Christene moet leer dink’ – vies De Vries
Kaapstad. – Die komediant Casper de Vries is woedend vir “vrot Christene” wat gekla het oor hy ’n “matroos sal laat bloos” met sy gevloek op die verhoog.
Die relletjie tussen De Vries en mnr. Uys de Vos van Namibië het ontstaan nadat De Vos ’n e-pos aan De Vries geskryf het oor sy eenmanvertoning Gaan Groot, waarmee De Vries tans landwyd toer.
Die e-pos is aan talle mense gestuur met De Vries se kommentaar aangeheg.
In die e-pos skryf De Vos dat hy die vertoning op 22 Oktober in Swakopmund bygewoon het.
De Vos sê dat De Vries in sy vertoning gevloek het dat ’n matroos sou bloos.
Die vertoning was volgens De Vos in ’n beknopte tent en hy en sy geselskap het doer ver in ’n hoek gesit. “Dit was moeilik om uit te loop, wat ook maar ’n bestiering was, anders het ek nie die hele spektakel deurgewurg en dit my nie genoeg gewalg om ’n brief vir hom te skryf nie.”
De Vos sê De Vries het in ’n striemende aanval op sy hoflike brief aan hom geskryf dat hy hom skaam vir “julle vrot Christene!”.
Hy skryf onder meer dat De Vos moet leer om ander mense se sienings te respekteer en as hy wil spot met die “groot pot k*k” waarin De Vos onwrikbaar glo, is dit sy reg.
“Dis jou reg om uit te stap, maar dis nie jou reg om jou Christenvinger onder my neus te druk en rond te swaai nie.
“Jou briefie is vreeslik 1986, jy is agter die tyd en onvolwasse. Leer redeneer en wyer dink.”
Die brief was volgens De Vos hoflik en glad nie beledigend nie. Hy maak in die brief dié punte: De Vries is ’n goeie komediant en hoef nie so erg te vloek om snaaks te wees nie; en die vloekery onder ’n vrou se rok in (en erger) is swak smaak en totaal onnodig.
Lesersbrief:
2010/11/04 10:57:15 PM
As Christen het ek nie ’n keuse nie. Ek moet reageer op die berig “Christene moet leer dink – vies De Vries” (Beeld, 3 November).
Hoe hartseer is dit nie dat ’n mens so baie van homself kan begin dink dat hy nie omgee om banaal te raak nie.
Ek hou “Casper de Vries” al ’n hele ruk dop. Hy is ’n man met baie talente.
Ongelukkig weet hy deesdae nie meer hoe om dit te gebruik nie. Soos baie ander kunstenaars dink hy hy kan net vermaak as daar gekruide taal of banale vloekwoorde in die teks is.
’n Paar jaar gelede was dit “uit” om Afrikaans te praat, te sing, te lees en te luister. Dit was net nie in die mode nie. Vandag is Afrikaans “in”. Ongelukkig met Engelse en vloekwoorde.
Wat my die hartseerste maak, is dat sangers en kunstenaars wat hulle as Christene voordoen, saamdoen. ’n Ruk gelede het pragtige bekende dames saam met De Vries in ’n program opgetree en hom blykbaar baie geniet.
Wanneer gaan ons as Christene begin standpunt inneem en kies waarmee of met wie ons wil meng?
De Vries sê Christene moet leer dink.
Wel, ek het en het my keuse gemaak.