Daar is ‘n tyd vir alles

Pragtige siklusse waarvan ons hier lees. Dit lyk of Prediker die heeltyd besig is om ‘n muntstuk heen en weer te draai … soms moet dié kant bo lê en dan weer die ander kant. Balans. Of dit, of dat. Hoe het jou tyd-skaal gebalanseer hierdie jaar? Was daar tyd vir alles wat regtig nodig en belangrik was?

Het jy tyd spandeer aan al die fasette van jou lewe? As mens regtig die antwoord hierop wil hê, help dit nogal partymaal om jou kinders en jou vrou te vra!
 
Wat is tyd? Eintlik bestaan daar nie so iets nie, weet jy? Ons kosmiese horlosie waarmee ons werk, is die feit dat die aarde om sy eie as draai ten opsigte van die son, en dit gee vir ons 24 ure, wat ons weer in al hoe kleiner inkremente opdeel. Hoe meer ons dit opdeel, hoe minder voel dit of ons tyd het. Hoe voel dit vir jou as die ou voor jou by die verkeerslig net vir ‘n sekonde te lank huiwer nadat die lig reeds groen is …. Ongeduldig? Omgekrap? Warm? Of as die rekenaar net nie vinnig genoeg reageer nie? Of die persoon net nie vinnig genoeg sy foon antwoord wanneer jy hom bel nie. Ons is net té haastig! Weet jy, dertig jaar gelede was dit vir my niks om ‘n halfuur te staan en wag vir die bus nie. Ek kon wag; nou is dit egter ‘n ander saak. Prediker sê daar IS ‘n tyd vir alles … maar ons HET nie tyd vir alles nie. Jy ken mos ook mense wat altyd b-e-e-e-sig is. As jy vir hulle vra hoe dit met hulle gaan, antwoord hulle altyd: “Besig!”

As ek in Prediker lees oor die tyd, dan sien ek iets anders as horlosie-tyd, ek sien prioriteit-tyd. Die vraag is dus nie: “Hoeveel tyd het jy nie?”, die vraag is: “Hoe lyk jou prioriteite?” Waarmee “clutter” ons ons daaglikse lewe?

Was die afgelope jaar dalk weereens vir jou soos een groot rotresies? Daardie een wat niemand kan wen nie. Almal hardloop, maar weet nie waarheen nie – daar is nie ‘n wenstreep nie, daar is nie ‘n eindpunt nie.

Kom ons kyk na die positiewe dinge waarvoor daar tyd moet wees:
· Vers 2: ‘n Tyd om te plant. Dit impliseer dat daar tyd moet wees vir skeppende dinge, dinge wat lewe voortbring. Dinge wat positief is, wat langwerkend is en wat kreatief is.· Vers 3: ‘n Tyd om ‘n lewe te red. Jy sien, tyd saam met jou kinders kan dalk nét ‘n lewe red. Tienerselfmoord het oorweldigend te doen met gebrek aan tyd tussen ouers en kinders.· Vers 3 : ‘n Tyd om te bou. ‘n Tyd om verhoudinge te bou, om iemand se selfbeeld op te bou, om iemand se karakter te bou. Hierdie bouwerk vra tyd.· Vers 4: ‘n Tyd om te lag. Lag jy nog? Of is jy al só negatief dat jy dink daar is niks om voor te lag nie? As jy só dink, lag sommer gou bietjie vir jouself – doen iets laf … maak die baas skrik as hy met sy vol koffie koppie sit, of knoop iemand se skoenveters aanmekaar vas!· Vers 5: ‘n Tyd om te omhels. En is dit nie vreeslik terapeuties nie – ‘n drukkie op die regte tyd. Ja, man, omhels daardie tienerseun van jou, al staan hy so styf soos ‘n snoekerstok. Ek wed jou sy tone krul om van lekker, al maak hy of hy dit haat. Moenie jou kind op sy kop “pat” as jy by die huis kom nie, nee, soengroet en omhels hom. Mens groet jou brak met ‘n “pat” op die kop. Party mense omhels vir Woefie meer as hulle kinders; hulle praat ook meer met Woefie, hou hom meer op die skoot en voer hom meer swiets as vir hulle kinders.· Vers 8: ‘n Tyd om lief te hê. Liefde vra tyd. Al gehoor van kwaliteit-tyd? Dis wanneer mense dink ‘n gekonsentreerde 5 minute se aandag en liefde is genoeg. Dit is nie! Dis soos om die perfekte stukkie fillet vir ete te kry, maar dit is net so groot soos ‘n uitveër! Nee, ons kan beter doen as dit – neem tyd om liefde te bewys.· Vers 8: ‘n Tyd vir vrede. Hoe lyk dit by jou? Oorlog en onvrede in die huis, by die werk? Is dit lekker? Laat dit jou met ‘n tevrede gevoel? Slaap jy lekker na ‘n baklei-sessie? Nee man, dis mos nou ‘n resep vir ‘n aaklige, vrot, goor, mismoedige, ontaarde lewe. Spandeer bietjie tyd om vrede te bewerk.

Daar is ‘n tyd vir alles. Miskien is dit nou die tyd om bietjie jou lewe reg te pak. My ma het dit altyd “spring cleaning” genoem. Pak uit die lewenskaste, gooi al die goor elemente uit (nee, nie jou skoonma nie! – kry liewer die verhouding reg). Jou probleme kon nie nét ander mense se skuld gewees het nie. Dit kon ook nie nét slegte omstandighede gewees het nie. En ook nie nét die regering, en die ekonomie, en die misdaad nie. As ons voorraad opneem, kom ons herken en erken ons eie aandeel, en werk aan ‘n skitterende toekoms.
Pred 3:9-139 Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?10 Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou.11 God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.12 Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.13 Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.

Wat kies jy?

Bron:  heuning.co.za 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.