Die span het die koue winters in Fraserburg so geniet, dat hulle besluit het om hierdie jaar na Sutherland te gaan! In alle ernstigheid egter: die leierspan neem die besluit nie ligtelik nie, maar biddend en met oorlegpleging met die kerk- en gemeenskapleiers in die dorpe.
Die uitreike van die Vishoek NG gemeente rus eintlik op drie bene:
A2J Jeug Uitreik
Die A2J span betrek die jeug in die gewoonlik verarmde gemeenskap gedurende die week op verskeie maniere. Daar word in die oggende sop en brood bedien aan al die kinders wat opdaag. Vir baie van hulle is dit die enigste warm maaltyd wat hulle sal kry op die dag. Daarna word daar ook aan hulle die brood van die ewige lewe bedien, d.m.v. kort praktiese lesse, aangebied deur die A2J jongspan. Later in die dag word daar ook speletjies gespeel, of sport beoefen. Daar word ook soms saans vermaak aangebied. Op die manier word die kinders van die gemeenskap gevoed, bedien en gedeeltelik beskerm teen onheil wat hulle andersins kon tref in die ledige vakansietyd.
Volwasse Uitreik
‘n Aantal volwassenes wat veral ‘n liefdesbediening aan die ouer gemeenskap lewer gaan ook gewoonlik saam met die A2J span. Die plaaslike ouetehuis(e) word daagliks besoek, en vir die bejaardes word voorgelees en gebid. Soms word daar ook terapeutiese oefeningsessies aangebied om die stram spiere los te kry. Daar word ook van deur tot deur besoek gebring aan volwassenes, en daar word saam gebid en geestelik gesprek gevoer.
Die A2J dogters bederf die vrouens van die gemeenskap gewoonlik op die laaste Saterdagoggend, deur hulle kosmetiese behandelings te gee: gesig- en handmasserings word o.a. aangebied met produkte wat geborg word deur ondersteuners.
Vroeg in die week al word daar klere uitgedeel vir jonk en oud.
Instandhoudingspan
Hierdie span bestaan gewoonlik uit mans wat verlof neem uit hul onderskeie beroepe om vir die week te kom herstelwerk doen aan die gas-gemeente se gebou(e). So word daar bv. kombuise herstel, wasbakke gemonteer, toilette geinstalleer – wat ook al nodig is en gedoen kan word. Die gesindheid van hierdie span is nie een van wat kon ons vir julle gee nie, maar wat kan ons vir julle doen.
Na die lees van hierdie artikel tot dusver is die vraag natuurlik: Wat kan ek doen? Wel daar is verskeie maniere hoe u kan help en betrokke raak, selfs al is u nie (tans) in die gemeente nie:
- Voorbidding: Vir die leierskorps in die voorafgaande maande, sowel as vir die hele span gedurende die week van die uitreik. Dit is die heel belangrikste behoefte!
- Skenk: Ou klerasie, sokkies en skoene, veral warm goed soos sweetpakke, truie en jasse. Kinder of volwasse klere en skoene van enige grootte is welkom. Die kinders daag daar op in die snerpende koue, kaalvoet en met net ‘n kortbroek en hempie aan! Skoene is nooit te oud nie – sommige volwassenes dra skoene wat oor die 10 jaar diens gedoen het en vol gate sit. Daar is nooit genoeg skoene vir al die kinders nie.
- Kook en Bak: Sop vir die kinders, beskuit en koekies vir die span.
- Skenk: Verf, hout, sement – die benodighede van die instandhoudingspan sal nog bekend gemaak word.
- Borg: Verskeie van die A2J jeug se ouers kan die R600 onkoste vir die week nie bekostig nie. U kan dit moontlik maak vir so ‘n jongmens om hierdie lewensveranderende week tog saam te beleef.
- Skenk: Die onkostes vir so ‘n uitreik is geweldig, en die R600 per jongmens dek nie naastenby al die uitgawes nie.
As u besluit om enige van bostaande maniere betrokke te raak by die uitreikpoging, kan u ook gedurende die uitreik-week by die NG Vishoek webwerf kom inloer vir nuus vanaf Sutherland. Daar word feitlik daagliks berigte deurgegee om almal, ouers inkluis, op hoogte te hou!