Onder hulle is leiers in die Anglikaanse Kerk soos emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en aartsbiskop Thabo Makgoba; leiers in die VGK soos prof. Thias Kgatla en prof. Nico Koopman; die Katolieke kardinaal Wilfred Napier en ’n paar NG teoloë.
Die dokument, “Theological Reflections on the 2012 Centenary Celebrations of the ANC”, is op 8 Februarie aan die ANC oorhandig.
Einde verlede maand het Arrison en ander koördineerders van die projek weer met ANC-leiers vergader op die vooraand van ’n vergadering van dié party se nasionale uitvoerende komitee.
Volgens Arrison het hulle op die vergadering veral vier kwessies onder die ANC se aandag gebring:
* Die verval van waardes in die regerende party;
* Die wyse waarop onderwys afgeskeep word;
* Kommer oor die land se energiebeleid; en
* ’n Versoek dat die ANC aan sekere internasionale aangeleenthede, en spesifiek die Palestynse kwessie, aandag moet gee.
In die brief word ook talle ander klagtes onder die ANC se aandag gebring, waaronder die wyse waarop die ANC sekere kerke in hul verkiesingsveldtogte voortrek.
Hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, is dit skynbaar ’n verwysing na pres. Jacob Zuma wat in die aanloop tot die vorige verkiesing kerke soos Johannesburg se Rhema-kerk besoek het om steun te werf. Kort daarna is Rhema se leier, past. Ray McCauley, aangestel in ’n forum wat Zuma oor geloofsake moet adviseer.
“Dié onlangse verwikkeling oor belonings vir diegene wat die ANC ondersteun, veral tydens verkiesings, kom naby aan ’n soort staatsteologie waar kerkleiers ’n politieke party eerder as die mense dien. Die profetiese stem word op die altaar van die party geoffer en verander kerkleiers in onkritiese lofsangers van die party,” lui die brief.
Bron: http://afrikaans.news24.com/Suid-Afrika/Nuus/Kerkleiers-wil-ANC-leiding-gee-20120408