Is jy God se instrument?

Elke nou en dan het een van die kinders hardop giggel van opgewondenheid terwyl hulle onder mekaar gesels het oor die hansworse, olifante, leeus en akrobate wat hulle hoop om binne-in die tent te sien. Dit was duidelik dat hulle reeds weke lank oor hierdie dag gedroom het.

 

Kort voor lank was die gesinnetjie voor in die ry en die pa het na die venster gestap om die kaartjies te koop. Trots het hy sy gesinnetjie nader gehark en glimlaggend aan die kaartjieverkoper gesê: “Agt kinderkaartjies en twee volwassekaartjies asseblief.” Die kaartjieverkoper het die bedrag opgetel en dit hardop aan die man gesê. Onmiddellik het die man se glimlag verdwyn terwyl hy ongemaklik vorentoe geleun het: “Ekskuus tog, hoeveel sê jy daar?” Dit was duidelik dat hierdie bedrag heelwat meer was as waarop die man gehoop het of by hom gehad het. Hy het weer na die geld in sy hand gekyk. Die enigste uitweg was om terug te draai huis toe.

 

Dit is toe dat die tiener agter die gesinnetjie sien hoe sy pa sy hand in sy broeksak steek, ’n R100-noot op die grond laat val, dit weer optel en aan die man gee met die woorde: “Ekskuus tog meneer, dit lyk vir my of jy hierdie geld laat val het.” Die man, wat duidelik bewus was van wat die tienerseun se pa gedoen het, het hom ’n oomblik lank reguit in die oë gekyk, sy hand geskud voordat hy sy trane met die agterkant van sy hand weggevee het en vinnig gesê het: “Dankie, meneer. Baie, baie dankie. U sal nooit weet hoe baie ek dit waardeer nie.”

 

Dis eers toe die gesin opgewonde deur die hekke stap dat die tiener en sy pa omgedraai het en na hulle motor teruggestap het. Hulle het nie genoeg geld gehad om die sirkus daardie aand by te woon nie, maar vreemd het dit ook nie saak gemaak nie. Agt kinders was in die wolke. En hierdie aand sou een word wat nie een van die twee gesinne ooit sou vergeet nie.

 

God stuur elke dag geleenthede oor ons pad waar ons ’n verskil in ander se lewens kan maak. Is jy ingestel om hierdie geleenthede raak te sien of kies jy om dit te ignoreer omdat jy weet dit van jou gaan vereis om jou gemaksone te verlaat?

 

Luister weer na die Psalmdigter se woorde in Psalm 143:8: “Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ’n gelyk pad lei.”

 

Kom ons neem die besluit hier aan die begin van die week om ons oë oop te hou vir geleenthede waar ons ’n verskil in iemand se lewe kan maak en kom ons vra God om ons te lei om sy wil te doen. Sterkte.

 

Vader God, dankie dat U van ons elkeen se nood weet en ander gebruik om u hande en voete te wees en ons lewens beter te maak. Help my om vandag my oë oop te hou en beskikbaar te wees as U my wil gebruik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.