Oor die presiese tyd sê Jeus: Matt 24: 36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.
Jesus gee dan vir hulle ‘n hele aantal tekens waaraan mense kan sien dat die wederkoms op hande is. (Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
Luk 21: 10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”
Wat is die doel van die tekens?
• Dit moet ons herinner dat Jesus weer gaan kom.
• Dit moet ons waarsku om gereed te wees.
• Jesus vergelyk die frekwensie en hewigheid van die tekens met geboortepyne wat al hoe sterker word soos die tyd naderkom. Matt 24: 8Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. Dit moet ons in staat stel om die dringendheid van die tyd waarin ons leef te besef.
Ek wil vanaand op enkele van die tekens konsentreer en aansluit by Jesus se woorde in Luk 21: 25 – 26
Die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
God het die natuur met ‘n baie fyn balans geskep. Ons is baie vinnig besig om die balans te vernietig met katastrofiese gevolge.
A. Skade aan die Osoonlaag
Produkte soos yskaste, lugverkoelingsstelsels en spuitkannetjies het vir jare lank gebruik gemaak van ’n gas met die naam CFC as ’n dryfmiddel. Niemand het ooit daaraan gedink dat die gas skadelik vir die natuur is nie. Die gas word vrygestel elke keer as ons met ’n spuitkannetjie spuit of as ’n yskas of lugverkoelingstelsel se gas uitlek.
Dit het ongelukkig ’n nadelige uitwerking op die aarde. Rondom die aarde is ’n bekermende laag in die atmosfeer bekend as die osoonlaag wat ons teen skadelike bestraling van die son beskerm. CFC’s en lugbesoedeling beskadig die osoonlaag.
Wetenskaplikes beweer dat daar nou al ’n groot gat in die osoonlaag gevorm het bokant Antartika. Hierdie gat is al groter as Europa in oppervlakte
Wat is die gevolge vir ons?
• Skade aan plante. ’n Afname in oesopbrengste wat uiteindelik bydra tot ’n toename in voedseltekorte en hongersnode.
• Dit hou ook vir ons ’n gesondheidsrisiko in. Daar is ’n sigbare toename in Kanker, veral velkanker, maar ander tipes kankers neem ook vinnig toe.
o Is hier mense wat mense ken wat al met kanker gesukkel het?
o Is hier mense wat al geliefdes verloor het a.g.v. kanker?
o Kanker tref geen onderskeid tussen oud en jonk nie.
B. Lugbesoedeling
Ons lewensstyl plaas hoë druk om die omgewing. Fabrieke, Treine, Motors en vragmotors, Vliegtuie en skepe dra by tot lugbesoedeling. In plekke soos Tehran (soos baie plekke op die wêreld) is lugbesoedeling soms so erg dat mense maskers dra wanneer hulle op straat verskyn.
• Vliegtuie moet ons natuurlik glad nie vergeet nie. Jaarliks vind meer as 5 miljoen siviele vlugte en 2,800 militêre vlugte plaas. Hulle is verantwoordelik vir meer as 10% van die aardverwarming wat tans plaasvind. Wanneer hulle in die stratosfeer vlieg, veroorsaak hulle gasse minstens 30 keer meer aardverwarming as wanneer hulle laag vlieg. Dit is een van die grootste bydraende faktore tot die beskadiging van die osoonlaag.
Veldbrande en ander brande dra by tot die besoedeling van die lug.
• Mexico Stad word tans beskou as een van die plekke in die wêreld waar die meeste lugbesoedeling plaasvind. Sommige dae moet die mense hulle ligte in die dag aanskakel.
• Lugbesoedeling is nie ’n probleem wat ons maar ligtelik kan opneem nie. Die grafiek toon die toename in CO2 vlakke in die lug vir die tydperk 1960 tot 1995. Dit is nou veel erger.
• Die wolk bo die bome in Californa is nie ‘n wolk nie, maar giftige gasse (Suur mis)
•
Wat is die gevolge vir ons?
• Plante en geboue word beskadig deur suurreën
• Mense word siek. Die foto wys die longe van ’n nie-roker. Die swart dele is die roet wat hy ingeasem het.
• Ons leef op ’n planeet wat vinnig agteruitgaan. Almal dra by tot die vernietiging.
• Wie moet die verantwoordelikheid dra? Almal wys vinger na mekaar. Die Amerikaners blameer hulle koeie. Een koei produseer jaarliks 9 kg meer gas as ’n motor in dieselfde tydperk.
Die kweekhuis effek – Normaalweg (A) word hitte van die son en ander bronne in die ruimte uitgekaats. Met die toenemende hoeveelheid CO2 in die atmosfeer word die hitte vasgevang en teruggekaats grond toe(B). Die gevolg is dat temperature styg.
• Plante asem CO2 in en skep suurstof in die proses. Die mens is besig om natuurlike bosse en woude met enorme spoed te vernietig. Minder suurstof word gevorm. Die rooi dele op die satelietfoto wys ’n styging in temperatuur waar bosse vernietig is.
