Volgens die Catholic League for Religious and Civil Rights in Amerika het Lady Gaga, nes Madonna, Katoliek grootgeword en toe die spoor byster geraak.
“Ons hoop sy vind weer haar weg terug huis toe, maar in die tussentyd sal Katolieke daarmee verlief moet neem dat sy ons soos Moslems hanteer,” sê die liga.
Die snit Judas is verlede week uitgereik en die video word nog dié naweek verwag.
Lady Gaga sing onder meer: “In the most Biblical sense I am beyond repentance; Fame hooker, prostitute wench, vomits her mind.
“Jesus is my virtue, and Judas is the demon I cling to; I’m just a holy fool; oh baby he’s so cruel but I’m still in love with Judas, baby.”
Volgens gerugte sal Gaga (25) in die musiekvideo glo ’n Gotiese weergawe van Maria Magdalena vertolk; in ’n pikswart gewaad en met donker grimering.
Die akteur Norman Reedus van The Boondock Saints-faam sal glo Judas wees.
Volgens mnr. Bill Donohue, woordvoerder van die Catholic League for Religious and Civil Rights, probeer Gaga Christene – en veral Katolieke – skok.
Hy glo ook nie dis blote toeval dat die video in die Paastyd uitgereik word nie.
“Sy trek soos ’n non aan… sy sluk ’n bidsnoer (in die musiekvideo vir Alejandro)… Sy probeer Christen-aanbidding gebruik om haar talentlose, banale en vervelige optredes op te kikker,” het hy aan Hollywoodlife.com gesê.
In ’n onlangse YouTube-dagboekopname kan mens sien hoe Mama Monster, soos Gaga onder haar aanhangers bekend staan, met ’n betoger by een van haar optredes stry kry.
Dié betoger deel “get out of hell free”-kaartjies uit wanneer Gaga in haar motor by hom stilhou.
Sy sê ewe vriendelik: “Haai, ek is Lady Gaga” en vra dan om te hoor wat hy te sê het, want mense by haar optredes glo regtig in God.
Die man wys haar dan op haar “perverse” en “homoseksuele” maniere.
Gaga probeer verduidelik deur te sê sy ken die Bybel en dat sy 13 jaar in ’n Katolieke skool was.
Daarop verklaar die man dat dít seker haar grootste probleem is:
“You got raised in a screwy religion.”
* Judas was die afgelope week reeds nommer tien op die Billboard Hot 100 en binne twee dae is 162 000 kopieë daarvan verkoop
Bron: rapport.co.za