As vandag jou laaste dag was

Ons word so gedryf en gekondisioneer om “onsself te verbeter” dat ons selde stilstaan om te waardeer wat ons het. Het jy al opgelet hoe mense soms op ‘n mooi plek kom, ‘n strand byvoorbeel met ‘n mooi sonsondergang, en dan so besig raak om via facebook, twitter sms of wat ook al op hul selfoon vir duisende vreemdelinge oor die wêreld te verkondig waar hulle is of wat hulle doen dat die “oomblik” byna verlore gaan. Ons raak so behep met hoe belangrik dit is dat ander mense moet weet wat ons doen en beleef dat ons op die ou einde self mis wat ons doen en beleef……en daar mis ons die wonderwerke.

 

….en op ‘n “af” dag (en ons kry hulle maar almal……vandaar die talle “voel beter boeke”) is ons soms so besig om “af” te voel dat ons ‘n vreemdeling se glimlag mis, ‘n kind se drukkie of die blom wat vanweë die spesifieke weersomstandighede uitgekom het. Het jy al ‘n vuurlelie gesien? Pragtig maar die ironie is dat dit eers verterend moes brand daar waar hy nou blom……vlietend en dan is hy weg…….voor jy nog mooi op Google kon soek vir ‘n prentjie mis jy die ware Jakob wat hier neffens jou groei.

 

Terug by die “laastes”. Is die rede waarom ons soms in die verlede probeer leef nie die feit dat ons nooit werklik in die hede leef nie? Is ons lewens nie maar soos ‘n waardevolle skildery nie. Dit was maar eers net ‘n mooi prentjie…..tot die kunstenaar afgesterf het en toe word dit ‘n waardevolle mooi prentjie en ons wil weer en weer kyk. Ons spandeer ‘n groot deel van ons dag vandag om te droom van die mooi oomblike van die verlede……en die res van die dag gebruik ons om ons te bekommer oor ‘n onbekende stress van more…….en so mis ons vandag.

 

My kennis van die Bybel is nie sodanig dat ek nou hier toepaslike teksverse kan “copy en paste” nie maar ek weet wel dat ons Lewende Here nie van ons “boeke kennis” vereis nie. Hy verlang van ons ‘n persoonlike verhouding met Hom. Hy Leef hier en nou en Hy praat hier en nou en elke dag met ons. Nie net deur gister se mooi herinneringe of more se bekommernis nie…..maar in vandag se oomblik. En more doen Hy dit weer en die dag daarna…….ons moet net oplet en kennis neem. Hy gee ons elke dag daai “oomblikke”……al die dae van ons lewe. Wat ‘n wonderlike vrede moet daardie berusting nie by ons bring, sou ons dit daagliks in ons aardse bestaan kon toepas nie?

 

 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.