Kort ná die sendeling se dood, het ’n ander groep sendelinge by die volk opgedaag. Met behulp van tolke het hulle die boodskap van Jesus Christus met die mense begin deel. Onmiddellik was die volk ontvanklik. Op die vraag of hulle dan al van Jesus Christus gehoor het, het hulle geknik. Een van die mans het na die sendeling se verlate hut gewys met die woorde: “Hy het dan daar gewoon!” Die sendeling se onbaatsugtige opoffering en gebede vir die volk het die saad gesaai wat daartoe gelei het dat die volk later Jesus Christus as hulle Verlosser ontdek het.
Hoe lyk jou optrede teenoor die mense in jou omgewing? Inspireer jy hulle om meer van jou Verlosser te wil weet? Bid jy daagliks dat die Heilige Gees hulle harte en gedagtes vir die waarheid sal oopmaak? Dít is die geheim om gelukkig te leef – al is jy die enigste gelowige in ’n omgewing.
WAAROM IS DIT MOEILIK OM ONGELOWIGES TE PROBEER OORTUIG OM TE GLO?
In 2 Korintiërs 4:4 lees ons dat Satan ongelowiges se verstand verblind vir die heerlikheid van Christus: “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld (Satan) verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.” Ons moet dus bid dat die Heilige Gees die sluier oor ongelowiges se harte en gedagtes wegtrek sodat hulle die waarheid kan ontdek.
WAT MOET JY DOEN AS JY MET ’N ONGELOWIGE GETROUD IS?
In 2 Korintiërs 6:14 word ons gewaarsku om nie met ’n ongelowige te trou nie. As jy egter wel getroud is en jou huweliksmaat word ongelowig of jy kom tot bekering en jou huweliksmaat is steeds ongelowig, lees ons in 1 Korintiërs 7:12-16 dat jy nie onmiddellik moet soek na maniere om die huwelik te verlaat nie. Ons moet eerder die beginsel in 1 Petrus 3:1-2 volg: “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie.”
Kom ons hou dus op oordeel en fokus vir ’n slag op God. Hy kan namens ons die verandering in ons ongelowige huweliksmaat, kollegas by die werk en/of kinders se lewens bewerkstellig. Al wat ons moet doen, is om aan te hou bid dat die Heilige Gees die werk doen, dat God die regte mense oor jou geliefdes se pad stuur en dat Hy jou sal versterk om altyd in liefde op te tree. Jy mag dalk net verbaas staan oor Hy selfs die persoon met die hardste hart kan aanraak en verander tot ’n persoon wat uitverkoop is vir Hom. Sterkte.
Amen.
Bron: versndag.co.za
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.