In Galasiërs 3:28 lees ons byvoorbeeld: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: In Christus Jesus is julle almal een.”
In Johannes 13:34 sê Jesus: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos ek julle liefhet moet julle mekaar ook liefhê.”
Voorts lees ons in Mattheus 7:12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”
Wit Suid-Afrikaners moet nooit passief reageer teenoor rassistiese aanmerkings of geweld wat teen hulle gerig word nie.
Die rekord van my eie organisasie, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, toon self ’n geskiedenis van beginselvaste teenkanting teen alle rassistiese beleidsrigtings.
Ons het inderdaad verlede jaar ’n verslag uitgereik waarin ons sê dat wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) geskrap moet word.
Ons standpunt oor SEB veroorsaak dat ons dikwels as ’n uiters konserwatiewe dinkskrum bestempel word in terme van ons ekonomiese beleid, maar ek het geen probleem daarmee nie.
Die punt is daar is ’n groot verskil tussen standpunte ten gunste van konserwatiewe ekonomiese beleid en neerhalende stellings en idees oor swart mense.
Die betekenis van my oorspronklike skrywe verlede jaar word weerspieël in Mattheus 7:3-5: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”
Dus, as wit Suid-Afrikaners swart rassisme (wat erger word) wil beveg, moet die wit gemeenskap verseker dat hy nie aktief of passief toelaat dat regses in sy midde dieselfde soort rassistiese uitsprake verkondig nie.
Dit is goed dié rubriek verskyn op ’n Sondag, want dit is die regte dag om oor my finale punt te dink: Wit rassiste impliseer met hul neerhalende aanmerkings en idees dat God ’n fout gemaak het toe hy swart mense geskape het.
Hulle sinspeel daarop God is verkeerd en hulle reg.
Ek raai hulle aan om vandag eerder stil te word en na te dink oor 1 Johannes 2:9, wat lui: “As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis.”
Bron: rapport.co.za NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.