Daarbenewens het prof. Francis Collins, een van Amerika se beroemdste wetenskaplikes en ’n evangelistiese Christen, hom geskaar by Christene wat meen die wetenskap het bewys Adam en Eva kon nie letterlik bestaan het nie. Volgens Collins maak die studie van die variasie in die menslike genepoel dit duidelik moderne mense stam af van ’n groep van 10?000 voorsate wat sowat 150?000 jaar gelede geleef het.
Veel meer as net Adam en Eva, dus.
National Public Radio in die VSA het die storie opgetel en sedertdien woed ’n onverwagse gesprek in dié land, waar peilings toon vier uit elke tien mense glo nog Adam en Eva was historiese figure wat 6 000 jaar gelede geleef het.
Eerw. Albert Mohler, hoof van die invloedryke Southern Baptist Theological Seminary, wat nog ’n konserwatiewe lees van die Skeppingsverhaal voorstaan, het selfs einde verlede maand op sy blog geskryf dié nuwe tendense bedreig die evangelie.
Daarenteen sê prof. John Schneider, voormalige teologieprofessor uit Michigan, aan Christianity Today die behoudende strome van Protestantisme is op die rand van ’n krisis solank dit vasklou aan ’n letterlike verstaan van Eden en die sondeval, iets waarvoor geen bewyse bestaan nie.
Volgens dr. Jurie van den Heever, Stellenbosse paleontoloog, toon dié skuiwende denke in evangelistiese kringe in die VSA, maar ook in Suid-Afrika, kreasioniste is in ’n hoek gedryf.
“Hul aansprake word deur hoofstroomteoloë verwerp. Waar hulle kreasionisme in skole ingekry het, het hofsake gevolg wat hulle op ’n streep verloor het. Alles in die teologie, paleontologie en sterrekunde weerspreek hul stories.
“Jy kan nie ’n bevolking van 7 miljard mense uit net twee mense teel nie.”
Prof. Hendrik Bosman, Ou-Testamentikus, meen egter dié nuwe tendens kan tydelik wees.
“Vir my lyk dit asof daar ’n pendulumbeweging in die houding teenoor kreasionisme, evolusie en die historisiteit van Adam bestaan … Wat die laaste paar maande gebeur het, het al in die verlede ook afgespeel sonder om vaste veranderings tot gevolg te hê.”
Bron: http://www.rapport.co.za/Wereld/Nuus/Figuurlike-Genesis-wen-veld-onder-Christene-in-VSA-20110910