Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.
Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie. Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer.
Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie.
Tyd gaan relatief wees na die dood.
Bron: www.bybelkennis.co.za