Koerantopskrifte wys vir ons hoe ernstig die probleem al is:
• VN Wetenskaplikes waarsku teen klimaatsveranderinge wat katastrofiese gevolge kan inhou:
o Die afgelope eeu het die aarde se oppervlakte temperatuur met 1.1°F (.6°C) gestyg.
o Hulle voorspel in 2001 dat die temperature met 11°F (5.8°C) in die volgende honderd jaar kan styg.
o Temperature het sedert 2001 alreeds drasties gestyg.
• Die Pentagon waarsku Bush: Klimaats veranderinge kan ons vernietig.
o Die bedreiging vir die wêreld is groter as terrorisme
o Klimaatsveranderinge oor die volgende 20 jaar kan ‘n wêreldwye katastrofe tot gevolg hê wat kan lei tot die verlies van miljoene lewens deur oorloë en natuurlike rampe.
• Rookbesoedelingverminder reënval oor Afrika
• Wetenskaplikes blameer besoedeling uit Noord-Amerika, Europa en Asië vir dodelike hongersnood in Afrika
Wat is besig om te gebeur?
• Die aarde is besig om te verwarm.
• Ys by die pole smelt. Normaalweg is die oppervlakte van die ysveld by die noordpool so groot soos die VSA. Vanjaar, sê wetenskaplikes, het dit so gekrimp dat daar minstens 2 Texasse ontbreek. Dit beteken ’n stuk in oppervlakte groter as Suid –Afrika is weg. Daar is minder ys wat die sonstrale weerkaats. Daar is minder ysberge wat wegbreek en help om die see se temeratuur laag te hou. Daar is meer seewater wat die son se temperatuur absorbeer. Volgens National Geographic begin dit nou 4 na 6 weke later sneeu by die noordpool en smelt die sneeu al 4 weke vroeër. Dit is ‘n 2 ½ maand verskil!
• Gletsers wat duisende jare oud is, is besig om te smelt. Die satelietfotos wys hoedat die Muir gletser oor ’n tydperk van 13 jaar met meer as 7 km gekrimp het.
• Ys en sneeu op berge smelt. Baie gebiede is afhanklik van hulle water vir die ys wat smelt. Hulle sukkel nou met droogtes.
• Soos die ys smelt by die pole, styg seevlakke en kom daar meer oorstromings.
Die satelietfoto wys hoedat see-temperature die afgelope tyd gestyg het. Die water was 3 grade F warmer as normaalweg vir dieselfde tyd van die jaar. Dit het katastrofiese gevolge.
Katrina:
Warmer toestande en die verdamping van die water dra by tot die ontstaan van reusagtige storms, bekend as orkane. Ons almal dra kennis van orkaan Katrina wat verlede maand soveel skade in die VSA veroorsaak het. Katrina was die elfde orkaan die seisoen. Hoe groot is die storm? Ons plaas dit in perspektief deur dit met Suid-Afrika te vergelyk. Die storm sou meer as die helfte van S.A. in beslag geneem het.
• Mense het in hulle honderde duisende vir hulle lewe gevlug toe hulle verneem die storm kom aan. Baie het langs die paaie sonder brandstof gaan staan. Hierdie vlugtelinge is meteens sonder blyplek, sonder kos, sonder werk en sonder inkomste.
• Die storm het al hoe groter en sterker geword soos dit nader aan die kus gekom het. Van bo-af lyk dit baie rustig. Die oog van die storm is sigbaar as die gat in die wolke. Onder op die aarde is dit ’n totaal ander prentjie. Katrina se wind waai met ’n spoed van 175 myl per uur. Die storm word as die mees verwoestende storm ooit in Amerika se geskiedenis beskryf. Geweldige oorstromings vind plaas. ‘n totale stad – New Orleans – sterf.
• Die storm kos die Amerikaanse ekonomie meer as $125 biljoen en die versekeringsektor moet meer as $60 biljoen opdok. Die vorige rekord was slegs $21 biljoen skade.
• Nie almal kon betyds vlug nie. Meer as 1,000 mense sterf – werklike syfers is nog onbekend.
• Die totale infrastruktuur is tot nuut – Die geweld van die storm het totale geboue geskuif. Ander is totaal vernietig. Paaie en brue is vernietig. Bote is soos speelgoed rondgegooi.
Rita:
Rita, is die 17e orkaan die seisoen. Rita word beskryf as die 3e sterste orkaan in Atlantiese geskiedenis. Die wind waai met ’n spoed van meer as 175 myl per uur = 280 km per uur. Katrina is nog vars in die geheue, en mense vlug met dit wat hulle kan dra. Die slag slaan meer as 3 miljoen mense op die vlug
• Sommiges het nie geld of middele om te vlug nie en moet maar die kans waag om agter te bly. Ander sterf van spanning en gebrek aan mediese hulp.
Statistieke:
• Wetenskaplikes sê dat Orkane word al hoe sterker en kom ook al hoe meer dikwels voor.
• ‘n Kategorie 4 storm het ‘n windsterkte van 131 tot 155 myl per uur. ‘n Kategorie 5 storm het ‘n windsterkte van 156 myl per uur en sterker.
