Daar word gevrees die voorval kan maar ’n eerste wees in ’n jaar van toenemende godsdienskonflik in Afrika. Veral die Koptiese Ortodokse Kerk, wat talle gemeentes in Afrika en ook Suid-Afrika het, kan in die visier van militante groepe soos Al-Qaeda wees.
“Osama bin Laden maak openlike dreigemente teen die Koptiese Kerk,” het hoogeerw. biskop Antonius Markos, die Koptiese Ortodokse Kerk se biskop vir Afrika-aangeleenthede, aan Rapport gesê.
“Die Koptiese Kerk groei vinnig in sommige Arabiese lande en dit lei tot spanning. Die laaste ruk hoor ons van Kopte wêreldwyd – ook in Kanada en Australië – wat veiligheidsmaatreëls teen dreigemente moet tref.”
Bin Laden het Kopte wêreldwyd onlangs gedreig nadat die vroue van twee Egiptiese Koptiese priesters beweer het hulle word deur hul mans in hul huise gevange gehou sedert hulle hul tot Islam bekeer het. Sowat 1 000 Christene het die Nuwejaarsmis in die Kerk van die Heiliges in Alexandria bygewoon toe die bom gister omstreeks 00:30 daar ontplof het. “Ek was in die kerk en het ’n reuse-ontploffing gehoor,” het vader Mena Adel, ’n priester, gesê. “Mense se lywe was aan die brand.”
Altesame 43 mense is beseer, van wie agt Moslems van ’n nabygeleë moskee.
Niemand het teen gister verantwoordelikheid vir die ontploffing aanvaar nie, maar Egiptiese amptenare wys die vinger na Al-Qaeda.
Ná die ontploffing het van die Christene uit die kerk klippe na die moskee gegooi en geskree: “Met ons bloed en siel sal ons die kruis red.”
Van hulle is na die moskee en het boeke op straat uitgesmyt. Moslems het begin terugveg en die twee groepe het in die straat bottels en klippe na mekaar gegooi.
Volgens me. Anneli Botha, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se Internasionale Misdaad in Afrika-program, is daar dekades lank al spanning tussen Christene en Moslems in Egipte, deels omdat Kopte meen hulle word as tweederangse burgers behandel. Daar is sedert minstens die 1990’s sporadiese botsings tussen dié twee groepe en dié spanning het die potensiaal om deur terreurgroepe uitgebuit te word.
“Dit is duidelik dat konflik tussen Christene en Moslems toeneem. ’n Mens sien dit nou in Irak en Europa, maar dit kom ook al hoe meer in Noord-Afrika voor. Dit is baie kommerwekkend as ’n konflik so ’n godsdienstige element bykry,” sê Botha.
Volgens Liesl Louw, redakteur van die tydskrif The African.org, is dit in Afrika relatief maklik vir mense om rondom godsdienstige geskille opgesweep te word aangesien gelowiges op die vasteland soveel meer aktief en toegewyd godsdienstig as elders is.
Daarbenewens is daar talle lande waar groot Christen- en Moslemgemeenskappe saam bestaan en gereeld koppe stamp. Baie van dié lande, soos Egipte, Nigerië en Soedan, gaan in 2011 verkiesings of referendums hou; ’n resep vir ’n toename in religieuse konflik.
“Dit gaan ’n moeilike jaar vir Afrika wees,” sê Louw.
Bron: Rapport