Onmoontlike situasie: Josef* het sy vrou vergewe vir haar huweliksontrou en met self-opofferende liefde die baba wat uit die affair gebore is, as sy eie grootgemaak.
Jy kan nie verloor as jy liefde gee nie, het Juan Carlos Ortiz dit so raak gesê. Dawie*, ’n trotse ‘vader van vele’ se hart was gebreek deur die nuus dat sy blou-oog, ongetroude, studente-dogter swanger is. Hy het egter sy trane afgedroog en vir haar ’n wonderlike familietroue begin reël.
Selfs wanneer dit by my vyande kom, is daar ’n stukkie kinderlike wysheid van Nikka (6jr) “If you want to learn to love better, you should start with a friend who you hate.” God het deur Moses vir sy volk geleer: “Wanneer jy iemand wat jou haat, se donkie sien lê onder sy vrag, moet jy hom nie sonder hulp los nie; gaan help hom met sy vrag.” Eksodus 23:5.
Oorwin deur liefde:
Na die aanval op Pearl Harbour het Jacob DeSchazer met sy “Bat out of Hell” bomwerper ’n aanval op Nagoya in Japan gedoen, waarna hy in swaar mis verdwaal het en uiteindelik deur die Japannese gevang, en vir twee jaar gemartel en met die dood gedreig is. Een van die wagte het vir hom ’n Bybel gegee en in die drie weke wat hy dit tot sy beskikking gehad het, het hy dit ’n paar maal deurgelees en gedeeltes gememoriseer. Hy het op 8 Junie 1944 vir Jesus as Verlosser aangeneem en dadelik begin om Matteus 5:44 teenoor sy wagte uit te leef — hy het hulle soggens hartlik gegroet, vir hulle gebid en geleenthede gesoek om teenoor hulle te getuig. Hulle gesindheid teenoor hom het ook begin verander en sommige het begin om vir hom ekstra kos te gee.
Na die oorlog is DeShazer as sendeling terug Japan toe met sy boek “I was a prisoner of the Japanese.” Duisende het kom luister na die man wat sy vyande kon vergewe en liefhê. Hy het ’n kerk gestig in Nagoya, die stad wat hy voorheen bombardeer het.
Een bekeerling wat diep geraak was deur DeShazer se getuienis, was Mitshuo Fuchida, wat die aanvoerder was in die aanval op Pearl Harbour. Hy het self ’n evangelis geword, en ’n dierbare vriend en broer van DeShazer.
Hoe wonderlik bemoedigend is hierdie verhale van vergifnis en genesing nie! Karl Menninger se woorde is so waar:
Die liefde genees mense — dié wat dit ontvang, maar veral dié wat dit onvoorwaardelik gee.
* name is verander om identiteit te beskerm
Bron: ekerk