• In die 1970’s was daar jaarliks ongeveer 11 orkane wat ‘n sterkte van 4 of 5 bereik het. Sedert 1990 staan die syfer op meer as 18 per jaar.
• In 1975 – 1989 is daar 171 orkane. In 1990 – 2004 is daar 269 orkane
• Waarom kry die orkane meesal vrouename? Die foto vertel alles. Elke jaar word 21 name gekies wat alfabeties toegeken word sodat dit om die beurt ’n mansnaam en dan ’n vrouenaam is. Vir vanjaar is daar nog net 4 name oor.
Orkane het nie net ’n invloed op land nie, maar ook op see: Wetenskaplikes het daarin geslaag om m.b.v. drukmeters wat op die seebodem in die golf van Mexico geinstaleer is, die hoogte van golwe te meet. Orkaan Ivan het golwe van meer as 90 voet hoog (27 meter) veroorsaak – dit is ongeveer so hoog soos ‘n 10 verdieping gebou.
• Hierdie storms is nie die enigste nie. Oor die res van die wêreld is daar ook storms waarvan ons nie op die nuus hoor nie. Japan se tifone is ook besig om in sterkte toe te neem en breek nuwe rekords.
C. Aardbewings
• Aardbewings is een van die tekens wat Jesus noem. Dit kan geweldige vernietiging veroorsaak.Die aarde bestaan uit verskeie plate wat teen mekaar druk, teen mekaar skuur en stamp en selfs oor mekaar beweeg. Elke beweging veroorsaak ’n aardbewing.
Ek wil met julle oor een aardbewing gesels, die van 26 Desember verlede jaar wat die Tsunami tot gevolg gehad het. Hierdie aardbewing het ’n groter effek gehad as wat ons kan dink.
• Hele dorpe is uitgewis, Gesinne is vernietig. Meer as 300,000 menselewens is vernietig.
Die dood en vernietiging wat gevolg het op die 26 Desember 2004 Tsunami oortref alle vorige Tsunamis in alle opsigte, maar dit is nie al nie ..
• Hierdie aardbewing was so hewig dat dit die aarde se vorm, orientasie en spoed verander het!
• Wetenskaplikes het bevind dat hierdie aardbewing die noordpool met 2.5 cm geskuif het in ’n oostelike rigting. Dit sal seisoene en klimaat op plekke beïnvloed. Sterre is nou ook a.g.v. die nuwe helling van die aarde op ’n ander posisie as ons daarna kyk..
o Die aardbewing het die aarde se vorm effens verander. Die aarde is nie presies rond nie, maar het ’n ovaal vorm. Dit is platter op die pole. Na die aardbewing is die sye effens meer ingetrek met die gevolg dat die aarde nou ronder is
o Die nuwe vorm het die aarde se draaispoed beinvloed en dit draai nou vinniger as voorheen. Die lengte van ’n dag is nou 2.68 mikrosekondes minder as voorheen. ’n Mikrosekonde is een miljoenste van ’n sekonde.
Ek kan nie anders as om aan Jesus se woorde te dink nie:
Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre
• Aardbewings is aan die toeneem in frekwensie en erns. In 2005 het daar al 9 aardbewings plaasgevind wat sterker as 7 op die rigterskaal gemeet het.
• Ons dra egter net kennis van party aardbewings. Raai hoeveel aardbewings het die afgelope 30 dae plaasgevind? 1,102. Tans word daar ongeveer 50 aardbewings per dag aangeteken.
Jesus sê in Matt 24: 8Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.
Ek is oortuig dat gewens hierbo duidelik wys dat die frekwensie en hewigheid van die tekens soos met geboortepyne al hoe sterker word soos die tyd van Jesus se wederkoms naderkom.
Jesus se wederkoms is voor die deur!
Jesus sê: As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby . Lukas 21: 28
My vriend, ek wil jou aanmoedig: Moenie wag tot daar ‘n krisis is voor jy met God praat nie!
Die doel van die tekens:
• Dit is nie om ons te straf nie.
• Dit is nie om ons bang te maak nie.
• Dit moet ons herinner dat Jesus weer gaan kom.
• Hierdie tekens neem in frekwensie toe en raak al hoe hewiger / ernstiger.Dit moet ons in staat stel om die dringendheid van die tyd waarin ons leef te besef.
• Dit moet ons waarsku om gereed te wees.
Is jy gereed?
Eendag (dalk binnekort) gaan jy voor God staan om rekenskap van jou lewe te gee. Aan die toename in die tekens kan ons sien dat die tyd min raak.Is jy reg om voor God te staan?
• God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
– Joh. 3:17
God gee jou die genade om nou reg te maak.!
Moenie uitstel nie, dit mag dalk te laat wees!
Kontak my gerus as jy behoefte het aan ‘n gesprek :
Johan van As
Sel 083 7072 952
Epos: jvanas@dinamix.co.za
Die kennis kan vir iemand dalk die verskil beteken
tussen die ewige dood en die ewige lewe!
Bron: ngkerk wonderboom suid.