dat elke mens pyn het en dat God saam met ons is en ons help met alles. – Celine

Allerlei

“Ma, ek het dit vir jou gewen”, seun in trane aan sy ma nadat hulle die derde prys gewen het met die gesinsaand. Dit was ‘n lazy-boy / gemakstoel wat sy juis graag wou gehad het.

Met die klere uitdeel, soek die een tannie op en af, maar kon niks kry nie. Sy is al op pad uit toe sit iemand anders skoene terug wat te klein is. Die regte grootte, die regte snit (vir winter). Presies reg bestem.

Voorbidding

Bid saam met ons –

  1. Dankie vir die besondere jongmense wat God besig is om te vorm. Vandag weer skroom hulle nie om in te spring in ‘n nuwe stituasie of sommer ‘n maat wat siek is se groep aan te neem vir die dag nie. Bid dat Hy die goeie werk “ent-uit sal volhou”.
  2. Vir die gesondheid van die span. Ons is steeds geseënd met net nog tweede seun wat vandag olik gevoel het. Na ‘n goeie dag rus was sy oë ook sommer helderder. Bid ook vir krag en ‘n goeie gesindheid waar die moegheid begin deurslaan.
  3. Die weer hou nog baie goed. Bid dat dit steeds so sal wees ons die meeste gebruik sal maak van elke geleentheid.
  4. Vir die “badkamerbediening”. Die storte werk so dat die meeste deur die aand kan stort, solank hulle kans gee dat die water weer warm word. Bid dat ons sal aanhou getuig in Loeriesfontein se mense se huise – en aanhou afhanklik wees van Hom, selfs vir ‘n warm bad.

Vir krag, moed, hoop en liefde vir die werk en geleenthede wat die laaste paar dae van die uitreik voorlê.





    Groete,

    Johann

    NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.