Ons kan nie op mense staatmaak vir hulp of raad of beskerming nie, want mense verander van plan, mense is onbetroubaar, mense doen nie wat hulle belowe het nie, mense blaas so maklik hulle asem uit (so sê die Bybel in Jes. 2:22).
Al wat werklik vas en seker is, is dat God bestaan en dat Sy liefde vir my en jou onwankelbaar en oneindig is – is DIT genoeg vir jou? “Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar My liefde vir jou sal nooit ophou nie… dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee” (Jes. 54:10)
Miga 6:6 vra: “Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?” Ek het toe ook gewonder wat ek Hom kan aanbied. Ek weet die Here sê hy soek nie my goeters as ’n offer nie. Die offer wat Hy vra is lof (Ps. 50:4), gehoorsaamheid (Ps. 40:7), verootmoediging (Ps. 51:19), barmhartigheid (Matt. 9:13), regverdigheid, liefde, trou en bedagsaamheid (Miga 6:8). Ek glo die offer wat Hy eintlik van my wil hê is myself, my lewe, my hele ek – en dis wat ek vandag opnuut weer op Sy altaar kom aanbied. “Gee julleself as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1)
Bron: heuning.co.za