Gen. 25:19-34
Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham: Abraham was Isak se pa, en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, ‘n Arameër uit Paddan-Aram, en ‘n suster van Laban die Arameër. Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword. Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg, en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.” Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos ‘n veljas, en hy is Esau genoem. Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is. Die seuns het grootgeword. Esau was ‘n ervare jagter, ‘n man van die veld; Jakob was ‘n rustige mens, hy het tuis gebly. Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek. Op ‘n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!” Daarom is hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.” Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?” Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met ‘n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.” Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.
’n Vreemde verhaal wat hom hier afspeel tussen twee broers (’n tweeling), wat hemelsbreed van mekaar verskil. Jakob, sy ma se kind, wat rustig by die huis bly en iets lekker maak om te eet; Esau, sy pa se oogappel wat ’n man van die veld was. Esau kom moeg uit die veld uit, bruingebrand en gespierd. Dit klink amper of hy soos Hagar die verskriklike gelyk het. Maar in een onbesonne oomblik gooi hy sy reg as eersgeborene weg vir een enkele ete. “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene” (vers 34). Storm in, eet hom dik, slaan selfvoldaan op sy maag en stap uit en gaan lê dalk op sy kooi. Hy het ingestap met die reg as eersgeborene, honger. Hy stap uit – lekker geëet, maar verloor iets geweldig kosbaar.
Die eersgeborene was nie sommer ’n hierjy storie nie. Hy sou ⅔ van alles van sy pa erf en ook die familie se beheer en bestuur oorneem. Na die pa se afsterwe neem die oudste seun die leiding van die groep oor. Maar jy sien, mens kyk altyd in die voordele vas, maar daar is ’n ander kant en dit is die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. ’n Leier se werk is nie ’n maklike werk nie. Alles wat die pa tot hiertoe reggekry het, land alles op die skouers van die oudste.
Mens kan aflei dat Esau al die kwaliteite van ’n goeie leier gehad het. Hy was ’n veld-ou, besig, hardwerkend, bietjie impulsief. Hy kon gesag afgedwing met sy rowwe voorkoms. Sy manlikheid was vir sy pa ’n sieraad en sy pa het hom as ’n gebore leier gesien. Jakob word so half as ‘n “softie” uitgebeeld, mamma se seuntjie wat by die huis gebly het en deur sy ma voorgetrek is. Hy was dalk meer berekenend en versigtig, konserwatief in sy uitkyk en het meer langtermyn gedink as om alles net te doen en klaar te kry. Jakob was net enkele minute jonger as Esau en net hierdie enkele minute het hom weggehou van die voordele van die eersgeborene se regte. Was hy ’n sluwe ou? So ’n onder-draai-die-duiwel-rond-karakter? ’n Rukkie later sou hy deelneem aan sy ma se bedrog om sy pa se seën te kry. Sy ma het ’n bokvelletjie vasgemaak aan sy arms sodat sy pa sou dink dis die harige Esau. Toe kom hy met die truuk wat eiendomsagente vandag nog gebruik. Hulle sê mos jy moet uie braai in jou kombuis wanneer voornemende kopers kom huis kyk. Daai lekker huislike reuk beïnvloed hulle dalk! Toe slaan Jakob vir Esau op daai een sagte plekkie waar hy uiters kwesbaar is. Die pad na ’n man se hart loop hoeka deur sy maag!
Nou kom ons by ’n vreemde vraag:
Gen. 25:22-23
Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg, en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.”
Vóór hulle geboorte het die Here vir Rebekka gesê: “Die oudste sal die jongste dien”. Dis vir my baie vreemd, want hier lyk dit of Esau die slagoffer is van God se plan. Hoekom op aarde is Jakob dan nie eerste gebore nie? Dis tog moontlik vir God, of hoe? Of het Esau anders uitgedraai in sy lewe as wat God se plan vir hom as leier was? Hoekom dink ek so onwillekeurig aan Judas Iskariot? Judas het sy saligheid vir 30 muntstukke verruil en Esau sy reg as eersgeborene vir ’n pot sop.
Mal 1:2-3
Ek het julle lief, sê die Here. Maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat. Ek het sy bergland ‘n verlate plek gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee.
Sjoe, dis harde woorde! Hoekom sou die Here vir Esau haat? Dit lyk so half of God nie vir Esau uitverkies het nie, want twee groot insidente vind plaas om Esau met Jakob te vervang. Eers die pot sop-episode, waar Esau willens en wetens afstand doen van ’n reuse nalatenskap en dan later waar Isak bedrieg word, sodat hy vir Jakob die familie-seën gee. Toe Isak agterkom wat gebeur het, moes hy vir Esau sê: “Ek het nie nog ’n seën vir jou nie”. Jitte, ek wonder so by myself of God hierdie ding ge-orkestreer het, of Hy dit net toegelaat het en of dit totaal uit Sy hande was.
Vir my gaan een van die lesse uit hierdie stuk geskiedenis oor keuses. Hoe lyk ons keuses as daai pot lensiesop voor ons neergesit word? Hoeveel is mense nie bereid om prys te gee vir die lekkerte wat gewoonlik van korte duur is nie. Wat is my en jou prys? Die slim mens sê elke mens het ’n prys, ’n “soft spot”, ’n Achilles heel, waar jy maklik uitgehaal word as daar ’n draaibal kom. Esau se hele toekoms, en dié van sy nageslag, is in die gedrang gebring deur die een swak besluit wat hy neem toe hy kwesbaar was. Ek glo elkeen van ons het ’n stuk Esau in ons waarmee ons verkeerde besluite maak in ’n oomblik van swakheid. Esau se swak plek was sy hongerte – dit lyk so onskuldig – maar hy het nie aan die konsekwensies gedink nie. Party mense se swak plek is geld, waar ’n oomblik se “quick buck” bankrotskap teweegbring. Party mense se kortstondige genot wanneer oor die draad gespring word na die skelmpie, maak dat daardie persoon eendag alleen oud word. Sommige se “pot lensiesop” kom in die vorm van ’n drankbottel, wat maak dat jy te gou sterf weens jou liggaam wat inkonk, om dan ook niemand langs jou bed te hê in jou alleentyd nie. ’n Paar honderd rand word gegaps by die werk, in ruil vir jare in die tronk. Esau se woorde was: “Ek gaan tog sterf, wat baat dit my om die eersgeborene te wees”? Vriend, ek glo nie Esau was ’n “victim” van God se planne nie. God het geweet hoe Esau gaan kies. Net so min is ek en jy slagoffers van God se planne. Daarom werk hierdie verskoning van: “so gemaak en so laat staan” nie.
Vandag se keuse kan ’n leeftyd se invloed vir jou hê. Kom ons dink voor ons doen.
Bron: heuning.co.za