God wéét wat die waarheid is

 

John Patrick Shanley se fiktiewe verhoogstuk, Doubt: A Parable, wat met die Pulitzer Prys bekroon is en ook as ‘n film verwerk en (in 2008 saam met Scott Rudin) uitgereik is, beeld iets uit van die penarie waarin mense verkeer en die emosies wat mense ervaar wanneer hulle met verdagmakery of halwe en onwaarhede te na gekom word. Presies waar dit sy oorsprong het, is onseker, maar die impak van ‘n “het-jy-gehoor?-storie” word seker ten beste geïllustreer met die vertelling van die vrou wat by ‘n klein dorpie se priester met so ‘n brokkie nuus aangekom het. Die priester het die vrou – wat met hoenders geboer en eiers verkoop het – gevra om vir hom ‘n sakkie vol vere te gaan haal.

Toe sy daarmee by hom aankom, het hy haar gevra om ‘n veertjie op elkeen van haar vriendinne met wie sy reeds dié nuusbrokkie gedeel het se stoeptrappies neer te sit en dan na hom toe terug te kom. Nadat sy so gemaak het, het hy haar gevra om dit gou-gou te gaan haal en dit na hom toe terug te bring. Omdat die wind die meeste daarvan na ander plekke toe gewaai het, kon sy nie al die vere wat sy versprei het terugkry nie. Sy het van berou in trane uitgebars toe sy besef dat sy beheer oor haar weergawe van dinge verloor het en ‘n medemens onberekenbare skade aangerig het.
 

Dis jammer dat net te veel mense vir ander mense vere voel. Alhoewel dit so is dat God ons in die waarheid lei (Ps 23:3; Joh 16:13), het party van ons soos oud-koning Dawid ‘n Natan nodig om ons te help om tot insig te kom (2 Sam 12:1-13). Daar is ook mense wat waarskynlik nooit die impak van hulle optrede op ander sal besef nie (Ps 73:11; Spr 21:12). Ons is mos maar geneig om op ánder se foute te fokus en dit selfs uit te vis, maar ons is en bly blind vir ons eie (Matt 7:3-5). Die wysheid dat iemand wat sy oë vir die waarheid sluit smart veroorsaak en hulle wat aanhou om onwaarhede te versprei self tot ’n val kom (Spr 10:10), word duidelik nie deur almal ter harte geneem nie.
 

Om by die waarheid, wysheid, selfbeheersing en insig te hou (Spr 23:23), is een van die maniere waarop ons valse persepsies oor ons kan doodleef. Deur by die waarheid te bly styg ons nie net bo valshede uit nie, maar groei ons na Christus toe (Ef 4:15). God – sê Sofar aan Job – kén skynheilige mense en sien die sonde raak sonder nader ondersoek (Job 11:11). As jy jou verstand gebruik en na aan God leef, kán jy “jou kop sonder skaamte oplig en in die nood kom sonder om bang te wees, kan jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het” (Job 11:15). Dit voel dalk aanvanklik na skrale troos, maar God wéét wat die waarheid is en om by Hom tuis te kom en uit sy goedheid en liefde te leef (Ps 23:6) is tóg belangriker as ander se opinie oor jou, of hoe?
 

Mag die geloof dat God alles van jou weet vir jou genoeg wees (Ps 139). Mag jy bó wanpersepsies oor jou uitstyg. En mag jy ander mense teen valse gerugte oor hulle beskerm en die waarheid oor hulle praat en laat bekendword.

Bron:  ekerk 

 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.