Eenvoudiger

’n Eenvoudiger lewensritmes het te make met ’n paar lewensbelangrike feite:

 

  • God is stil–tevrede met my! ’n Eenvoudiger lewe begin met die wete dat God stil–tevrede is met my (Sefanja 3:17). Dit laat my bang hart tot bedaring kom. Ek weet ek behoort aan Hom omdat ek Christus as Here ken. Niks kan my uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:28–30).

  • My lewensstandaard is nie sinoniem met my inkomste nie. Ek meet nie my lewe se waarde aan die somtotaal van my besittings nie. My lewe het ewige waarde. Daarom is ek nie verslaaf aan geld, of aan al daardie dinge wat maak dat mense verval in verbruikers wat heeltyd nog dinge wil hê nie. Ek vind my vreugde in verhoudings en leef juis elke dag in pas met mense sodat ek vir hulle ook tot seën kan wees.

  • Ek hoef nie alles vir almal te wees nie. Ek is nie geroep om almal tevrede te stel, of heeltyd op te leef aan ander se verwagtings van myself nie. Heel eerste is ek hier om God se hart bly te maak. Dan moet ek ook vir my familie en vriende tot seën wees en mense dien met die goeie nuus van Christus. Ook moet ek my daaglikse brood verdien met integriteit en deur harde werk; egter sonder om ooit ’n werkverslaafde te wees.


Een dag op ’n slag. ’n Eenvoudiger lewensritme maak dat ek elke dag wat die naam “vandag” dra voluit opleef. Ek koop vandag se stukkie tyd uit en oefen my daarin om God te vertrou met die dag van môre, soos wat Jesus my leer in Matteus 6:25–33.

Bron:ekerk.org