En die aarde draai steeds

“Hoe laat gebeur dit dan?” het ’n SMS gelui wat Coetzee teen 15:30 ontvang het.
“Jy moet ’n gat gaan grawe en daarin spring,” het ’n kwaai stemboodskap geskel.

Wêreldwyd het groepies mense gister gewag op die vervulling van die Amerikaanse evangelis Harold Camping se voorspelling dat 21 Mei 2011 die datum van die wegraping is. Coetzee se groep het ’n hele hotel in Braamfontein bespreek. Maar teen laatmiddag was 21 Mei al verby in Nieu-Seeland en steeds het hulle gewag. Sommige ontnugterdes het opgepak en gewaai. Ander het opgehou bid en rugby gekyk.

’n Kerngroep het in die hotelfoyer deur voosgeblaaide Bybels gesoek na leidrade vir hoekom die wegraping so draal.Coetzee se twee seuns, Johan (22) en Joubert (21), het in hul kamer na die Bybel op hul selfone geluister en pizza as laaste maaltyd geëet, maar later ook vir die versoeking geswig en van die godsdiensprogram op hul TV na die SuperRugby oorgeskakel, hoewel hulle die klank af gelos het.
 

En wat dan as hulle môre weer op die ondermaanse wakker word?
 

“Dan sal ons geloof net sterker wees,” het Joubert gesê.

Coetzee wou nie juis oor 22 Mei 2011 praat nie, maar het uiteindelik in ’n sagte stem vertel. “Daar is baie mense wat bang is vir die skaamte wat hulle sal voel as ons interpretasie verkeerd is. Daar is baie spotters. 
“Maar as dit nie uitwerk soos ons gesê het nie, sal ons terugkeer na die Bybel en weer gaan kyk. Ons sal nooit die Bybel afsweer nie.”

***
21 Mei 2011 is deur die Amerikaanse evangelis en president van Family Radio, mnr. Harold Camping (89), tot die dag van die wegraping verklaar. 
’n Vorige keer het Camping die dag verkeerdelik voorspel as 6 September 1994.
Gister was dit volgens sy berekening presies 7 000 jaar ná die Bybelse Sondvloed – en dus die oordeelsdag. Hy het op 21 Mei 2011 besluit deur die Hebreeuse en die hedendaagse kalenders te sinchroniseer. 
Hy het sy eindtyd-boodskap wêreldwyd versprei deur Family Radio, wat in 70 tale uitsaai en glo 151 miljoen luisteraars sterk is. 
Drie miljoen pamflette is uitgedeel en 12 000 advertensieborde is langs besige snelweë oor die wêreld heen aangebring.
Buite die Devonshire-hotel in Braamfontein, waar Suid-Afrikaanse aanhangers van die wegraping-kultus saamgetrek het om op die eindtyd te wag, het hulle vir oulaas mense op straat probeer oortuig om by hulle aan te sluit. 
In verskeie lande het mense Vrydagaand “einde van die wêreld”-partytjies gehou – net vir ingeval?…
Op Facebook is honderde groepe gestig oor die sogenaamde wegraping. 
Een groep, Eternal Earth-Bound Pets, het aangebied om kultuslede se troeteldiere te versorg – teen vooraf-betaling. “Ons sal intree om die diere te versorg as julle uittree na Jesus.”
Van die kommentaar gister was: “Alles verloop sover goed in Australië”, “In Rusland is die 21ste al amper verby!” en “Sondag gaan ons almal lag vir dié nonsens!”.
Op Twitter het mense ’n lys liedjies gekies om die wegraping voor te stel.
R.E.M se It’s the End of the World As We Know It, Till the World Ends van Britney Spears, Bat Out of Hell van Meatloaf en Elevation van U2 is van die gunstelinge.
Verder het mense hul sondes verklaar en geheime verklap.
 

***

“Julle mors julle tyd met dié onderhoud – jul koerant gaan nie (vandag, Sondag 22 Mei) die lig sien nie.”
So het mnr. Johannes Coetzee (53), ’n leier onder Suid-Afrikaners wat verkondig het dat hulle gister deur God “weggeraap” sou word, Donderdagaand aan Rapport gesê.
Rapport het met Coetzee in die Devon­shire-hotel in Braamfontein, Johannesburg, gesels waar hy en van sy volgelinge saamgetrek het om in hul hotelkamers te wag op die apokaliptiese aardbewings wat volgens hulle teen sononder gisteraand sou plaasvind – en die “eindtyd” sou inlui.

Terselfdertyd sou hulle uit die kamers “weggeraap” word na hul Utopia.
Oor sy nuwe roem sê Coetzee: “Ek is nie ’n evangelis nie, ek is net ’n doodgewone dude!” Hy glo hy is deel van “God se eiendomsvolk – die Christelike wedergeborenes deur God. Die kerk is nie die eienaars van wedergeboorte nie.”
Hy en sy volgelinge het drie miljoen pamflette oor die hele land heen uitgedeel en meer as 20 advertensieborde is aangebring om die wegraping op 21 Mei 2011 te verkondig. 
“Die Christene is die grootste spotters.” Hy is al “koekoes” genoem en met opgefrommelde pamflette gegooi.

Coetzee sê sy medegelowiges het al hul aardse besittings verkoop om te betaal vir dié bewusmakingsveldtog, “maar dit is nie mega bucks nie”. Een “ou tannie” het R15?000 in net drie maande geskenk. 
En iemand het vir Coetzee gevra of hy sy kar kan kry as hy weggeraap word. 
“Hy is welkom, as hy dit onder die rubble kan uitkry!”

Coetzee was voorheen ’n stadsbeplanner van Nelspruit. 
“Ek het nou ’n aanstelling om die nuwe Jerusalem te beplan,” skerts hy.

Hy vertel hy was ’n konserwatiewe NG-lidmaat toe hy een aand op Stilbaai na Radio Kansel wou luister en per abuis op die Amerikaanse evangelistiese diens Family Radio afgekom het. “Net daar het my lewe verander. Ek is voorheen om die bos gelei deur teoloë.”

Coetzee was nie van plan om gister in sy hotelkamer in Braamfontein op TV te kyk hoe die einde naderkom in die gedaante van ’n reeks aardbewings nie. 
“Ek wil nie kyk hoe hulle (die nie-gelowiges) soos rotte hardloop nie.”
Sy volgelinge het gister hul gewaande “laaste ure” saam met hul families in gebed deurgebring.

Ná gister se verwagte wegraping sou “grafte oopbreek, dooies sou lewend word en die beendere na die oppervlak kom” sodat gelowiges “in hemelse liggame kan opgaan”.
“Die res sal net sterf, want daar is nie ’n hel nie. Die loon van sonde is dood.”

Bron:  rapport.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.