Hy het ook sy pos as leraar aan die NG gemeente Tamboerskloof verlaat ná ’n tugondersoek, onder meer oor bewerings dat me. Hermien de Klerk, voormalige skoondogter van oudpres. FW de Klerk, in sy pastorie oornag het.
Hy het hom sowat drie jaar gelede by Renaissance, ’n onafhanklike kerk met gemeentes in Kaapstad en Pretoria, aangesluit.
Dr. Abel Pienaar, een van Renaissance se Pretoriase leraars, het Donderdag in ’n e-pos aan gemeentelede aangekondig ’n vergadering tussen Jordaan en sy kollegas kon nie versoening bewerkstellig nie.
Aan Rapport het Pienaar gesê hul verhouding sukkel al drie jaar.
“Ons wil ’n verskeidenheid stemme huisves, maar Terblanche skop vas. Hy wil al die dienste self doen. Hy laat nie die musikante optree nie, maar bring sy eie iPod saam – só word dit ’n Terblanche-show eerder as ’n spanpoging.”
Volgens Pienaar was daar ook spanning oor geldsake. Renaissance word as ’n nie-winsgewende organisasie bedryf met een bankrekening in Pretoria. Jordaan het glo op hulle druk uitgeoefen dat hy nog ’n rekening wou oopmaak.
Pienaar was glo ook ontevrede toe hy die Kaapse gemeente besoek en gesien het twee kollektes word opgeneem, waarvan net een glo na Renaissance se rekening gaan.
Nadat Jordaan Donderdag sy uittrede aangekondig het, het hy die gemeente laat weet hy het ’n ooreenkoms bereik met die
eienaars van die gebou waarin hulle vergader. Hy sal self voortaan Sondae in dié gebou onafhanklike byeenkomste hou.
Nou soek Renaissance Kaapstad na ’n nuwe kerkgebou.
Jordaan ontken dat hy die kerk se ander leraars probeer oorskadu het. Hy het Rapport verwys na Renaissance se preekrooster, waarop hy tot vroeg volgende jaar geskeduleer is om minder as elke tweede Sondag te preek.
“Die besluit dat musikante nie op Sondae wat ek preek speel nie, was ’n besluit van die dagbestuur van Renaissance Kaapstad, nie myne nie. Dit gaan uitsluitlik oor kostebesparing.”
Hy ontken dat hy ’n probleem met die kerk se enkele bankrekening in Pretoria gehad het.
Daar was wel by geleentheid twee kollekteborde in die kerk, maar die tweede een was glo net sodat mense ’n donasie vir tee en koffie kon maak.
Bron: http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Kerk-se-Terblanche-show-een-te-veel-20110910