Om werklik die pad van die liefde te loop, is ‘n aanhoudende proses van fokus op God en op sy liefde vir jou. En omdat ons mense is en ons soms fokus sal verloor, kan ons aanvaar dat ons soms in die liefde sal faal, soms sal droogmaak en soms skaam sal wees oor ons liefdeloosheid. As liefde die belangrikste ding in ons lewens is, sal ons sulke tye gou besef dat ons afgedwaal het en sal ons vinnig weer die suiwer pad loop. En so, met ons hand in ons Vader s’n, sal ons die pad van liefde wel enduit kan loop.
Maak elke dag ‘n liefdesdag: ‘n dag waarin jy moeite doen om weer in die Skrif te delf op soek na die wysheid van die liefde en waarin jy probeer om meer daarvan uit te deel. Kyk anders na die mense om jou. Probeer hulle sien soos Christus hulle kan maak en leef dan teenoor hulle asof hulle dit reeds is.
Vader, u Woord sê vir ons dat die liefde alles kan oorwin en dat dit die heel belangrikste ding is wat ons ook kan doen. Daarom wil ek so graag elke dag in die kuns van goddelike liefde groei. Ek wil by U – die Meester van die Liefde – leer en saam met U elke tree van my pad gee. Sal U my asseblief vooruitgaan, Here en my dan tree vir tree die geheim van ware liefde wys.